Skip to main content
#USVroue: ‘Voed ’n meisie op en jy verander die toekoms’

#USVroue: ‘Voed ’n meisie op en jy verander die toekoms’

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
23 Augustus 2023

Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende 'n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.

Die feit dat wiskunde nie vir prof Karin-Therese Howell, medeprofessor in die Departement Wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch, as kind maklik of genotvol was nie, is nogal 'n verrassing. “Wiskunde was nie een van my gunstelingvakke op skool nie en ek sou toe nooit daarvan kon droom dat ek eendag 'n wiskundige sou word nie. Met die oog daarop om 'n programmeerder te word – 'n loopbaan wat sy gedink het die meeste werksekerheid bied – het Howell by die Universiteit van die Vrystaat vir 'n BSc-graad in Rekenaarwetenskap ingeskryf met wiskunde as haar tweede hoofvak. 

En daar het Howell se groot en blywende liefde vir wiskunde danksy een van haar vroulike dosente vlamgevat. “My eerstejaardosent in wiskunde was ongelooflik. Sy was entoesiasties oor elke onderwerp – in só 'n mate dat ek die materiaal nog beter wou verstaan sodat ek in haar entoesiasme kon deel." Nadat sy in haar derde jaar haar eerste kursus in abstrakte algebra voltooi het, het sy besluit om suiwer wiskunde die fokus van haar nagraadse studie te maak.

Howell het dit haar doelwit gemaak om haar entoesiasme oor die onderwerp met ander studente te deel. As dosent by die US het sy tussen 2010 en 2022 reeds 14 Viserektor-toekennings vir Uitnemendheid in Eerstejaaronderrig ontvang. Sy is ook by inisiatiewe soos die STEM MentHER-program betrokke. Die program, wat deur dr Lungile Sithole en dr Cerene Rathilal van die Universiteit van Johannesburg begin is, word by die US onder leiding van dr Ronalda Benjamin, 'n dosent in die US se Departement Wiskundige Wetenskappe, aangebied en word deur die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe (NITheCS) ondersteun.

STEM MentHER verbind graad 12-meisies met 'n mentor wat gereeld met akademici in die vakgebiede van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde in gesprek is. “Dit is 'n wonderlike geleentheid vir die mentor en leerder. Ek het gevind dit is baie verrykend om die leerder onder my mentorskap te leer ken en om haar te help om haar drome te verwesenlik." Howell is ook by die konferensies en virtuele seminare van Afrika-vroue in Wiskunde (AWiM) betrokke wat daarop gemik is om vrouewiskundiges op die vasteland bekend te stel en met mekaar te verbind.

Aangesien sy self deur 'n mentor geïnspireer is om wiskunde as navorsingsgebied te kies, meen Howell rolmodelle is die sleutel om die volgende geslag wiskundiges te inspireer. Sy haal graag koninging Rania van Jordanië se bekende woorde aan: “Voed 'n vrou op en jy voed haar gesin op. Voed 'n meisie op en jy verander die toekoms." Volgens haar het vroue en jong meisies meer geleenthede nodig om met mekaar om te gaan en hulle wiskundige reise met mekaar te deel. “Inisiatiewe soos die STEM MentHER-program, AWiM-aktiwiteite, werkskadu-sessies en skoolbesoeke dra alles tot 'n verandering in die landskap by. Dit dra 'n boodskap van diversiteit en inklusiwiteit uit wat uiters belangrik is om selfvertroue by voornemende vrouewiskundiges te kweek," sê sy. “Die vermeerdering van vroue op enige gebied dra tot diversiteit in denke by, wat weer produktiwiteit en innovasie beïnvloed."

Fotograaf: Jeanne Taylor​