Van links na regs: Prof Deresh Ramjugernath, Johann Murray, prof Matilda Burden, Martin Viljoen en raadslid Ndipiwe Olayi.
US se mediabestuurder met gesogte gemeenskapstoekenning vereer
- Die Universiteit Stellenbosch se mediabestuurder, Martin Viljoen, is vir sy meer as twee dekades se diens aan die media en gemeenskapsbetrokkenheid vereer.
- Die e-Bosch-eretoekennings vier individue wat gemeenskapsbande versterk en plaaslike erfenis bevorder.
- Die geleentheid het die belangrikheid van storievertelling, samewerking en gedeelde identiteit in Stellenbosch se diverse gemeenskappe beklemtoon.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se mediabestuurder, Martin Viljoen, werk gewoonlik agter die skerms om die instelling en sy geliefde tuisdorp te bevorder, maar vroeër vandeesweek was hy in die kollig as die ontvanger van 'n prestigeryke mediatoekenning.
Viljoen en twee ander plaaslike professionele mediapraktisyns is by die gesogte e-Bosch-eretoekenningsgeleentheid, aangebied deur die e-Bosch Erfenisprojek by die US Museum, vereer. Die tema van vanjaar se toekennings was "Uitnemendheid in die mediabedryf in diens van die Stellenbosse Gemeenskap".
Viljoen het die toekenning ontvang ter erkenning van sy uitsonderlike bydraes as die US se woordvoerder om 'n positiewe beeld van die Universiteit en die dorp te bevorder. Die veteraanjoernalis Elsabé Retief is vir haar werk as jarelange redakteur van Eikestad Nuus vereer, en in haar hoedanigheid as redakteur het Carol Lakay 'n toekenning namens die Stellenbosch Tydskrif ontvang.
Die jaarlikse geleentheid is deel van die breër e-Bosch-erfenisprojek wat sosiale samehorigheid en 'n gedeelde identiteit regoor Stellenbosch se diverse gemeenskappe bevorder. E-Bosch, wat deur die US én die plaaslike munisipaliteit ondersteun word, bemagtig individue en kweek verhoudings deur 'n reeks inisiatiewe, insluitende die Erfenismaandfeeste, die Erfenistoekennings, die gewilde Skoolkoorfees en opheffingsprogramme vir die gemeenskap soos jeugentrepreneurskapsontwikkeling.
Viering van erfenis, kommunikasie en gemeenskap
Dr Sias Mostert van e-Bosch het die aand met 'n hartlike verwelkoming geopen. Hy het die belangrikheid van tasbare én ontasbare erfenis en die rol van media in die verwewing van die sosiale struktuur van die dorp beklemtoon. Hy het ook die pogings van diegene wat hulleself aan die versterking van gemeenskapsbande deur doeltreffende kommunikasie en storievertelling toewy, geloof.
Prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die US, het in sy toespraak die ontvangers van die toekennings geloof en gesê hulle werk beliggaam die gees van diens, behoort en positiewe verandering. "Erfenis gaan nie net oor dít wat ons erf van diegene wat voor ons gekom het nie. Dit gaan ook oor wat ons kies om saam te bou," het hy gesê.
Ramjugernath het die Universiteit se verbondenheid tot sosiale impak, akademiese innovasie en die kweek van sterk, diverse vennootskappe herbevestig. Hy het aan die bekroondes gesê: "Of dit nou deur opvoeding, storievertelling, die joernalistiek, bewaring of gemeenskapsdiens is, julle het elkeen gewys hoe een mense se toewyding na buite kan uitkring om baie te bevoordeel. Daardie uitkringeffek is iets wat ons hoop om by die Universiteit Stellenbosch te bou.
Hy het gesê die US is trots op Viljoen se volgehoue bydrae. "As die Universiteit se woordvoerder weerspieël sy werk ons verbintenis daartoe om 'n aktiewe deel van die Stellenbosse gemeenskap te wees – om ons vennootskap met die dorp te versterk en tot die maatskaplike en ekonomiese opheffing daarvan by te dra," het Ramjugernath gesê.
Ter ere van toewyding en spanwerk
In die aanprysing wat voorgelees is voordat Viljoen sy sertifikaat ontvang het, word dit genoem dat hy as 'n US-gegradueerde met 'n honneursgraad in die joernalistiek 'n loopbaan gebou het wat deur "professionaliteit, empatie en storievertelling" gedefinieer word.
Viljoen is al vir meer as twintig jaar die bestendige stem agter duisende mediaverklarings wat die aandag op die Universiteit se navorsingsdeurbrake, prestasies en mense vestig. Hy is bekend vir sy kalm gesag en onfeilbare hoflikheid en het die US met afgemete selfvertroue en integriteit deur tydperke van intense openbare ondersoek gestuur, lui die aanprysing.
Viljoen het gesê dit is 'n eer om deur die breër Stellenbosse gemeenskap te erken te word. "Kommunikasie is egter 'n spansport, en enige toekenning van hierdie aard is dus ook 'n erkenning van 'n toegewyde span en die bekwame direkteure van kommunikasie saam met wie ek oor baie jare die voorreg gehad het om mee saam te werk," het hy bygevoeg.
Tertia Kruger, Direkteur: Kommunikasie by die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking, het Viljoen as "'n legendariese en onontbeerlike lid" van die Universiteit se kommunikasiespan beskryf. "Sy toewyding en standvastige toegewydheid daaraan om die Universiteit se reputasie te bestuur en te beskerm en om op 'n wedersyds respekvolle en deursigtige wyse met ons gehore te skakel, is een van die hoekstene van die verwesenliking van ons strategiese visie."
Bewaarders van geheue en identiteit
Die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid, eenheid en erfenis is ook beaam in 'n boodskap wat namens die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, Jeremy Fasser, deur raadslid Ndipiwe Olayi gelewer is en wat die verband tussen erfenis, diversiteit en gedeelde sukses binne die munisipaliteit erken het. Olayi het gesê die e-Bosch-toekennings weerspieël die diepe respek wat die Stellenbosse gemeenskap het vir diegene wat hulself toewy aan die bewaring van sy kultuur, geskiedenis en omgewing.
Hy het die pryswenners as die bewaarders van die dorp se kollektiewe geheue en kampvegters van 'n gedeelde identiteit beskryf. "Julle werk verseker dat toekomstige geslagte sal voortgaan om in ons strate te stap, ons terreine te besoek en die hartklop en die geskiedenis onder hulle voete te voel," het Olayi gesê.
Twee toekennings vir uitsonderlike diens is ook by die geleentheid aan die Stellenbosse gemeenskapslede Glynis Meyer en Elsabé Farao oorhandig.
Die e-Bosch-toekenningsgeleentheid het die voortgesette samewerking tussen die US, die munisipaliteit en die plaaslike gemeenskap herbevestig terwyl hulle saamwerk om 'n inklusiewe, dinamiese toekoms vir almal te bou.