Skip to main content
A view of the Red Square on the Stellenbosch campus
Image by: Photo by Stefan Els

Die Rooiplein op die Stellenbosch-kampus

News

US steeds onder bestes op invloedrykste wêreldranglys vir universiteite

Alec Basson
09 Oktober 2025
  • Die US verskyn as een van die beste universiteite ter wêreld op die jongste Times Higher Education -wêreldranglys vir universiteite
  • Dit is onder die top 350 tersiêre instellings
  • Dit is tweede in Suid-Afrika

Die Universiteit Stellenbosch (US) doen steeds sy reputasie gestand in 'n vinnig veranderende en mededingende wêreldwye hoëronderwyslandskap. In sy mees onlangse prestasie verskyn die US as een van die beste universiteite ter wêreld op die jongste Times Higher Education (THE)-wêreldranglys vir universiteite wat Donderdag 9 Oktober 2025 bekendgemaak is.

Die US is in die 2026-uitgawe vir die derde agtereenvolgende jaar onder die top 350 tersiêre instellings ter wêreld en vir die vyfde agtereenvolgende jaar tweede in Suid-Afrika. Dit deel die tweede plek met die Universiteit van die Witwatersrand.

Die THE-wêreldranglys vir universiteite is as die wêreld se invloedrykste universiteitsranglys die enigste wêreldwye prestasietabelle wat navorsingsintensiewe universiteite regoor al hulle kernmissies beoordeel: onderrig (die leeromgewing); navorsingsomgewing (navorsingsreputasie, navorsingsinkomste en navorsingsproduktiwiteit); navorsingsgehalte (aanhalingsimpak, navorsingsuitnemendheid en navorsingssterkte); internasionale uitkyk (internasionale personeel en studente, internasionale mede-outeurskap); en bedryf (bedryfsinkomste en patente).

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het in reaksie op die US se jongste prestasie gesê die Universiteit is tevrede met sy konsekwente posisie onder die beste hoëronderwysinstellings ter wêreld – en met die verbetering van sy algehele telling vir hierdie ranglys. 

"Ons is reeds aangehaal dat ons verklaar dat hoewel die ranglys steeds ingewikkeld bly en deur verskeie faktore en kontekste beïnvloed word, dit die gehalte van ons akademiese programme herbevestig en 'n bewys van die voortdurende, hoëvlakbydrae van ons navorsers tot die wêreldwye wetenskaplike poel van kennis is. 

"Die ranglys bly 'n indirekte aanwyser vir aspirantstudente en navorsers om 'n gevoel te kry van wat ons doen en ons sterk punte as 'n toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit wat ook een van die mees innoverende universiteite in Afrika bly, uit te lig. Ons ontvang versoeke van ander instellings om hulle beste praktyke teen ons s’n te meet. Daarbenewens gaan ons voort om uitstekende talent te lok en te behou ten opsigte van ons mense op alle vlakke wat 'n voortgesette bydrae tot die ranglysaanwysers en -uitkomste lewer. Gekoppel aan verbetering in die kategorieë onderrig, navorsingsomgewing, navorsingsgehalte en bedryf, wys dit dat ons inderdaad vorder met die bereiking van ons visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees." 

Aanwysers

Die Universiteit Stellenbosch het sy algehele telling (van 51,3 tot 52,8) verbeter, asook die telling vir die aanwysers onderrig (31,2 tot 34,8), navorsingsomgewing (van 40,1 tot 40,8), navorsingsgehalte (van 74,6 tot 75,5) en bedryf (van 89,5 tot 91,8). Wanneer jaar-tot-jaar-verbeterings vergelyk word, het onderrig die beste van al die aanwysers gevaar. Wat die wêreldposisie betref, was die US se aanwyser wat die beste presteer het, bedryf wat in die 191ste plek verskyn. Dit het ook die hoogste telling vir hierdie aanwyser in Suid-Afrika behaal.

Volgens die THE-wêreldranglys is die bedryf-aanwyser 'n universiteit se vermoë om die bedryfsomgewing met innovasies, uitvindings en konsultasie te help en het dit 'n kernmissie van die hedendaagse wêreldakademie geword. Dit poog om hierdie kennisoordragaktiwiteit vas te lê deur te kyk na hoeveel navorsingsinkomste 'n instelling uit die bedryfsomgewing verdien (aangepas vir PPP), gemeet teen die aantal akademiese personeel wat dit in diens het. Die aanwyser dui op die mate waarin sakeondernemings bereid is om vir navorsing te betaal en 'n universiteit se vermoë om finansiering in die kommersiële mark te lok – nuttige aanwysers van institusionele gehalte. 

Die onderrigaanwyser word deur die jaarlikse Akademiese Reputasie-opname ondersteun wat die waargenome aansien van instellings in onderrig en navorsing ondersoek. Behalwe om 'n gevoel te gee van hoe toegewyd 'n instelling daaraan is om die volgende geslag akademici op te voed, doen 'n groot persentasie nagraadse navorsingstudente ook aan die hand dat onderrig op die hoogste vlak verskaf word wat dus vir gegradueerdes aantreklik is en doeltreffend is om hulle te ontwikkel. 

Die US was vroeër in 2025 ook onder die topuniversiteite wêreldwyd op die THE-wêreldranglys vir universiteite volgens vak, die QS (Quacquarelli Symonds)-wêreldranglys vir universiteite volgens vak en die QS0wêreldranglys vir universiteite. Die US verskyn die afgelope paar jaar deurgaans onder die beste tersiêre instellings ter wêreld op hierdie ranglyste. 

 

 

Verwante stories