US-webwerf internasionaal met gesogte Goue Penveer-toekenning vereer
- Die US se nuwe, herontwerpte webwerf het 'n internasionale Goue Penveer-merietetoekenning verower.
- Beoordelaars prys deeglike navorsing, gebruikersfokus en uitvoering op skaal.
- Erkenning bevestig US se strategiese benadering tot digitale kommunikasie.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het pas 'n internasionale Goue Penveer-merietetoekenning van die Internasionale Vereniging vir Besigheidskommunikasie (IABC) ontvang vir sy nuwe, herontwerpte webwerf. Hierdie eer dien as betekenisvolle internasionale onderskrywing van die Universiteit se benadering tot digitale kommunikasie.
Die toekenning, wat in die Digitale Kommunikasie-kategorie binne die Kommunikasievaardighede-afdeling toegeken is, is een van die mees gerespekteerde internasionale erkennings op hierdie gebied. Dit erken nie net kreatiewe uitvoering nie, maar ook strategiese belyning, meetbare resultate en die vermoë om betekenisvolle uitkomste vir uiteenlopende gehore te lewer.
Hierdie erkenning bevestig dat die US se digitale teenwoordigheid nie bloot funksioneel is nie, maar 'n strategiese platform is vir vertroue, skakeling en institusionele reputasie, sê Karen Bruns, Hoofdirekteur: Bevordering, Belanghebber-interaksie en Kommunikasie (ASEC). "In 'n hoëronderwysomgewing wat al hoe mededinger word, is ons webwerf dikwels die eerste en belangrikste verbindingspunt met studente, alumni, skenkers, vennote en die breër publiek en hierdie hoë-gehalte internasionale erkenning maak saak."
Tertia Kruger, Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie en Openbare Skakeling, sê die toekenning weerspieël 'n doelbewuste en vooruitstrewende kommunikasiestrategie.
"Om die Goue Penveer-merietetoekenning in te palm is 'n kragtige bevestiging van die Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot duidelike, impakvolle kommunikasie in 'n digitale era," merk Kruger op. "As maatstaf van uitnemendheid wat wêreldwyd erken word, beklemtoon hierdie toekenning nie net die gehalte van ons nuwe webwerf nie, maar ook ons strategiese, vooruitdenkende benadering tot digitale betrokkenheid. Dit weerspieël ons voorneme om voortdurend te innoveer, betekenisvol met ons gehore om te gaan en die Universiteit met oortuiging binne 'n mededingende wêreldlandskap te posisioneer."
Buitengewone omvang van die projek
Aan die kern van die prestasie lê 'n projek wat deur sy omvang én kompleksiteit gedefinieer word. Die herontwerpte webwerf, wat in September verlede jaar bekendgestel is, strek oor meer as 500 subwebwerwe oor fakulteite, departemente en administratiewe afdelings heen. Dit bring 'n reusagtige ekostelselsel van inligting byeen om 'n meer samehangende, toeganklike geheel te vorm.
Die herontwikkeling het die migrasie van meer as 12 000 webblaaie en net soveel nuusstories, tesame met ongeveer 50 000 lêers, behels. Daar moes ook 'n volledig meertalige platform gebou word en die inhoud moes toeganklik en maklik navigeerbaar vir 'n wye reeks gebruikers wees – van voornemende studente en navorsers tot personeel, alumni en die publiek.
"Die uitdaging van universiteitswebwerwe is dat hulle so groot en inhoudryk is en soveel verskillende gehore moet bedien," sê Marick Hornsveld, Adjunkdirekteur: Digitale Innovasie en Projekte in die US se Korporatiewe Kommunikasie- en Bemarkingsafdeling. "Ek glo ons het erkenning ontvang danksy die enorme omvang van die projek, hoe goed ons dit bestuur het en hoe visueel indrukwekkend en interessant ons nuwe webwerf is."
