Casey-Lee Anthony se joernalistiekdroom kry vlerke by die US
- Casey-Lee Anthony het in Kimberley grootgeword, maar het gedroom om eendag ʼn tydskrifredakteur in New York te word.
- Sy het in 2021 die eerste keer vir ʼn honneursgraad in joernalistiek aan die US aansoek gedoen, maar is nie gekeur nie.
- Dié vasberade aspirant-joernalis het volhard, praktiese media-ervaring opgedoen en toe by die US se Joernalistiekklas van 2025 aangesluit wat vandeesweek gradueer.
Lank voordat Casey-Lee Anthony daarvan begin gedroom het om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer, het sy haarself reeds as deel van die mediawêreld verbeel.
Op laerskool het sy voor skool tydskrifte gelees of die oggendnuus gekyk en was gefassineer deur die manier waarop joernaliste so maklik van ernstige beriggewing na vermaaklikheidstories kon oorslaan. Sy het gou haar eie tuisgemaakte tydskrifte met denkbeeldige opskrifte begin fabriseer en dit aan familielede versprei.
“Ek was behep daarmee om People te lees en die oggendnuus voor skool te kyk,” onthou Anthony. “Dis waar my droom om ʼn joernalis te word ontstaan het.”
Dit was die begin van ʼn visie wat haar van Kimberley in die Noord-Kaap tot by die veeleisende Honneurs-BA Joernalistiek-kursus aan die US geneem het.
Kinderjare gevorm deur stories
Anthony het grootgeword in ʼn huis waar nuuskierigheid en verbeelding deur die mense naaste aan haar aangemoedig is. Haar ma, Yolanda Rosier, en oupa, Wilfred Paulse, was van die eerstes wat opgemerk het hoe storievertelling haar boei. Hulle het altyd na my geluister terwyl ek vertel het van my drome en die fiktiewe stories wat ek sou skryf,” sê sy.
Nog ʼn vroeë invloed was haar tannie, Meleney Goa, ʼn Engelse onderwyseres wat haar gehelp het om haar liefde vir taal en letterkunde te koester. “Sy het vir my een van my eerste storieboeke gegee. Sy het my aangetrokkenheid tot die Engelse taal en skryfwerk verstaan.”
Onderwysers het ook ʼn vormende rol gespeel. In graad 8 het me Elzette Berndt – oftewel “Miss B” – een van die eerste mense geword wat die potensiaal van Anthony se skryfwerk raakgesien het. “Sy het my laat voel asof my skryfvermoë die potensiaal gehad het om veel meer te wees,” vertel Anthony. “Sy het my altyd aangemoedig om ʼn loopbaan in skryf of Engels na te streef.” Berndt het aangehou om haar vordering dop te hou selfs nadat sy die skool verlaat het.
Anthony het as tiener koerante en tydskrifte verslind, van die plaaslike Diamond Fields Advertiser en NoordKaapBulletin tot nasionale koerante en TV-nuusprogramme. Sy onthou hoe trots sy was wanneer die Noord-Kaap nasionale nuusdekking gehaal het. “Ek sou baie opgewonde raak om te sien dat die plek waar ek woon, uiteindelik erkenning kry,” sê sy.
ʼn Omweg na Stellenbosch
Anthony het haar akademiese reis aan die Universiteit van die Vrystaat begin, waar sy ʼn graad in joernalistiek voltooi het. Toe sy nie daar ʼn honneurs in joernalistiek kon volg nie, het sy ʼn honneurs in kommunikasie verwerf.
Sy het in 2021 die eerste keer vir die veeleisende joernalistiekkursus aan die US aansoek gedoen. “Ek het gehoor dis een van die beste joernalistiekgrade in die land en dat dit regtig moeilik is om aanvaar te word,” vertel sy. “Ek het vir myself gesê as ek inkom, moet ek goed genoeg wees om ʼn joernalis te wees.”
