Skip to main content
Graduation
Image by: Stefan Els

Meer as 6 000 graduandi sal aanstaande week oor die verhoog van die Coetzenburg-sentrum stap wanneer die Universiteit Stellenbosch (US) sy grootste reeks Desember-gradeplegtighede ooit aanbied.  

Persverklaring Toekennings en mylpale

US vier rekordgetal kwalifikasies by Desember-gradeplegtighede

Anél Lewis
Senior journalist
05 Desember 2025
  • Universiteit Stellenbosch (US) bied aan sy grootste reeks Desember-gradeplegtighede ooit. 
  • Deur die loop van die komende week sal die Universiteit by 13 plegtighede sertifikate, diplomas en grade aan 6 405 studente oor al sy fakulteite heen toeken.
  • Drie eredoktorsgrade word gedurende hierdie Desember-gradeweek toegeken. 

Meer as 6 000 graduandi sal aanstaande week oor die verhoog van die Coetzenburg-sentrum stap wanneer die Universiteit Stellenbosch (US) sy grootste reeks Desember-gradeplegtighede ooit aanbied.  

Deur die loop van die komende week sal die Universiteit by 13 plegtighede sertifikate, diplomas en grade aan 6 405 studente oor al sy fakulteite heen toeken. Die gradeplegtigheidsweek duur van Maandag tot Vrydag, 8–12 Desember. Hierdie allesoortreffende geleentheid sal ook die Universiteit se laaste Desember-gradeweek wees voor die oorgang na 'n enkele jaarlikse gradeplegtigheidstydperk vanaf 2027. 

Kwalifikasies het op voorgraadse én nagraadse vlak gestyg met doktorsgrade wat met 'n beduidende 11,8% in vergelyking met verlede jaar gestyg het. Hoewel meer doktorsgrade tradisioneel aan mans as vroue toegeken is, sal meer vroue as mans hierdie Desember hulle doktorsgrade ontvang. 

Die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Teologie het almal 'n beduidende dubbelsyfer-toename in die aantal kwalifikasies wat vanjaar toegeken word, getoon. Die fakulteite Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Krygskunde ken almal vandeesmaand 'n rekordaantal nagraadse kwalifikasies toe, terwyl die fakulteite AgriWetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regte en Wetenskap almal hulle hoogste aantal voorgraadse kwalifikasies toeken.  

"Gradeweek is altyd 'n oomblik van diepe trots vir ons Universiteit wanneer ons ons studente eer wat hierdie merkwaardige mylpaal bereik het. Ek wens elke graduandus geluk met hulle harde werk en deursettingsvermoë. Mag hierdie prestasie die begin van 'n leeftyd van doelgerigtheid en moontlikhede wees," sê prof Deresh Ramjugernath, die US se Rektor en Visekanselier.  

Die Universiteit sal ook eredoktorsgrade aan buitengewone individue toeken wat hulleself op hulle onderskeie gebiede onderskei het en betekenisvolle bydraes tot die samelewing gelewer het. Drie eredoktorsgrade word gedurende hierdie Desember-gradeweek toegeken.  

Colin Deiner, die Wes-Kaapse provinsiale regering se Hoofdirekteur: Rampbestuur en Brand- en Reddingsdienste, sal die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang. Hy word internasionaal vir sy uitgebreide kundigheid in rampbestuur en noodreaksie erken. 

Entrepreneur en SU-alumnus Chris Otto sal die graad Doktor in die Regte (LLD), honoris causa, ontvang. Otto is die medestigter van die PSG-groep en Capitec Bank. Hy is ook die stigtersvoorsitter van die Stellenbosch Regsfakulteittrust wat met die vestiging van die Leerstoel in Sosiale Geregtigheid, die Gys Steyn-leerstoel in Finansiële Reguleringsreg en die Leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur gehelp het. 

Die wêreldbekende epidemioloog, prof Salim Abdool Karim, wie se eredoktorsgraad van 2024 af oorgestaan het, sal die graad Doktor in die Wetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Die nasionale minister van gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, sal hierdie plegtigheid bywoon. Karim het gedurende die Covid-19-pandemie 'n leidende rol in Suid-Afrika se reaksie gespeel deur kritieke wetenskaplike leiding oor genetiese mutasies in SARS-CoV-2 en die ontstaan van nuwe variante te bied. 

Die US sal nóg drie eredoktorsgrade by sy gradeplegtighede in Maart 2026 toeken. Die Nobelpryswenner en internasionaal bekroonde skrywer, prof Abdulrazak Gurnah; die vooraanstaande sosiale wetenskaplike en epidemioloog, dr Olive Shisana; en die innoveerder, dr Tjaart Johannes van der Walt, sal aanstaande jaar hulle eredoktorsgrade ontvang. 

"Terwyl ons hulde bring aan uitstaande leiers wat eredoktorsgrade ontvang, word ons aan die US se verbintenis tot uitnemendheid, innovasie en maatskaplike impak herinner," sê Ramjugernath.  

Die Universiteit sal vanaf 2027 sy gradeplegtighede in 'n enkele jaarlikse reeks konsolideer wat in Maart/April gehou sal word, eerder as die huidige twee gradeweeksiklusse. 

  • Klik hier om meer oor die Desember 2025-gradeweek uit te vind.
  • Klik hier vir die gradeplegtigheidskedule.
  • Die plegtighede kan hier per regstreekse stroomuitsending gevolg word. 

 

Verwante stories