Maroenmasjien wil trofee lig in 2026 FNB Varsitybeker-kompetisie
- FNB Maties sal in 2026 ’n span op ’n missie wees nadat hulle verlede seisoen in die finaal van die FNB Varsitybeker-kompetisie teen die Universiteit van Kaapstad verloor het
FNB Maties sal in 2026 ’n span op ’n missie wees nadat hulle verlede seisoen in die finaal van die FNB Varsitybeker-kompetisie teen die Universiteit van Kaapstad verloor het
Die span van Stellenbosch sal beslis hul vorm van verlede seisoen wil voortsit – hulle was tot en met die halfeindstryd boaan die puntelys en het ook ’n tuiseindstryd in die Danie Craven-stadion verseker. Hulle kon egter nie die knoop deurhak nie en sal hoop om van verlede jaar se teleurstelling te herstel en vanjaar die trofee te lig.
FNB Maties is altyd ’n gedugte teenstander, maar het in 2019 laas die beker verower. Hulle sal graag die trofeedroogte wil beëindig en verlede jaar se hartverskeurende uitslag gebruik as aanmoediging om vanjaar groter sukses te behaal.
Volgens Maties se kaptein, Ezekiel Ngobeni, is die spelers positief en gereed vir die kompetisie.
“2026 is ’n nuwe jaar met nuwe geleenthede, wat dit baie opwindend maak om weer die kompetisiefase te betree.”
Hy het bygevoeg dat die span al ’n rukkie besig is met voorbereiding en dat hulle die nuwe seisoen met baie vertroue en oortuiging aanpak.
Die Maroenmasjien begin vanjaar se kompetisie met ’n vroeë afskoptyd om 16:45. Hulle reis na Shimlapark vir ’n moeilike wedstryd teen FNB UV Shimlas in Bloemfontein.
FNB Maties se groep:
Janlu Basson, Njabulo Dlomo, Prince Mulea, Oliver Reid, Ammaar Burton, Jason Johnson, Daniel Kruger, Keanu Michaels, Armand Combrink, CJ Erasmus, Luthando Makula, Slabbert Maartens, Riley Norton, Zuko Poswa, Kevin Strydom, Luke Swartz, Fortune Mpofu, Luan Botha, Louw du Toit, Tjaart Joubert, Yabo Ndzamela, Ethan Snyman, Dempers Meyer, Ezekiel Ngobeni (kaptein), Mckyle Volmoer, MC van Heerden-Smith, Samuel Badenhorst, Matthew Malherbe, CJ Marx, Simon Liversage, Ryan Manuel, Grant de Jager, Pretorius Ekeji, Rynhardt van der Linden, Hugho van Zitters, Oluhle Ndaba, Eldridge Jack.
Deur: Kieryn Thompson