Skip to main content
Amy Michau proves impossible goals are achievable.
Image by: Stefan Els

Amy Michau bewys onmoontlike doelwitte ís haalbaar.

Toekennings en mylpale

Kampioenruiter verwerf graad terwyl sy wêreldbeker-arena's oorwin

Corporate Communication: Uendjii Kandanga
Writer
10 Desember 2025
  • Amy Michau bewys onmoontlike doelwitte ís haalbaar.
  • Elite-perdespringer: drie seges in Wêreldbekerkwalifiseerders van die FEI en Suid-Afrikaanse kleure in 2025.
  • Gradueer by die Universiteit Stellenbosch met ʼn BSc (Agric) in Veekunde.

Voordat sy die arena betree, is Amy Michau, ʼn perdespringkampioen en nou ʼn gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch (US), angsbevange. Maar sodra sy en haar perd, Blu Equestrians Go To Blue, die ring binnery, verander alles.

“Ek is baie kalm sodra ek ingaan,” sê Michau. “Ek vergeet van alles – dis net ek en my perd en wat my afrigter vir my gesê het om te doen. Ek hoor nie regtig iemand anders nie. Ek weet net wat ek moet doen.”

Dié fokus het vir ʼn buitengewone 2025-seisoen gesorg: drie seges in Wêreldbeker-kwalifiseerders van die Internasionale Ruiterfederasie (FEI), die algehele Suid-Afrikaanse FEI Wêreldbeker-kwalifiseerderligatitel, asook haar Suid-Afrikaanse kleure – die topprestasie in haar sport.

Op 23-jarige ouderdom en as ʼn mededinger in die elite-vlak van 1,50 m–1,55 m, het Michau voortgebou op haar prestasie as die 2023- Suid-Afrikaanse Volwasse Perdespringkampioen om haar status as een van die topruiters in die land te verstewig.

Sy het Dinsdag (9 Desember) met ʼn BSc (Agric) in Veekunde gegradueer.

Die meeste mense kan nie verstaan hoe sy albei reggekry het nie. Amy het wat sy “twee uiteenlopende lewens” noem. Op Stellenbosch is sy ʼn student; in Johannesburg, waarheen sy elke paar weke vlieg, neem sy nét aan kompetisies deel.

Om ʼn student én ʼn topatleet te wees is moeilik en sy vertel dat sy soms gesukkel het. Die sleutel is om te leer om onder druk te floreer eerder as om daaronder te swig.

“Ek het uitgevind hoe om alles te beheer. As ek al daardie stres en druk goed gebruik, kan ek bereik wat ek wil.”

Hierdie ingesteldheid het haar deurbraakseisoen aangevuur. Nadat sy in 2024 ʼn blaaskans van kompeterende perdespring geneem het, het sy en haar ma aan die begin van 2025 saam gaan sit en klein, haalbare doelwitte vir haar gestel. Elke keer as sy een bereik het, het hulle ʼn ander een gestel. “Ek het veel meer bereik as wat ek ooit verwag het en uiteindelik drie seges in Wêreldbeker-kwalifiseerders behaal.”

Om haar Suid-Afrikaanse kleure te verwerf was ʼn droom wat bewaarheid is. “Toe ek agt jaar oud was, het ek al die topryers dopgehou. Ek het nooit ooit gedink ek sou eendag daar wees nie,” vertel sy.

Amy gaan aanstaande jaar ʼn meestersgraad in vleiswetenskap aanpak – sy wil met beeste werk en die familieplaas winsgewend maak sodat sy uiteindelik haar eie perde kan finansier terwyl sy aanhou om saam met die wêreld se beste ruiters te oefen, teen hulle mee te ding en van hulle te leer.

Haar raad aan enigiemand wat die onmoontlike nastreef? “In my ervaring is jou doelwitte nooit te groot nie. Jy kan hulle altyd bereik. Moet nooit ophou om in jouself te glo nie, want as jy in jouself en in jou perd glo, kan jy beslis uitkom waar jy ook al wil gaan.”

Verwante stories