Dit gaan net op en op vir voormalige Maties Sportvrou van die Jaar
- Mire Reinstorf, Maties Sportvrou van die Jaar in 2022 en bekende paalspringatleet, is onlangs as 'n wild card gekies vir die Wêreldatletiekkampioenskap wat in Boedapest, Hongarye, gehou is.
Mire Reinstorf, Maties Sportvrou van die Jaar in 2022 en bekende paalspringatleet, is onlangs as 'n wild card gekies vir die Wêreldatletiekkampioenskap wat in Boedapest, Hongarye, gehou is.
Alhoewel Reinstorf met verskeie sportkodes geproe het en aanvanklik gehuiwer het om 'n nuwe sport te probeer, het sy dit “dadelik liefgehad” toe sy uiteindelik paalspring probeer het – en beweer dat sy sedert daardie dag nie die paalspring neergesit het nie.
Die B.Com. Aktuariële Wetenskap-student hou vol dat haar opleiding net beter geword het soos die jaar gevorder het. Selfs voordat sy in kennis gestel is van haar kaartjie na Boedapest, sê sy dat haar tegniek aansienlik verbeter het. Reinstorf het gesê: “Ek is so dankbaar dat ek hierdie geleentheid gehad het. Dit was 'n wonderlike ervaring om op so 'n hoë vlak saam met al die ander elite-atlete te kon meeding. Alhoewel die kompetisie nie volgens plan verloop het nie, het ek dit so baie geniet. Ek het baie geleer en weet nou waaraan ek moet werk om voor te berei vir volgende jaar.”
Haar grootste les vanjaar is “om suksesvol te wees, verg dit harde werk”. Dit was 'n moeilike jaar vir Reinstorf, want vroeër vanjaar by die SA Kampioenskappe het sy 'n teleurstellende vertoning gelewer, maar sy het nie toegelaat dat dit haar onderkry nie. “Ek het net besef dat sukses nie vanself kom nie. Jy moet die werk en moeite insit en volhou om jou doelwitte te bereik. Selfs al het jy slegte dae, want dit is wanneer jy die meeste leer. Om deur die slegte sessies te druk en te weet dat dit uiteindelik sal gebeur,” het sy verduidelik.
Reinstorf is dankbaar vir die steun van Maties Sport en sê: “Maties het my die geleentheid en ondersteuning gegee om voort te gaan met die sport waarvan ek hou terwyl ek my studies voltooi. Ek het 'n daaglikse roetine wat my help om alles te balanseer en ek dink net die dissipline om by die roetine te bly, help geweldig.”
Die paalspringer noem ook haar ouers as haar inspirasie, want hulle het haar die geleentheid gegee om haar drome uit te leef. “Ek is baie dankbaar en geseënd om hulle in my lewe te hê, want hulle is baie ondersteunend en as dit nie vir hulle was nie, sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie. Hulle het my geïnspireer om hard te werk om suksesvol te word,” het sy gesê.
Dit is hierdie houding wat 'n lang pad stap terwyl Reinstorf hoop om haar uiteindelike doelwit te bereik, naamlik om 'n hoogte van 5 m of hoër te behaal. “Slegs vier vroulike paalspringers het ooit 5 m behaal, so dit sou 'n baie groot prestasie vir my wees. Ek oefen tans om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele van 2024 wat in Parys sal plaasvind. Maar as ek nie vir hierdie spele kwalifiseer nie, sal ek aanhou werk aan die volgende Olimpiese Spele. Intussen beplan ek om my hoogtes te verbeter en my wêreldranglys te verhoog,” het Reinstorff afgesluit.
Deur Kimara Singh