Skip to main content
ʼn ‘Waardekrisis’ lê ten grondslag van die verwante biodiversiteit- en klimaatsnoodtoestand

ʼn ‘Waardekrisis’ lê ten grondslag van die verwante biodiversiteit- en klimaatsnoodtoestand

Centre for Sustainability Transitions/Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange
29 Augustus 2023

​Die onderwaardering van die natuur lê ten grondslag van die omgewingskrisisse wat tans deur die wêreld in die gesig gestaar word.

ʼn Onlangse referaat met die titel “Diverse waardes van die natuur in volhoubaarheid"​ benadruk dat besluitnemingsprosesse wat op korttermynwins en ekonomiese groei fokus sonder om veelvuldige waardes van die natuur in ag te neem, ten grondslag van die wêreldwye biodiversiteitskrisis lê.

Dr Nadia Sitas en prof Alta de Vos, akademiese navorsers by die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange​ (CST) aan die Universiteit Stellenbosch (US), is lede van die groep navorsers oor die wêreld heen wat onlangs hierdie baanbrekerstudie in die toonaangewende, multidissiplinêre wetenskapjoernaal Nature gepubliseer het.

“Hierdie referaat is gegrond op ʼn uitgebreide globale oorsig van die die Interregerings-wetenskapbeleidsplatform oor Biodiversiteit en Ekostelseldienste (IPBES)," sê Sitas.

“Ofskoon dit ʼn groot rede tot kommer is in die lig van die nadelige implikasies vir menslike welstand én ekologiese gesondheid, bied die referaat verskeie geleenthede om die probleme aan te pak. Dit is opwindend en beweeg weg van die swartgallige boodskappe wat opsies vir hoop en veral optrede beperk."

Om ʼn meer regverdige en volhoubare toekoms te bewerkstellig is dit volgens die studie noodsaaklik om weg te beweeg van die oorheersende fokus op korttermynwinste en ekonomiese groei in ekonomiese en politieke besluitneming ten koste van die inagneming van die veelvuldige waardes van die natuur.

Die “waardekrisis" beskryf die voortgesette oorheersing van ʼn eng stel waardes wat as ongeskik bewys is vir die oplossing van die biodiversiteitskrisis en die klimaatsnoodtoestand. Die studie identifiseer ook vier “waardegesentreerde benaderings" wat die nodige voorwaardes vir transformatiewe verandering kan bevorder om ʼn meer regverdige en volhoubare toekoms te bewerkstellig: die erkenning van die diversiteit van waardes met betrekking tot die natuur; die inkorporering van hierdie diverse waardes in besluitneming; beleidshervorming en stimulering van institusionele verandering; en die verskuiwing van norme en doelwitte op samelewingsvlak om volhoubaarheidsgerigte waardes oor sektore heen te ondersteun.

Markgebaseerde waardes

Markgebaseerde waardes van die natuur, soos dié wat met intensief geproduseerde voedsel en ander kommoditeite geassosieer word, geniet dikwels voorrang ten koste van die nie-markgebaseerde waardes wat met die natuur se ander bydraes tot mense geassosieer word. Dit sluit in aanpassing by klimaatsverandering of die koestering van kulturele identiteite wat ewe noodsaaklik vir die bereiking van regverdige en volhoubare samelewings is. Biodiversiteitsbewaringsbeleide, soos die uitbreiding van beskermde gebiedsnetwerke, het dikwels ook eng waardestelle geprioritiseer. Dit het dikwels inheemse mense en plaaslike gemeenskappe gemarginaliseer wat in baie gevalle getoon het dat hulle biodiversiteit in dié gebiede beskerm.

