Skip to main content
A picture of the Library and Information Service on the Stellenbosch campus
Image by: Stefan Els

Die Universiteit Stellenbosch het nog ʼn wêreldranglys vir universiteite gehaal. 

Institusionele nuus

US onder 300 beste universiteite op TIME-tydskrif se nuwe ranglys

Alec Basson
09 Februarie 2026
  • US in 275ste posisie op TIME-tydskrif en Statista R se eerste "Topuniversiteite in die Wêreld 2026"-ranglys.
  • US behaal sy beste telling in innovasie en ekonomiese impak.
  • Slegs die 500 universiteite met die hoogste finale tellings is ingesluit.

Indien vroeë prestasies 'n aanduiding is, kan 2026 'n baie goeie jaar vir die Universiteit Stellenbosch (US) op wêreldranglyste vir hoër onderwys wees. 

Kort nadat die instelling op die 2026 Times Higher Education se Wêreldranglys vir Universiteite per Vak verskyn het, het die US nou ook TIME-tydskrif en Statista R se eerste "Topuniversiteite in die Wêreld 2026"-ranglys gehaal. Dié ranglys is 28 Januarie bekendgemaak. 

Slegs die 500 universiteite met die hoogste finale tellings is ingesluit. Statista R is die voorste wêreldwye verskaffer van mark- en verbruikersdata en ranglyste. 

Die US verskyn in die 2026-weergawe in die 275ste posisie. Dit beklee die derde plek in Suid-Afrika net ná die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand. 

Volgens TIME-tydskrif en Statista R het universiteite die kortlys gehaal indien hulle aan ten minste een van die volgende voorwaardes voldoen het:  

  • Ten minste een van die hoogs aangehaalde navorsers volgens Clarivate is aan die spesifieke universiteit verbonde;
  • Hulle is onder die bekendste instellings waarna daar gereeld verwys word; of
  • Hulle het op die oop versoek vir aansoeke wat op TIME.com verskyn het, gereageer. 

Drie sleutelpilare is gebruik om instellings te rangskik: 

  • Akademiese kapasiteit en prestasie (die hulpbronne wat universiteite aan onderrig en navorsing bestee, asook die resultate wat hulle ten opsigte van navorsingsuitsette en akademiese uitnemendheid behaal);
  • Innovasie en ekonomiese impak (universiteite se bydrae tot die bevordering van wetenskap en tegnologie, die verspreiding van kennis en hulle invloed op ekonomiese besluitneming deur die loopbane van hulle gegradueerdes); en
  • Internasionale betrokkenheid en skakeling (tot watter mate universiteite internasionale studente en personeel lok en die internasionale aandag wat hulle ontvang).

Die US het sy beste telling in innovasie en ekonomiese impak behaal, terwyl dit sy laagste telling in internasionale betrokkenheid aangeteken het. 

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisasie, het in reaksie op nog 'n mylpaal vir die US gesê die instelling streef as deel van sy strategiese plan vir 2026–2030 daarna om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar kennis tot voordeel van die samelewing bevorder word. 

“Om die 275ste posisie te bereik, dui aan dat ons goed op koers is om na die 100 topuniversiteite in die wêreld op te skuif, 'n doelwit waarna die US reik. Dit sal natuurlik 'n groot belegging ten opsigte van navorsing, ontwikkeling en kundigheid in die verkryging en bestuur van finansiële toekennings verg om ons navorsings-, innovasie- en internasionalisasiedoelwitte te bestuur, gekombineer met akademiese uitnemendheid.” 

Verwante stories