Skip to main content
 Tumelo Mokoena

Tumelo Mokoena at the 2025 YouthX Nedbank Awards.

Ingenieurswese en tegnologie

Eerstejaar ingenieurstudent onder Top 10 innoveerders by YouthX Nedbank-toekennings

Amber Viviers
05 November 2025
  • SU Ingenieurstudent Tumelo Mokoena is by die 2025 YouthX Nedbank-toekennings as een van Suid-Afrika se top 10 innoveerders aangewys.

'n Eerstejaarstudent in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Tumelo Mokoena, is onlangs aangewys as een van Suid-Afrika se top 10 innoveerders by die 2025 YouthX Nedbank-toekennings vir sy werk aan SafeGuard Technologies – 'n inisiatief wat outonome hommeltuie gebruik om gemeenskapsveiligheid te verbeter.

Vir Mokoena, wat in Pretoria grootgeword het en nou aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer, beteken die eer veel meer as net persoonlike prestasie. Hy sê dit voel eerlikwaar ongelooflik en baie nederig, en om onder die top 10 YouthX-innoveerders erken te word, was 'n groot oomblik – nie net vir hom nie, maar vir almal wat SafeGuard Technologies ondersteun en in hulle geglo het. Dit wys dat hulle idee werklike potensiaal het en dat jong mense betekenisvolle oplossings kan bou wat ʼn verskil in Suid-Afrika maak.

Die idee vir SafeGuard Technologies het ontstaan uit 'n persoonlike ervaring wat Mokoena se begrip van veiligheid verander het. Hy vertel dat ʼn vriend van hom verlede jaar ʼn slagoffer van misdaad geword, en dat dit hom diep geraak het – die besef het ingesink hoe kwesbaar almal is, veral studente en jong mense wat weg van hul families woon.

Rondom dieselfde tyd het Mokoena gehoor van die Stellenbosch Network Social Innovation Challenge, wat plaaslike oplossings vir gemeenskapsprobleme gesoek het – die ideale geleentheid om ʼn tegnologie-gedrewe oplossing te ontwikkel. Hy en sy medewerkers het begin werk aan 'n proaktiewe, KI-aangedrewe reaksiesisteem wat outonome hommeltuie gebruik om onmiddellik op te tree wanneer ʼn voorval plaasvind.

Mokoena sê dat hoewel hulpmiddels soos sekuriteitsprogramme, CCTV-kameras en patrollies elk 'n rol speel, het hulle beperkings. Hulle wou iets vinniger en meer proaktief skep. Ons hommeltuie kan lewendige beeldmateriaal voorsien en vinniger reaksie ondersteun, wat help om verskeie gemeenskappe gelyktydig te beskerm.

Mokoena skryf baie van sy vroeë vordering toe aan sy ervaring by US, waar sy studies in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese hom begin toerus het met die tegniese grondbeginsels en probleemoplossingsdenke wat nodig is vir innovasie. ʼn Paniek-armband gekombineer met 'n selfoontoepassing, versterk deur hommeltuigtegnologie, vorm die kern van sy konsep om vinnige en doeltreffende reaksies op noodgevalle te bied. Hy sê sy tyd by Stellenbosch was reeds 'n groot leerkurwe, en dat dit nie net gaan oor hoe stelsels werk of hoe om sensors te programmeer nie; maar ook oor die ontwikkeling van 'n manier van dink wat kreatiwiteit en samewerking aanmoedig. Om omring te wees deur mentors en ander entrepreneurs het hom laat besef dat SafeGuard tot meer as net 'n studenteprojek kan groei – tot iets werklik en skaalbaar.

Die volgende fase vir SafeGuard Technologies is reeds aan die gang. Die span is besig om hul eerste volledig funksionele prototipe te ontwikkel – 'n Tier 1 MVP van hul outonome hommeltuig-reaksiesisteem – wat hulle beplan om teen die einde van 2025 te demonstreer.

Mokoena is opgewonde oor die demonstrasie en sê dit sal ʼn groot mylpaal wees, en dit sal ook wys dat hulle tegnologie in werklike omstandighede werk. Daarna beplan hulle loodsprojekte en vennootskappe in 2026 met residensiële landgoedere, woonkomplekse en klein besighede.

Sy langtermynvisie is ambisieus maar duidelik: hulle wil ʼn gekoppelde netwerk van outonome hommeltuig-reaksiedienste bou wat gemeenskappe regoor Suid-Afrika kan gebruik om veiligheid meer bekostigbaar, toeganklik en intelligent te maak.

In sy wese word Mokoena gedryf deur 'n liefde vir innovasie en 'n begeerte om tegnologie vir impak te gebruik. Hy was nog altyd nuuskierig oor hoe dinge werk – van elektronika tot stelsels – en hoe om slimmer maniere te vind om alledaagse probleme op te los. Hy sê vir hom gaan dit daaroor om aan te hou groei as 'n innoveerder en om Afrika-tegnologie te help ontwikkel en uitbou.

Merkers

Prestasies

Verwante stories