'ʼn Beter begrip van hoe en waarom private en openbare besluitnemers die natuur (onder)waardeer is dringender as ooit tevore. Ofskoon dit positief is dat globale ooreenkomste soos die Kunming-Montreal- Globale Biodiversiteitsraamwerk (GBF) en die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) ʼn beroep op ʼn inklusiewe en deelnemende proses doen om die natuur se waardes in aksies te inkorporeer, prioritiseer oorheersende omgewings- en ontwikkelingsbeleide steeds ʼn eng stel markwaardes van die natuur," sê prof Unai Pascual (van die Baskiese Sentrum vir Klimaatsverandering [BC3] en die Baskiese Wetenskapstigting of Ikerbasque), wat die studie gelei het.

Waarderingsmetodes

Die artikel volg op die publikasie in Julie 2022 van die Waarde-assesseringsverslag, wat deur die 139 lidlande van die IPBES goedgekeur is. Dit konsolideer en beklemtoon die belangrikste resultate van die assessering, wat gegrond is op ʼn oorsig van meer as 50 000 wetenskaplike publikasies, beleidsdokumente en inheemse en plaaslike kennisbronne. Deur hierdie bewyse toe te pas, stel die skrywers kombinasies van “waardegesentreerde benaderings" voor om uiteindelik die nodige veranderinge teweeg te bring om huidige besluite te transformeer wat volhoubaarheid én maatskaplike geregtigheid nadelig raak, dit wil sê billike behandeling van mens én natuur, insluitende inter- en intra-generasiegelykheid.

“Wetenskaplikes het ʼn wye reeks waardasiemetodes ontwikkel. Wat ontbreek, is die gewilligheid of vermoë van regerings en ander sleutelbelanghebbendes om hierdie metodes toe te pas en dit in hul besluitnemingstelsels in te sluit op maniere wat meebring dat verteenwoordiging, billikheid en magsverhoudings tussen die verskillende partye wat by waardasieprosesse betrokke is, versigtig oorweeg word," sê Pascual.

Herbalansering

Die studie se skrywers doen ʼn beroep vir die herbalansering van waardes wat onderliggend aan maatskaplike strukture soos regsinstellings is, deur die bevordering van waardes soos eenheid, sorg, solidariteit, verantwoordelikheid, wederkerigheid en geregtigheid, beide teenoor ander mense en teenoor die natuur. Die studie voer verder aan dat die verskuiwing van besluitneming na die veelvuldige waardes van die natuur ʼn belangrike deel is van die stelselwye transformatiewe verandering wat nodig is om die huidige globale biodiversiteitskrisis en klimaatsnoodtoestand, wat intiem met ander sosio-omgewingsprobleme verbind is, aan te pak. Dit sluit groter besoedeling, nuwe pandemies en omgewingsongeregtighede in. Dit vereis ʼn nuwe definisie van wat bedoel word met “ontwikkeling" en “welstand", met erkenning van die veelvuldige maniere waarop mense by mekaar en met die natuurlike wêreld aansluiting vind.

Een besonder tydige aspek van die studie is die ondersteuning wat dit bied aan onlangse pogings om meer respekvolle en deelnemende benaderings tot omgewings- en ontwikkelingsbesluitneming te skep. Die studie beklemtoon dat die erkenning en inkorporering van die wêreldbeskouings en waardes van inheemse mense en plaaslike gemeenskappe en die instellings wat hul regte en gebiede ondersteun, die moontlikheid van meer inklusiewe beleide bied en, baie belangrik, dat dit ook beter uitkomste vir beide mense en die natuur tot gevolg het.

Aldus prof Patricia Balvanera, mede-outeur en medevoorsitter van die Waarde-assessering, (Nasionale Outonome Universiteit van Mexiko): “Talle inheemse en plaaslike gemeenskappe van die globale Suide was die rentmeesters van die biodiversiteit waarvan hulle deel voel, waarvoor hulle verantwoordelik is en wat noodsaaklik vir hul identiteit is, maar hierdie diverse waardes van die natuur is meestal gemarginaliseer deur regerings en magtige landboubesighede,wat die natuur slegs as ʼn fabriek van goedkoop kommoditeite beskou."