Skip to main content
Electric Mobility Lab wins
Ingenieurswese en tegnologie

Elektriese Mobiliteits-laboratorium wen twee gesogte Africa Supply Chain Excellence-toekennings

Article by Amber Viviers
01 Oktober 2025
  • Die Elektriese Mobiliteits-laboratorium van die Universiteit Stellenbosch is bekroon met twee toppryse by die 2025 Africa Supply Chain Excellence Awards (ASCEA).

Die Elektriese Mobiliteits-laboratorium by die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) is bekroon met twee toppryse by die 2025 Africa Supply Chain Excellence Awards (ASCEA), wat rewolusionêre Afrika-innovasie in volhoubare vervoer en talentontwikkeling vier.

Die Laboratorium is in die Vervoer-kategorie vereer vir hulle vernuwende werk in die omskakeling van ʼn diesel-bus na ʼn elektriese bus. In die kategorie vir opleiding en talentbestuur is hulle erken vir hulle indrukwekkende sonkrag-aangedrewe elektriese motorfiets-ekspedisie van Nairobi na Stellenbosch.

Die ASCEA-toekennings vereer uitnemende prestasies en innovasies wat voorsieningskettings regoor Afrika versterk, en beklemtoon projekte wat meetbare impak lewer en toekomstige leiers in logistiek, vervoer en volhoubaarheid inspireer.

Toekenning 1: Omskakeling van dieselbus na elektriese bus

As ʼn eerste vir Suid-Afrika, en ʼn deurbraak vir die vasteland, het US saam met Rham Equipment, Golden Arrow Busdienste (GABS) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut (SANEDI) ʼn 2005-dieselbus suksesvol omskep in ʼn volledig-elektriese voertuig.

Die projek het duur invoere vervang met plaaslik verkrygbare en saamgestelde komponente, wat die bus se lewensduur verleng en terselfdertyd emissies drasties verminder het. Die omskakeling, wat heeltemal in Suid-Afrika gedoen is, het plaaslike tegnici opgelei en bewys dat hoë-impak vervoernavorsing binne Afrika-voorsieningskettings moontlik is. Die bus word tans in Kaapstad se strate getoets.

Prof Thinus Booysen, ʼn professor in die Fakulteit Ingenieurswese noem dat die projek oor meer gaan net ʼn skoner bus, dat dit ʼn plan is vir inklusiewe, Afrika-geleide innovasie wat gemeenskappe bemagtig terwyl dit klimaatsverandering aanspreek.

Video: https://youtu.be/FfBaRLFZ6jg

Toekenning 2: Nairobi-tot-Stellenbosch sonkragrit

Die tweede toekenning vier ʼn 6000 km-reis van Nairobi, Kenia, na Stellenbosch, Suid-Afrika, op ʼn sonkrag-aangedrewe elektriese motorfiets – geheel en al gelaai deur die Afrika-son.

Die Roam Air-elektriese motorfiets, ontwikkel deur die Roam Electric in Nairobi, is gekoppel met ʼn mobiele sonkraglaai-stelsel wat deur die US ontwerp is as deel van die LEAP-RE-navorsingsprojek. Hierdie pasgemaakte oplossings, gebou vir Afrika se veeleisende vervoertopografie, het die span in staat gestel om deur ses lande oor sewentien dae te reis sonder om netwerk-elektrisiteit of brandstof te gebruik – slegs afhanklik van draagbare sonkrag en Afrika-vindingrykheid.

Langs die pad het hulle met gemeenskappe en universiteite in gesprek getree, volhoubare vervoer bevorder en gewys hoe Afrika-voorsieningskettings veerkragtige, koolstof-arm mobiliteitsoplossings kan lewer. Die ekspedisie het wêreldwye aandag getrek, onder meer deur dekking van die internasionale nuusmaatskappy CNN.

Prof Booysen beskryf die Nairobi-tot-Stellenbosch sonkrag-rit as meer as net ʼn merkwaardige uithouvermoë-prestasie – dit is ʼn simbool van wat moontlik is wanneer Afrika-vindingrykheid, samewerking en volhoubare tegnologie saamkom. Volgens hom is hierdie ʼn gids vir toekomsgerigte mobiliteit – veerkragtig, skoon en aangedryf deur die Afrika-son en plaaslike vaardigheid.

Video: https://intro.africa/story/electric-motorbike-ride-from-nairobi-to-stellenbosch/

Foto’s
(foto links) Dr Stephan Lacock (links) en prof Thinus Booysen. 
(foto regs) Mnr Fistos Mafisa (links) en prof Thinus Booysen.

 

Merkers

Toekennings

Verwante stories