Skip to main content
31st Jac van der Merwe Competition for Innovation
Image by: Carla Nel

Foto: (van links na regs) Karl Prins, Jarrod van der Poll, Johan le Roux, Emma McNab, Kerryn-Lee Heunis en Gerhard Hattingh.

Ingenieurswese en tegnologie

Fakulteit Ingenieurswese vier innovasie by die 31ste Jac van der Merwe-kompetisie

Faculty of Engineering
09 Desember 2025
  • Gerhard Hattingh word as wenner van die 31ste Jac van der Merwe-kompetisie aangewys.
  • Studente toon baanbrekerswerk by die Jac van der Merwe-kompetisie.

Die Fakulteit Ingenieurswese is trots om Mnr Gerhard Hattingh, ʼn finalejaarstudent in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, geluk te wens as wenner van die 31ste Jac van der Merwe-kompetisie vir Innovasie. Sy projek, Design and Implementation of an Off-Grid Communication System for Messaging and Location Sharing, bied ʼn praktiese oplossing vir kommunikasie in gebiede waar daar geen netwerksein is nie. Onder leiding van sy studieleier, Prof Rensu Theart, het Gerhard sy tegniese vaardigheid en vernuf in probleemoplossing duidelik getoon – eienskappe wat hom vanjaar die hoogste eer besorg het.

Die naaswenner, Mnr Karl Prins (Meganiese Ingenieurswese), het die beoordelaars beïndruk met sy Finite Element Method Solver for Electromechanical Analysis, onder studieleiding van Prof Matthys Botha. ʼn Derde plek is toegeken aan Mnr Jarrod van der Poll (Megatroniese Ingenieurswese) vir sy projek Wine Labelling Machine for Small-Scale Wine Producers, wat hy onder leiding van Mnr Johann Bredell ontwikkel het. Die projek het innovasie met praktiese toepassing kombineer.

Ander finaliste het ook uitstekende werk gelewer, waaronder:

  • Me Kerryn-Lee Heunis (Chemiese Ingenieurswese) – Production of Mycelial-Textile Biocomposites Reinforced with Geopolymers for Non-Load Bearing Applications, onder toesig van Prof Eugene van Rensburg.
  • Mnr Johan Le Roux (Siviele Ingenieurswese) – BraAI: Visual Image Processing and Machine Learning to Quantify Steak Doneness, onder toesig van Prof Richard Walls.
  • Me Emma McNab (Bedryfsingenieurswese) – Exploring the Potential of a Counterfactual Sinus Surgery Recommender System, onder toesig van Mnr Eldon Burger.

Die beoordelaarspaneel is weer gelei deur Prof Gert-Jan van Rooyen, ʼn oudstudent van die Fakulteit, Buitengewone Professor in Bedryfsingenieurswese en stigter en direkteur van Octoco. Die res van die paneel het bestaan uit verteenwoordigers van die Fakulteit se verskillende departemente: Dr Mieke Nieder-Heitmann (Chemiese Ingenieurswese), Mnr Chris Jurgens (Siviele Ingenieurswese), Dr Chantelle van Staden (Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese), Prof Sara Grobbelaar (Bedryfsingenieurswese), Dr Rashid Haffejee (Meganiese Ingenieurswese) en Dr Nicole Taylor (Megatroniese Ingenieurswese). Prof van Rooyen het die deelnemers geloof vir kreatiwiteit en tegniese vaardigheid wat deur hulle projekte gedemonstreer is, en noem verder dat die kompetisie studente aanmoedig om nie net huidige uitdagings aan te pak nie, maar ook om nuwe moontlikhede vir ingenieurswese te visualiseer.

Die Jac van der Merwe-kompetisie vir Innovasie, wat in 1995 ingestel is ter nagedagtenis aan die oorlede Stellenbosch-alumnus en M-Net-stigterslid Jac van der Merwe, vier steeds sy gees van vernuwende denke deur ingenieursstudente aan te moedig om buite die gewone te dink.

Vanjaar se prysgeld is ruimskoots deur die Fakulteit Ingenieurswese geborg – ʼn bewys van die Fakulteit se verbintenis tot die bevordering van innovasie en die erkenning van uitsonderlike studenteprestasies.

Merkers

Prestasies

Verwante stories