Al het sy nie deur al die stadiums van die keuringsproses gevorder het nie, het die wete dat sy die eerste rondte geslaag het, haar vasberadenheid versterk. Sy het begin om ondervinding in die mediaveld op te doen. Sy het as ʼn media-attaché in die Kantoor van die Premier van die Noord-Kaap gewerk en ʼn internskap by OFM-radio voltooi.
Sy het bly hoop om eendag by die US aanvaar te word. In 2025 het sy uiteindelik haar plek in die kursus ingeneem.
Veerkragtigheid en haar eie stem
Die jaar was opwindend én uitputtend. “Daar was elke dag iets wat gedoen moes word,” vertel Anthony. “Dit het gevoel soos ʼn heeltydse werk, net ʼn bietjie erger.”
Sperdatums was meedoënloos en dit was dikwels moeilik om tyd vir rus te vind. “My ma was die rede waarom ek deurgedruk het. Sy het my gedurig daaraan herinner dat dit alles die moeite werd sou wees.” Haar pa, Nathan, het haar altyd aangemoedig om te studeer omdat hy nie die geleentheid gehad het om dit te doen nie. “Hy het altyd seker gemaak ons weet hy staan agter ons wanneer dit by ons opvoeding kom.”
Soos talle ander joernalistiekstudente het Anthony oomblikke van twyfel langs die pad ervaar. Gedurende haar finale diepte-projek het die druk besonder erg geword. “Dit het gevoel asof ek elke dag paniekaanvalle kry.”
Tóg het die gevoel van kameraadskap onder klasmaats haar gehelp om deur te druk. “Ons was altyd dáár vir mekaar,” vertel sy. “Soms het ons na die BP-garage gestap, ʼn worsrol gekoop en sommer oor alles en nog wat gesels.”
Anthony sê haar studie aan die US het haar ver buite haar gemaksone geneem en haar gedwing om meer onafhanklik te word. “Dit het my uitgedaag om meer krities te dink, onder druk te werk en meer vertroue in my vermoëns as kommunikeerder en storieverteller te kry. Professioneel het dit my ook die geleentheid gegee om werklike rolle en verantwoordelikhede te vervul, wat my gehelp het om te verstaan waarheen ek my loopbaan vorentoe wil neem.”
Nuwe rolmodelle
Vir Anthony lê die waarde van joernalistiek in die toewyding tot feite, billikheid en verantwoordelike storievertelling. “Dis maklik om ʼn artikel te skryf,” sê sy. “Maar om die volledige artikel met feite, aanhalings en alle kante van die storie te skryf, is wat dit laat uitstaan.”
Wat die pad vorentoe betref, is dit duidelik dat Anthony se kindertyd-droom wat met tydskrifte en oggendnuusprogramme begin het, steeds springlewendig is. “Ek het nog altyd ʼn loopbaan verbeel wat rondom storievertelling en die vorming van narratiewe wat saak maak, wentel. Van hier af sien ek myself aanhou groei as ʼn skrywer en redakteur, en dat ek ondervinding in verskillende mediaruimtes sal opdoen terwyl ek my stem en perspektief verfyn. Uiteindelik hoop ek om stories te vertel wat die kollig op mense, idees en kwessies laat val wat dikwels ongemerk verbygaan, asook om werk te skep wat deurdag, boeiend en betekenisvol vir lesers is.”
Die beroemdes wat sy as kind bewonder het, is nou deur nuwe rolmodelle vervang. Deesdae word sy geïnspireer deur Suid-Afrikaanse joernaliste soos Caryn Dolley, ʼn ondersoekende verslaggewer by Amabhungane, en Qaanitah Hunter, ʼn toonaangewende Suid-Afrikaanse politieke joernalis. “Ek bewonder Caryn vir haar dapperheid in ondersoekende joernalistiek en haar toewyding aan die waarheid, en Qaanitah vir hoe hard sy gewerk het om aan te pas by hoe die samelewing nuus verbruik terwyl sy steeds sterk, insiggewende politieke verslaggewing lewer.”