Skip to main content
A view of the library on the Stellenbosch campus.
Image by: Stefan Els

Die Universiteit Stellenbosch Biblioteek- en Inligtingsdiens.

Institusionele nuus

US verskyn in topposisie op 2025 Sjanghai-vakranglys

Alec Basson
20 November 2025
  • Sjanghai- ranglys se Internasionale Ranglys van Akademiese Vakke is Woensdag 19 November vrygestel.
  • US beste in SA in Voedselwetenskap en -tegnologie, Biotegnologie, Kommunikasie, Biologiese Wetenskappe en die Landbouwetenskappe.
  • US onder die top 100 wêreldwyd in Ekologie en Openbare Gesondheid.

Indien jy sou belangstel om Voedselwetenskap en -tegnologie, Biotegnologie, Kommunikasie, Biologiese Wetenskappe of die Landbouwetenskappe in Suid-Afrika te studeer, hoef jy nie verder as die Universiteit Stellenbosch (US) te soek vir die ideale universiteit nie. Volgens die 2025 Sjanghai- ranglys se Internasionale Ranglys van Akademiese Vakke (GRAS) wat Woensdag 19 November vrygestel is, is die US die beste universiteit in die land in hierdie vakgebiede. Die instelling verskyn ook onder die top 100 wêreldwyd in Ekologie en Openbare Gesondheid. 

Die 2024-uitgawe van GRAS het meer as 1 900 instellings uit 96 lande en streke in 55 vakke oor vyf breë vakgebiede geëvalueer: Natuurwetenskappe, Ingenieurswese, Lewenswetenskappe, Geneeskundige Wetenskappe en Sosiale Wetenskappe. 

Die US is in 14 vakke beoordeel en het sy wêreldwye posisie in Geografie (top 150), Biologiese Wetenskappe (top 300) en Openbare Gesondheid verbeter. Dit is ook onder die top 150 instellings in Voedselwetenskap en -tegnologie en Kommunikasie, en onder die top 300 in Landbouwetenskappe, Kliniese Geneeskunde en Politieke Wetenskap. In Biotegnologie, Menslike Biologiese Wetenskappe, Ekonomie en Onderwys het die US dit in die top 400 gemaak. Nasionaal het die US ook op die ranglys geklim in Geografie (van 'n gedeelde vierde plek na derde) en Biologiese Wetenskappe (van gedeelde derde plek na gedeelde eerste plek). 

Die ranglys gebruik 'n reeks objektiewe akademiese aanwysers en derdeparty-data om die prestasie van universiteite in die toepaslike vakke te meet, insluitende kategorieë soos fakulteite en uitsette van wêreldgehalte, hoëgehalte navorsing, navorsingsimpak en internasionale samewerking.

Die Sjanghai-ranglys het in 2009 begin om die wêreldranglys vir universiteite volgens akademiese vakke te publiseer. Die GRAS is op hierdie grondslag gebaseer en is in 2017 met 'n verbeterde metodologie bekendgestel.

In reaksie op die US se jongste prestasie het die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Sibusiso Moyo, gesê: “Ons is werklik dankbaar teenoor ons akademici, navorsers en fakulteite wat verseker dat ons gehalte lewer op beide die leer- en onderrig-, en navorsings- en innovasiefront. As die US gaan ons voort om 'n nasionale, kontinentale en globale impak in diens van die samelewing te maak.

“Ons dankbaarheid strek tot al ons belanghebbendes en vennote wat ons steeds vertrou en hul studies aan die US voortsit. In die woorde van ons Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, ‘Die US streef daarna om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, en Afrika se eerste Top 100 globale universiteit te word.’”

Vanjaar (2025) was 'n goeie jaar vir die US ten opsigte van wêreldwye universiteitsranglyste. Die instelling was onder die top universiteite op die Times Higher Education (THE)-wêreldranglys vir universiteite per vakgebied, die QS (Quacquarelli Symonds)-wêreldranglys vir universiteite per onderwerp, die QS-wêreldranglys vir universiteite en die THE- wêreldranglys vir universiteite. Die Universiteit verskyn die afgelope paar jaar konsekwent onder die beste tersiêre instellings ter wêreld op hierdie ranglyste.

Verwante stories