Skip to main content
Delegates at the Sandbox Workshop
Image by: Supplied

Senior Suid-Afrikaanse regeringsamptenare, internasionale kenners, akademici en beleidspraktisyns het by die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke byeen gekom vir die werkswinkel.

Persverklaring

US-werkswinkel help om denke oor digitale openbare infrastruktuur in SA te vorm

Corporate Communication and Marketing
12 Februarie 2026
  • Die Beleidslaboratorium aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n hibridiese werkswinkel aangebied om te verken hoe regulatoriese sandbakbenaderings Suid-Afrika se Digitale Openbare Infrastruktuur (DOI) kan ondersteun.
  • Deelnemers het oor die verloop van twee dae ondersoek hoe regerings toenemend komplekse digitale stelsels op maniere kan reguleer wat innovasie moontlik maak terwyl openbare waardes beskerm word.
  • Die werkswinkel het ruimte vir ingeligte, konteks-sensitiewe besinning geskep en die grondslag vir meer doelbewuste, bewysgebaseerde benaderings tot die bestuur van Suid-Afrika se digitale toekoms gelê.

Die Beleidslaboratorium aan die Universiteit Stellenbosch (US), in vennootskap met die Tegniese Universiteit van München (TUM) Dinktenk en die Globale Netwerk van Internet- en Samelewingsentrums, het onlangs 'n hibridiese werkswinkel aangebied om te verken hoe regulatoriese sandbakbenaderings Suid-Afrika se Digitale Openbare Infrastruktuur (DOI) kan ondersteun.

Senior Suid-Afrikaanse regeringsamptenare, internasionale kenners, akademici en beleidspraktisyns het by die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke byeen gekom vir die werkswinkel.

Deelnemers het oor die verloop van twee dae ondersoek hoe regerings toenemend komplekse digitale stelsels op maniere kan reguleer wat innovasie moontlik maak terwyl openbare waardes soos aanspreeklikheid, insluiting, privaatheid en sekerheid beskerm word. 

"Sandbakke het internasionaal as een van verskeie instrumente na vore gekom wat regerings kan gebruik om die uitdaging van die regulering van digitale tegnologieë aan te spreek," verduidelik prof Willem Fourie, Direkteur: US Beleidslaboratorium b. "Hulle bied gestruktureerde, tydsgebonde omgewings vir proefnemings waar beleidmakers en reguleerders nuwe tegnologieë, dienste of beleidsbenaderings onder gedefinieerde omstandighede en waarborge toets," het Monique Bennett, Beleidsdialoogbestuurder: US Beleidslaboratorium en organiseerder van die geleentheid, bygevoeg. 

Bou aan 'n gedeelde begrip 

Die eerste dag het op die ontwikkeling van 'n gedeelde konseptuele begrip van regulatoriese sandbakke gefokus. Eerder as om direk met Suid-Afrika-spesifieke ontwerpvrae weg te spring, het besprekings ondersoek ingestel na wat sandbakke is, wat hulle nie is nie, en waarom hulle as bestuursinstrumente in verskillende jurisdiksies na vore gekom het, het Bennett gesê.

Een deelnemer van 'n internasionale navorsingsnetwerk het tereg die volgende opgemerk: "Die werklike waarde van die sandbakbenadering is nie spoed nie, maar leer. Dit gee instellings 'n manier om aannames te toets voordat dit wetlik of by grootskaalse stelsels ingebed word."

Deelnemers is aan verskillende soorte sandbakbenaderings, insluitende bedryfs-, beleids- en hibridiese modelle bekendgestel. Dit het amptenare gehelp om te besef die regering is reeds met proefnemings besig, maar dikwels sonder gedeelde terminologie of formele maniere om dít wat geleer word, vas te vang en toe te pas 

Sprekers het ook gewaarsku dat sandbakke nie universeel geskik is nie. Dit vereis beduidende institusionele kapasiteit, koördinering en politieke ondersteuning. Swak ontwerpte of swak bestuurde sandbakke loop die gevaar om simboliese oefeninge te word wat kompleksiteit eerder as duidelikheid byvoeg. 

Toevoeging van openbare waarde 

Daar is prominente vrae oor aanspreeklikheid en openbare vertroue, het Bennett gesê. Deelnemers het beklemtoon dat digitale openbare infrastruktuur stelselwye implikasies vir burgers en sakeondernemings inhou sodra dit geskaal is. 

Internasionale gevallestudies uit gebiede soos kunsmatige intelligensie, databeskerming en aanlynveiligheid het eerlike besinnings oor uitdagings gebied, insluitende stadige institusionele aanvaarding en probleme om sandbaklesse in formele beleidshervorming om te skakel. 'n Herhalende boodskap was dat die impak van sandbakke minder van die proefneming self afhang en meer van hoe instellings die leer wat dit oplewer, benader. 

Van wêreldwye lesse tot Suid-Afrikaanse toepassing 

Die tweede dag het die fokus van wêreldwye konsepte na nasionale werklikheid verskuif. Deelnemers het gekyk na waar die aanwending van sandbakke waarde binne Suid-Afrika se DOI-agenda kan toevoeg, met 'n besondere fokus op institusionele gereedheid en interdepartementele koördinering. 

Die hoogtepunt van die dag was 'n gefasiliteerde oefening wat op Suid-Afrika se drie DOI-inisiatiewe gefokus het wat prioriteit geniet: Digitale Identiteit, Data-uitruiling en Digitale Betalings. Eerder as om met tegnologie te begin, het groepe wetlike, institusionele en sosiale onsekerhede geïdentifiseer wat die inwerkingstelling en openbare vertroue kan beïnvloed. 

Deelnemers het in al die besprekings daarteen gewaak om sandbakke as 'n algemene oplossing vir alles te gebruik. Hulle het in verskeie gevalle tot die gevolgtrekking gekom dat duideliker institusionele mandate of beleidsverduideliking meer doeltreffend as proefnemings kan wees. Waar die gebruik van sandbakke as nuttig beskou is, is dit in noue terme as 'n meganisme gestel om koördinasiemodelle te toets of regulatoriese interpretasie te verduidelik, eerder as om grootskaalse tegniese loodsprojekte te versnel.

Grondslag vir toekomstige werk

'n Belangrike insig wat in terugvoer by die volle vergadering na vore gekom het, was die behoefte om enige sandbakpogings met Suid-Afrika se grondwetlike en administratiewe regsraamwerk te belyn, insluitende verpligtinge wat met regte, aanspreeklikheid en openbare deelname verband hou. Dit het die siening versterk dat sandbakgebruik in die DOI-konteks hoofsaaklik 'n bestuurs- en beleidsleer-oefening is.

Die werkswinkel het sonder voorskriftelike aanbevelings afgesluit, merk Fourie op. "Dit het eerder aan beleidmakers 'n duideliker raamwerk verskaf waarvolgens hulle kan oordeel wanneer die gebruik van sandbakke gepas is en watter institusionele toestande nodig is sodat dit kan waarde toevoeg."

Die werkswinkel het ruimte vir ingeligte, konteks-sensitiewe besinning geskep en die grondslag vir meer doelbewuste, bewysgebaseerde benaderings tot die bestuur van Suid-Afrika se digitale toekoms gelê, het Fourie bygevoeg. 

Merkers

Regering

Verwante stories