
Navorsers benut spraaktegnologie om leerders se leesvaardighede te verbeter
Ons vieringe op Internasionale Geletterdheidsdag (8 September) mag dalk vanjaar ietwat oorskadu word deur die massiewe leesprobleem wat ons in die gesig staar. Die mees onlangse verslag van die Studie oor die Vordering in Internasionale Leesgeletterheid (PIRLS) het aangedui dat 81% van graad 4-leerders in Suid-Afrika nie in enige van die amptelike landstale met begrip kan lees nie.
“Aan die einde van die grondslagfase (graad 1–3) kan baie leerders wat in Afrika-tale soos Zoeloe en Sesotho sa Leboa geleer en onderrig is, nie met begrip in hulle huistaal lees nie. Aangesien die verwerwing van vroeë geletterdheid lewensveranderend kan wees, moet ons ons leerders se geletterdheidsvaardighede verbeter," sê 'n groep navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR).
Die “The Voice Computing"-navorsingsgroep by die WNNR het in samewerking met Laurette Pretorius van die US en Lionel Posthumus van UJ die Ngiyaqonda!- (“Ek verstaan"-) navorsingsprojek begin om geletterdheidsontwikkeling en die aanleer van taal onder grondslagfaseleerders te ondersteun. In 'n artikel wat onlangs in die Proceedings of the 5th International Conference on Conversational User Interfaces verskyn het, brei Pretorius en Posthumus saam met Laurette Marais en Ilana Wilken (albei van die WNNR) uit oor die projek.
'n Sleutelaspek van die projek is die gebruik van spraaktegnologie om te help om die uitdaging van die verwerwing van vroeë geletterdheid aan te spreek.
“Aangesien leerders in die grondslagfase nog lank voordat hulle kon lees en skryf reeds 'n sekere vlak van mondelinge bevoegdheid in hulle huistaal bereik het, kan taal- en spraaktegnologie betekenisvol aangewend word om die ontwikkeling van geskrewe vaardigheid – eers in hulle huistaal en uiteindelik ook in die taal waarin hulle van graad 4 af verder onderrig sal word – te ondersteun.
Ter beklemtoning van die belangrikheid van die projek, voeg die navorsers by dat leerders se taal van leer en onderrig na Engels verander wanneer hulle die intermediêre fase in graad 4 binnegaan. “Dit beteken dat kinders wat byvoorbeeld geleer het om in Zoeloe en Sesotho sa Leboa te lees en skryf, dan in staat moet wees om in amper al die vakke waarin hulle onderrig word, in Engels te kan lees en skryf."
Volgens hulle kan die projek help om die oorgang na Engels te help fasiliteer wat baie leerders in die intermediêre fase (graad 4–7) moet neem.
Slimfoonapplikasie
Die Ngiyaqonda!-projek, wat deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur geborg word, poog om 'n slimfoonapplikasie te ontwikkel wat grammatika-gebaseerde natuurlike taalgenerering en spraaktegnologie aanwend om 'n multimodale, meertalige leeromgewing te skep waarin graad 3-leerders lees en sinsamestelling kan oefen. In die huidige loodsprojek ontvang die leerders 'n tablet, maar uiteindelik sal die applikasie enige slimfoon ondersteun.
Aanvanklik fokus die applikasie op die leerders se huistaal alvorens hulle geleidelik aan die doeltaal bekendgestel word wat gewoonlik die taal van leer en onderrig in die intermediêre fase sal wees, sê die navorsers.
Die applikasie, wat lees- en taakkeuseskerms bevat, bied aan leerders 'n progressiewe leerreis op grond van die huistaal en doeltaal wat hulle kies.
“Die gebruiker ontvang aanvanklik net eentalige take in hulle huistaal. Later word die doeltaal (Engels) bekendgestel met die vereiste dat die gebruiker passiewe kennis (leerder het 'n begrip van wat in die doeltaal gesê word, maar hoef nie uitings te genereer wat grammatikaal korrek in Engels is nie) van die doeltaal het om te kan vorder. Uiteindelik vereis die meertalige take 'n aktiewe kennis (leerders genereer op hulle eie 'n uiting in die doeltaal wat grammatikaal korrek is) van die doeltaal."
Take
Die navorsers wys daarop dat daar drie soorte take is – storietake, skryftake en speletjietake – en elkeen word as 'n aparte aktiwiteitskerm aangebied.
Hulle sê die storietaak stel leerders aan die storie bekend waarop die inhoud van die applikasie gegrond is, asook die sleep-en-los-funksie om tussen spesifieke plekke op die skerm te navigeer terwyl hulle sinne bou.
“Die skryftaak bied aan leerders die geleentheid om lees en sinsamestelling op 'n ongedwonge, vrye manier te oefen, terwyl hulle vertroud raak met die toenemende ingewikkeldheid van uitings. Verskeie woorde word in die keuse-area aangebied waarvandaan die gebruiker woorde na die skryfgebied kan sleep om sinne te bou."
Die navorsers het 'n meertalige verhaal wat as deel van die VulaBula-leesprojek uitgegee is, gebruik om 'n stel grammatikas in Zoeloe en Engels te ontwerp (dié in Afrikaans en Sesotho sa Leboa sal binnekort volg) wat verseker dat slegs woorde wat grammatikaal en semanties korrek is, aangebied word.
Die speletjietaak ontgin die bestaande mondelinge vaardigheid in die leerders se huistaal en ontwikkel mondelinge vaardigheid in hulle doeltaal vir die spelifiëring van lees en sinsbou.
“In hierdie take word verskeie lukrake opdragte uit die grammatika gegenereer en deur middel van 'n luisterknoppie aan die leerders voorgehou. Hulle luister dan na die huidige opdrag en moet die ooreenstemmende sin saamstel deur die korrekte merkteken woord vir woord uit die keusegebied te kies. Wanneer die hele opdragsin saamgestel is, word die sin outomaties as klankgeaktiveerde teks na die skrywersgebied verskuif, en die speletjie gaan voort met die volgende opdrag."
Die applikasie word tans by skole met Zoeloe as leer-en-onderrigtaal vir graad 1–3 en Engels vanaf graad 4 getoets.
- Bron: Laurette Marais, Ilana Wilken, Laurette Pretorius, and Lionel Posthumus 2023. Multimodal, Multilingual Dynamic Stories for Literacy Development and Language Learning: in ACM conference on Conversational User Interfaces (CUI '23), 19–21 Julie 2023, Eindhoven, Nederland: doi: org/10.1145/3571884.3604303