
Jeanne-Marié Koekemoer op die verhoog in Die koning en sy bruid
Van plaknotas na die verhoog
- Studenteskrywer, -regisseur en -akteur van die US trap diep spore by 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees.
- Jeanne-Marié Koekemoer, ʼn honneursstudent in drama aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat opgang op die Suid-Afrikaanse teatertoneel maak, neem in verskeie hoedanighede aan vier produksies by die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees deel.
- Koekemoer het onlangs teruggekeer van ʼn twee week lange teater- en dramakursus by die Edinburgh Universiteit as deel van die Skotse Universiteite se internasionale somerskool.
Jeanne-Marié Koekemoer, ʼn honneursstudent in drama aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat opgang op die Suid-Afrikaanse teatertoneel maak, neem in verskeie hoedanighede aan vier produksies by die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees deel.
Toe ons mekaar tussen haar repetisies by ʼn bedrywige koffiewinkel op haar tuisdorp ontmoet, daag Koekemoer in ʼn helder somersrok op en haar gesig straal van entoesiasme terwyl sy oor haar nering en komende produksies praat. Woorde tuimel uit met dieselfde uitbundige energie wat haar kreatiewe lewe aanvuur.
Storievertelling is nie bloot ʼn passie nie, maar Koekemoer se manier van in die wêreld wees. Dis hoe sy die “duisende stukke” van die mense rondom haar in haar produksies inkorporeer. “Jy wéét net wanneer iets spesiaal of ongewoon of interessant is aan die oomblik waarin jy is. En ek dra altyd ʼn boekie of iets saam om vinnig notas te maak, ook van goed wat mense kwyt raak wat interessant klink. Daar is dikwels woorde wat ek weet kan werk, en dan pen mens dit soort van op plaknotas neer en probeer dit êrens plaas.”
Koekemoer het die voorreg gehad om in ʼn kreatiewe gesin groot te word en haar liefde vir teater het dus vroeg begin. Die Koekemoer-kinders en hulle maats het elke Desembervakansie toneelstukke opgevoer en sy het dwarsdeur haar skoolloopbaan aan produksies deelgeneem. Sy beskryf haar drama-onderwysers op laerskool en hoërskool as van haar "grootste invloede". In 2017 het sy as leerder aan die Hoërskool Stellenbosch die ATKV se Tienerdramakompetisie-toekenning vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol in Blessings gewen. Twee jaar later is sy genomineer vir die ATKV se Tienertoneeltoekenning vir mees belowende vertolking deur ʼn vrou. “Toneelspel was nog altyd deel van wie ek is,” vertel Koekemoer. Haar ma is ʼn illustreerder en haar suster, tans ʼn mediese student, was ook lief vir toneelspeel. Haar oorlede pa was 'n ywerige musikant en orrelis wat ook in die militêre koor, die Kanaries, gesing het. "Ek het beslis my avontuurlustige gees van hom geërf," voeg sy by.
Koekemoer het onlangs teruggekeer van ʼn twee week lange teater- en dramakursus by die Edinburgh Universiteit as deel van die Skotse Universiteite se internasionale somerskool, ʼn ervaring wat sy as “lewensveranderend” beskryf. Om die Edinburg-fees by te woon was ook ʼn lank gekoesterde droom wat bewaarheid is. “Dit was wonderlik om nie net Edinburg se kuns te sien nie, maar ook dié van Australië, van Brasilië – van oraloor. Dit was so bevorderlik vir my werk en nou is ek net geweldig opgewonde om daardie dinge hier te probeer.” Sy voeg by dat Suid-Afrikaanse teater op gelyke voet met internasionale aanbiedinge is, deels omdat plaaslike kunstenaars ʼn tekort aan befondsing die hoof moet bied en derhalwe gedwing word om meer innoverend en kreatief te wees. Die ervaring het haar daaraan herinner dat dit moed verg om “te verbeel en stories en wêrelde te bou”.
