
#WomenofSU: Om bewustheid oor siektebehandeling en strategieë te skep
Die werking van die menslike liggaam het dr Balindiwe Sishi nog altyd gefassineer – nie net terwyl dit goed werk nie, maar ook gedurende siekte.
As 'n senior dosent in die departement Fisiologiese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, hoop Sishi dat haar navorsing in kardio-onkologie nie net bewustheid en verandering sal bring nie, maar dat haar werk ook ander jong vrouewetenskaplikes sal inspireer om hul passie uit te leef.
As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, deel Sishi hier meer oor haar innoverende navorsing.
1. Vertel ons meer oor jou navorsing.
Ek stel belang in die navorsingsveld van kardio-onkologie waar ek en my studente die meganismes ondersoek van hoe doksorubisien (DOX), 'n chemoterapeutiese agens wat algemeen gebruik word, die hart beskadig ten einde doeltreffende maniere te vind om dit te beskerm. Hierdie skade staan as kardiotoksisiteit bekend en kan binne weke, maande, jare of selfs dekades ná chemoterapie onstaan. Hoewel daar reeds verskeie analoë van DOX vervaardig is, is geeneen nog as beter bewys ten opsigte van sitotoksiese aksie en kardiotoksiese newewerkings nie. Aangesien daar 'n onderskeid tussen die sitotoksiese aksie-meganisme van DOX en die kardiotoksiese medewerkings getref is, hoop ons om behandelingstrategieë te kan ontwerp wat die nadelige newewerkings van DOX kan teiken sonder om die sitotoksiese aksie in gevaar te stel.
2. Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?
Ek het my PhD oor hierdie spesifieke navorsingsgebied gedoen en ek is gemotiveer deur die feit dat die toediening van DOX as die doeltreffendste middel teen kanker, tot hartversaking kan lei weens meganismes wat ons nog nie ten volle verstaan nie. Hartversaking is opsigself 'n kliniese ingewikkelde sindroom wat verskeie oorsake het; ondanks aggressiewe behandeling lei dit steeds tot aansienlike siektetoestande en sterftes. Daarom is die voorkoming van hartversaking 'n baie belangrike kliniese en openbare gesondheidsprioriteit. Omdat hierdie toestand baie ernstig en selfs dodelik kan wees en die behandeling baie duur is, is daar 'n behoefte aan nuwe hulpbehandelings wat anders reageer as dié wat reeds gevestig is. As 'n mens in ag neem dat die newewerkings van DOX reeds dekades lank bekend is, is daar nog so baie om te leer en te ondek in hierdie veld. Ek het ook gedink dit is onregverdig om een siekte te behandel, net om 'n ander een op te doen weens die medikasie wat vir die behandeling van die eerste siekte gebruik is.
3. Waarom dink jy is hierdie navorsingsgebied so belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue?
Hoewel elke navorser hul eie navorsingsbelangstellings het, is die gebied van kardio-onkologie uniek; dit omarm nie net kardiovaskulêre siektes en kanker nie, dit vereis ook 'n spangebaseerde benadering met verskillende spesialiste wat saamwerk vir die voorkoming, vroeë ontdekking en bestuur van kardiovaskulêre siektes in kankerpasiënte in alle stadiums van kankerterapie, insluitende die oorlewingstydperk. Hierdie nie-oordraagbare siekes is die grootste oorsaak van sterftes in die wêreld, en miljoene mense sterf jaarliks hieraan. Hoewel die vasteland van Afrika, insluitende Suid-Afrika, die voortou neem met oordraagbare siektes (soos bv HIV/Vigs), dra nie-oordraagbare siektes aansienlik by tot sterftes. DOX is 'n primêre behandelingsregimen vir die bestuur van soliede en hematologiese maligniteite, veral borskanker, en daarom kan pasiënte wat borskanker oorleef, 'n tweede bedreiging in die gesig staar, naamlik hartversaking.
4. Wat dink jy is die grootste uitwerking van jou navorsing op vroue in die land?
Dit is nie 'n maklike vraag om te beantwoord nie, aangesien navorsing gelykstaande aan werklike verandering in die werklikheid is, en daar is baie verskillende soorte invloed, insluitende ingesteldheid, bewustheid, ekonomies, maatskaplik, beleid, kultureel en gesondheid. Gegrond op hierdie kategorieë, glo ek my navorsing val hoofsaaklik onder bewustheid en gesondheid. My jong loopbaan as 'n akademiese navorsers is daarop gemik om 'n wetenskaplike bydrae – ongeag hoe klein ook al – te maak en die oordrag van daardie kennis is uiters belangrik vir uitwerking. Jy moet die gehoor bereik wat die meeste op jou werk kan voortbou of daarby kan baat, aangesien jou bevindinge nie enige verandering te weeg sal kan bring as niemand daarvan weet nie.
5. Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?
Soos ons eie mej. Heelal, Zozibini Tunzi, gesê het: “Vroue moet elke geleentheid moontlik gegun word en dit is wat ons hierdie jongmeisies moet leer: om ruimte in beslag te neem. Niks is so belangrik as om ruimte in die samelewing op te neem en vas te staan nie." Hoewel hierdie boodskap op jongmeisies gerig was, is dit sekerlik ook van toepassing op die volgende geslag vrouewetenskaplikes en -navorsers. Doen dit waarvoor jy lief is, sorg dat jy 'n invloed het, en maak 'n verskil in jou samelewing.