Navorsing, bruikbaarheid en impak
'n Sentrale fokuspunt van die Goue Penveer-toekennings is of 'n kommunikasieplatform sy beoogde doel bereik. In SU se geval moes daar bewys gelewer word dat die nuwe webwerf op navorsing gegrond is en op gebruikersbehoeftes reageer.
Breedvoerige vóór- en ná-projeknavorsing is in die inskrywing uitgelig om aan te dui hoe die herontwerp sleuteluitdagings aangespreek en die gebruikerservaring verbeter het. Studente het veral positief op die nuwe ontwerp gereageer, terwyl breër opnames op groot tevredenheid onder ouers, voornemende studente en alumni dui.
Die beoordelaars het die projek se belyning tussen strategie en uitvoering geprys en opgemerk dat die werk "goed met die doel strook" en deur deeglike navorsing oor gehoorbehoeftes ondersteun word. Hulle het gevind dat die ontwerpkeuses doeltreffend deur gebruikersgedrag ingelig is en dat die webwerf waarskynlik aandag sal trek en skakeling sal aanmoedig.
Hulle het ook die organisering van die webwerf, asook die konsekwentheid en funksionaliteit daarvan geprys, en het die doeltreffende gebruik van navorsings- en inligtingsargitektuur om goeie resultate te lewer, beklemtoon.
Erkenning vir 'n veeleisende reis
Agter die toekenning lê 'n veeleisende en komplekse reis, verduidelik Hornsveld. Die projek is deur 'n relatief klein span, bestaande uit Hornsveld, Rulanzen Martin, Ilze Grobler, Elsabé Grauso en die projekbestuurder, Leanne Pharoah, tot uitvoering gebring. Hulle moes die herontwikkeling met deurlopende instandhouding van die bestaande webwerf balanseer, terwyl hulle insette van verskeie belanghebbendes regoor die Universiteit moes koördineer.
Ondanks hierdie uitdagings is die eindproduk 'n visueel aantreklike en hoogs funksionele platform wat buigsaamheid aan inhoudeienaars bied terwyl dit konsekwentheid en gebruiksgemak behou. Die span het ook toeganklikheid geprioritiseer deur dit in die kern van die webwerf in te bou en Vlak A-voldoening aan die Riglyne vir die Toeganklikheid van Webinhoud (WCAG) 2.2 te bereik.
Die erkenning is vir Hornsveld en haar span besonder betekenisvol. "Omdat dit so 'n groot, uitdagende projek was, voel dit wonderlik om deur eweknieë van regoor die wêreld erken te word, veral aangesien inskrywings aan internasionale professionele standaarde in kommunikasie gemeet word," sê sy. "Ons kan nou met trots sê ons webwerf word wêreldwyd erken. Ons het ongelooflik baie moeite met die projek gedoen en dit voel goed dat dit erken word."
Hornsveld voeg by dat Rogerwilco, die Universiteit se ontwerp- en ontwikkelingsvennoot, "fantastiese" ondersteuning gebied het. "Ons was regtigwaar vennote in die projek en hulle het ons verwagtinge oortref en aan al ons behoeftes vir die projek voldoen.
Die webwerf lok nou gemiddeld 1,6 miljoen besigtigings per maand, met sterk direkte verkeer en soek-sigbaarheid, wat die bruikbaarheid én reikwydte van die platform weerspieël.
'n Strategiese bate vir 'n internasionale universiteit
Benewens die onmiddellike prestasie posisioneer die Goue Penveer-toekenning die US se webwerf as 'n strategiese institusionele bate – een wat betrokkenheid verhoog, reputasie verbeter en die Universiteit se breër doelwitte in 'n internasionale omgewing ondersteun wat al hoe meer mededingend word.
Die prys maak dit duidelik dit is 'n oomblik van bevestiging vir 'n projek wat visie, volharding en samewerking regoor die instelling geverg het. Noudat wêreldwye erkenning verseker is, kan die Universiteit met hernude vertroue sy digitale voordeur tot sy voordeel aanwend.