Koekemoer het vanjaar uit haar moed en kreatiewe energie geput om aan vier Woordfees-produksies deel te neem wat volgens haar elkeen “unieke geleenthede vir groei” bied. Sy beskryf Die koning en sy bruid as “die prettigste vertoning om in te speel, asook die lonendste vertoning”. Haar rol is baie fisies en vereis toneelspel “van my tone tot my kop”, vertel sy laggend. Keenan ennie Klopse, waarvan sy die regisseur is, is “ʼn ongelooflike storie waarvan ek so bevoorreg is om net deel te wees en getuie van te wees en te kan sien”.
As verhoogbestuurder vir die kinderteaterproduksie Grommels kry sy die geleentheid om die samewerkingsproses te geniet sonder om toneel te hoef speel. “Dis pret, want al is daar nie baie druk op my nie, dit is steeds 'n groot vreugde om saam met talentvolle mense te werk wat ek gelukkig genoeg is om ook my vriende te noem." Sy sê die "fenomenale werk" is 'n lieflike storie vir kinders. In Die Olifant pak Koekemoer ʼn tegnies veeleisende rol aan wat poppespel behels. “Dis nogal moeilik en ingewikkeld, maar dit was ʼn koel leerkurwe.”
Gevra oor haar gunsteling teater-“hoed”, sê Koekemoer sy sal regie kies. “Ek speel al toneel vandat ek klein was. Dis iets wat aanhou groei, maar ek is reeds redelik gemaklik daarmee. Die regie en die kreatiewe kant van dinge is egter iets waarop ek nou eers en oor die afgelope drie jaar van my lewe verlief geraak het. Dit is dus iets baie opwindends vir my omdat dit so nuut en vars is, en ek leer met elke projek.”
Koekemoer se kreatiewe proses word ten diepste beïnvloed deur haar omgewing en die mense rondom haar. “Ek put baie inspirasie uit mense na wie ek opsien en teatermakers na wie se visuele styl ek opsien.” Die Première-teaterfees aan die US, wat deur André Gerber en Elana-Marie Snyman gestig is om nuwe teaterwerk aan te moedig, is ook 'n onskatbare platform vir studente soos Koekemoer, aangesien dit ’n wegspringplek bied vir baie van die produksies wat by die Woordfees opgevoer word.
Oor haar skeppende proses sê sy: “Ek dink dikwels eers visueel en dan begin ek skryf.” Sy beskryf haarself as “ʼn klein speurder” en voeg by dat kreatiwiteit dikwels begin deur aandag aan die alledaagse lewe te skenk. “Ek dink dit gaan oor stories en om aandag te skenk aan jou omgewing en aan die mense rondom jou en aan die dinge wat met jou gebeur,” sê sy. “En ek dink veral skryf is iets wat van jou af kom, want dit gaan oor vrae in jou lewe wat jy deur skryf verwerk.”
Gevra hoe sy dit regkry om gelyktydig ’n balans tussen die eise van toneelspel, skryf en regie te vind, vertel Koekemoer sy het vanjaar die belangrikheid daarvan besef om balans te prioritiseer. “Ek leer beslis nog, maar ek het besef dat ons tyd baie min is. Die mense vir wie ons lief is, is ook baie belangrik. Ek jaag al teen 184 myl per uur sedert ek 12 of 13 jaar oud was. Ek het besef dis nie die enigste belangrike ding in my lewe nie. Dit is spesiaal om ook tyd saam met my gesin en vriende te prioritiseer.”
Sy wend haar tot “The War in England”, ʼn gedig van die Skotse digter Hugh Mac Diarmid wat sy onlangs as deel van haar kursus by die Edinburgh Universiteit ontdek het, en lees dit hardop voor om haar diep liefde vir die natuur en die buitelewe te deel.
I was better with the sounds of the sea
Than with the voices of men,
And in desolate and desert places
I found myself again.
Wat die toekoms betref, beplan Koekemoer om Kaapstad toe te trek, na internskappe te soek en aan te hou skep. Sy het reeds werk vir komende feeste. “Ek sou graag weer eendag wou studeer,” vertel sy, “maar ek wil eers uitvind hoe die wêreld buite studies werk en waar my belangstellings lê.”