Twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US), Haingo Andry en Simon Malan, is as ontvangers van die gesogte 2025 Globale Google PhD-genootskappe aangewys.
Twee US-studente onder Google se 2025 globale PhD-genote
- Twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US), Haingo Andry en Simon Malan, is as ontvangers van die gesogte 2025 Globale Google PhD-genootskappe aangewys.
- Die program bied aan ontvangers direkte finansiële ondersteuning vir hulle PhD-studie en hulle word met 'n toegewyde Google-navorsingsmentor verbind.
- Die aansoeke word op grond van die navorsingsvoorstel, navorsingsimpak, studente se akademiese prestasies en leierskappotensiaal beoordeel.
Twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US), Haingo Andry en Simon Malan, is as ontvangers van die gesogte 2025 Globale Google PhD-genootskappe aangewys.
Hierdie genootskappe gee erkenning aan uitstaande nagraadse studente wat uitsonderlike en innoverende navorsing in rekenaarwetenskap en verwante vakgebiede doen, met 'n spesifieke fokus op kandidate wat die toekoms van tegnologie wil beïnvloed.
Die program bied aan ontvangers direkte finansiële ondersteuning vir hulle PhD-studie en hulle word met 'n toegewyde Google-navorsingsmentor verbind.
"Ons is opgewonde om hierdie globale kohort te verwelkom en sien daarna uit om saam met hulle te werk terwyl hulle voortgaan om leiers op hulle onderskeie gebiede te word," sê die Google PhD-genootskapspan.
Prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het in reaksie op die aankondiging gesê: "Ons is werklik trots op ons twee PhD-studente, Haingo Andry en Simon Malan, as ontvangers van die toekenning, en op hulle studieleiers wat hulle ondersteun om hulle studie met uitnemendheid in navorsing en toegewydheid tot kennisoordrag voort te sit."
Andry, wat by die US se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) in die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke gesetel is, sê hy voel geëerd om die genootskap te ontvang wat hom in staat sal stel om sy navorsing te verdiep. "Dit bied navorsingsondersteuning en mentorskap wat my sal help om meer ambisieuse en innoverende idees na te streef," sê hy. Sy studieleier is dr Houriiyah Tegally, hoof van datawetenskap by SERI.
Andry se doktorale navorsing fokus op klimaatgedrewe menslike migrasie, en gebruik data-gedrewe metodes om verskuiwing gedurende uiterste weersomstandighede te modelleer. "Die doel is om instrumente te skep wat kan help om openbare gesondheid en epidemiese paraatheid te versterk," verduidelik hy.
Malan, die ander US-student wat vir sy baanbrekerswerk erken is, is tans in sy tweede jaar van 'n meestersgraad in elektriese en elektroniese ingenieurswese. Hy ondersoek hoe berekeningsmodelle woorde uit 'n taal kan leer bloot deur na spraak in daardie taal te luister.
Dit is 'n groot voorreg om in die Google PhD-genootskapsprogram aanvaar te word, sê hy. "Natuurlik spreek die naam 'Google' vanself, en hoewel dit effens skrikwekkend, is dit meestal baie opwindend. Hierdie genootskap stel my in staat om voort te gaan om my navorsingsgebied, waarvoor ek 'n baie groot liefde ontwikkel het, te verken."
Hy skryf baie van sy sukses aan sy studieleier, prof Herman Kamper, toe "wie se eie passie, entoesiasme en kundigheid my geïnspireer het om werklik om te gee vir die navorsing wat voorhande is". Verder voeg Malan by: "Ek wil Google vir die ondersteuning van my navorsing bedank. Dit is 'n groot voorreg om in hierdie posisie te wees, en ek is vasbeslote om dit ten volle te benut."
Kamper, wat in 2018 en 2019 die Google-fakulteitstoekenning ontvang het, sê Malan se uitsonderlike prestasie gedurende sy meestersgraadstudie, insluitende die aanbieding van 'n referaat by 'n vooraanstaande wêreldwye konferensie gedurende sy eerste jaar, het hom 'n sterk kandidaat vir die genootskap gemaak.
"Selfs baie goeie PhD-studente sukkel om hulle werk reeds in hulle eerste jaar internasionaal te laat verskyn. Dit wys dus dat Simon 'n uitsonderlike student met die kapasiteit vir onafhanklike navorsing is," sê Kamper.
Volgens Kamper sal die genootskap Malan in staat stel om by die Universiteit Stellenbosch te bly vir sy PhD-studie. "Enige internasionale groep sou bly wees om hom te hê, so ons kan ons gelukkig ag om hom hier te hê om voort te gaan om plaaslike én internasionale bydraes te lewer."
Die aansoeke word op grond van die navorsingsvoorstel, navorsingsimpak, studente se akademiese prestasies en leierskappotensiaal beoordeel. Volgens Google word navorsingsvoorstelle vir innoverende konsepte wat op Google se navorsingsgebiede van toepassing is, asook aspekte van robuustheid en potensiële impak op die vakgebied geëvalueer.