Skip to main content

Beurse: Nie-US-befondsing

Nie-US-befondsing

Daar is alternatiewe befondsingsopsies wat studente kan verken – van skarefinansiering tot beurse wat privaat maatskappye aanbied in ruil daarvoor dat jy vir ’n sekere tydperk vir hulle werk nadat jy jou studies voltooi het.

Geskiktheidskriteria sluit dalk nie noodwendig finansiële behoefte in nie, en aangesien die aansoekdatums ook verskil, maak asseblief seker dat jy jou opsies ondersoek en betyds aansoek doen.

Die Universiteit Stellenbosch het beperkte fondse beskikbaar en aansoek om US-befondsing is nie 'n waarborg dat 'n student 'n toekenning sal ontvang nie. Alle voornemende en huidige voorgraadse studente word aangemoedig om alle beskikbare finansiële bystandsweë te volg en die filterlys sluit opsies en hulpbronne as 'n goeie beginpunt in.

AllBursaries

Die AllBursaries-webwerf bevat ’n lys van al die nuutste beurse wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is. Jy kan die befondsingsopsies volgens onderwerp/industrie en volgens sluitingsdatum sorteer. Só kan jy seker maak dat jy jou aansoek betyds indien. Die webwerf bevat ook gedetailleerde inligting oor die NSFAS-aansoekproses en ander befondsingsgeleenthede.

Bloemhof Beursfonds Trust (IT734/2001)

Neem asseblief kennis dat hierdie beurs slegs vir Afrikaanssprekende en Afrikaanshuistaal aansoekers is.

Die Bloemhof Beursfonds Trust se doelstellings is om aan jong mense studiebeurse en toekennings vir studie, navorsing en onderrig toe te ken om hul drome en ideale te verwesenlik, ten einde ’n positiewe bydrae in die breër Suid-Afrikaanse samelewing te maak.

Riglyne en aanlynaansoekvorm vir voornemende en reeds ingeskrewe Universiteit Stellenbosch-studente is op die webblad https://bloemhofbeurstrust.co.za beskikbaar.

Geskiktheidsvoorwaardes

  • Slegs voorgraadse studies met die uitsondering van LL.B. studente en Nagraadse Diploma in Hoër Onderwys.
  • Gesamentlike ouerinkomste van tussen R350 000 en R900 000 per jaar.

Aansoeke vir 2026 is oop en sluit op 15 Oktober 2025.

Bursaries South Africa

Bursaries South Africa se webwerf bevat omvattende inligting oor beurse vir studente wat hulle tersiêre studies wil begin of verder voortsit en wat ’n sterk akademiese rekord het, maar nie oor die nodige finansiële middele beskik nie.

’n Goeie beginpunt is om na die beurse onder Sluit binnekort te kyk of om volgens die sluitingsdatum en relevante fakulteit te soek. Die webwerf bevat ook nuttige wenke en raad soos hoe om ’n beursmotiveringsbrief te skryf en wenke om ’n beursaansoek in te dien.

FEENIX-skarefinansiering

Feenix is ’n aanlyn fondsinsamelingsplatform wat in Junie 2017 gestig is in reaksie op die #FeesMustFall-beweging wat in 2015 en 2016 oor universiteitskampusse in Suid-Afrika versprei het.

Feenix, waarvan Standard Bank ’n stigtersvennoot is, voorsien studente van die gereedskap om hulle fondsinsamelingspogings te formaliseer en voorsien befondsers van ’n kanaal om studente op te spoor wat hulle wil ondersteun.

Is Feenix vir jou? As jy ja antwoord op al ses vrae hieronder, kom jy in aanmerking om vandag jou fondsinsamelingsreis te begin:

  • Is jy 'n SA burger, permanente verblyf, vlugteling of asielsoeker?
  • Is jy by 'n openbare Suid-Afrikaanse universiteit geregistreer?
  • Het jy huidige of historiese skuld aan jou universiteit?
  • Is jou gesamentlike huishoudelike inkomste minder as R600 000 per jaar?
  • Het jy 'n gesertifiseerde afskrif van jou identiteitsdokument?
  • Het jy ’n amptelike fooistaat – nie ouer as 30 dae nie en op die universiteit se briefhoof?

Besoek die feenix-webwerf vir meer inligting en om aan te sluit.

GoStudy

'n Aanlyn hulpbron vir beursgeleenthede in Suid-Afrika sowel as binne Afrika. Jy kan blaai volgens organisasie, studieveld of tipe.

Die webwerf bied ook loopbaan- en studieleiding vir leerders.

ISFAP

Die Ikusasa-finansiëlehulpprogram (ISFAP) is oop vir Suid-Afrikaanse burgers wat in in die komende akademiese jaar vir die eerste keer vir ’n graad gaan studeer en wat uit 'n huis kom met 'n bruto huishoudelike inkomste (voor belasting en aftrekkings) is minder as R600 000 per jaar (R50 000 per maand).

Aansoekers moet voorlopig by die Universiteit Stellenbosch aanvaar word in 'n ISFAP-gesteunde graadprogram. Dit sluit sekere programme binne die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Ingenieurswese, asook BSc Voedselwetenskap, MBChB en BDatSci in. Vir die volledige lys van kwalifiserende programme, besoek asseblief die ISFAP-webwerf.

Sodra jy jou aansoekproses begin het, gaan asseblief gereeld jou e-posse na vir aansoekstatusopdaterings.

Indien jy enige navrae het, stuur e-pos na [email protected]; skakel 010 880 0400; of WhatsApp-nommer 072 817 4072.

Aansoeke is gesluit vir 2025.

Moshal program

Die Moshal-program is meer as 'n beurs vir hoër onderwys – dit help jou om op universiteit sukses te behaal en jou loopbaan te begin.

Moshal bied finansiële ondersteuning, en het ook 'n span professionele persone wat toegewyd is om studente deur die daaglikse lewe van die universiteit te lei, en om uiteindelik waardevolle werk in hul gekose studierigtings te vind.

Grade befonds Rekeningkunde; Aktuariële Wetenskap; Handel; Rekenaarwetenskap; Datawetenskap; Ingenieurswese; Inligtingstegnologie; Medisyne; Wiskunde; Apteek; Statistiek.

Basiese toelatingsvereistes Huishoudelike inkomste van tot R200 000 per jaar (voor aftrekkings) en 70% minimum vir Engels, Wiskunde, Fisika/Rekeningkunde.

Om te sien of jy aan die Moshal-kriteria voldoen – en om aansoek te doen – gaan na www.moshalprogram.org.za.

Aansoeke is oop vir 2025.