Werksessie help slyp dosente se vaardighede in openbare redevoering
Kontakbesonderhede
’n Groep dosente van die Universiteit Stellenbosch (US) het op 13 Maart 2026 byeengekom vir ’n beroepsleersessie getiteld “Doeltreffende kommunikasie vir dosente: Bou selfvertroue in openbare redevoering en aanbieding”. Agt deelnemers van verskillende fakulteite en sentrums het die sessie onder leiding van die mediapersoonlikheid Vicky Davis bygewoon.
Die werksessie is deel van ’n deurlopende program van aktiwiteite waardeur die US se Sentrum vir Onderrig en Leer dosente help om hulle onderrig- en gesprekspraktyke te verbeter, veral waar daar van hulle verwag word om duidelik en met selfvertroue en impak te kommunikeer. Deur middel van sowel teoretiese insigte as praktiese toepassing het deelnemers die kernbeginsels van openbare redevoering bestudeer en terselfdertyd oor hulle eie kommunikasiestyle nagedink.
Van die onderwerpe wat behandel is, was die moets en moenies van doeltreffende openbare redevoering, strategieë vir angsbestuur, en tegnieke om duidelike en boeiende aanbiedings saam te stel. Die fisiese aspekte van kommunikasie, waaronder stem, lyftaal en gebare, is ook bespreek, sowel as hoe om doeltreffende PowerPoint-aanbiedings te ontwerp, aanlyn kommunikasie-omgewings te hanteer, en vraag-en-antwoordsessies met selfvertroue aan te bied.
Die werksessie is in twee dele aangebied: Die eerste deel het interaktiewe besprekings en visuele voorbeelde gebruik om kernkonsepte bekend te stel. In die tweede deel het deelnemers opnames van hulle eie aanbiedings voorgelê en opbouende terugvoer ontvang deur ewekniegesprek en persoonlike afrigting, wat geleenthede vir onmiddellike verbetering geskep het.
Die ondersteunende en ontspanne leeromgewing het deelnemers aangemoedig om nuwe benaderings tot kommunikasie op die proef te stel. Baie het teen die einde van die sessie reeds merkbare verbeteringe in hulle selfvertroue en aanbiedingsvaardighede aangemeld.
Meer as twee dekades se ervaring in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf maak van Davis ’n goeie leermeester. Benewens haar werk as aktrise, regisseur en vervaardiger, tree sy al langer as 12 jaar op as media-afrigter wat akademici, nagraadse studente en beroepslui bystaan om hulle kommunikasievaardighede te ontwikkel.
Vir inligting oor toekomstige werkwinkels, kontak Claudia Swart: [email protected]