Akademici van die Universiteit Stellenbosch neem die voortou in navorsingsuitsette in Afrika.
US lewer meeste navorsingsuitsette in Afrika volgens nuwe QS-ranglys
- Eerste QS-wêreldranglys vir Universiteite: Afrika suid van die Sahara op 12 Februarie 2026 vrygestel.
- US-akademici die produktiefste in Afrika wat gepubliseerde artikels en referate betref.
- US het die tweede hoogste aantal akademiese personeel met PhD's in Suid-Afrika (derde in Afrika).
Indien die eerste Quacquarelli Symonds-wêreldranglys vir Universiteite (QS WRU): Afrika suid van die Sahara iets is om na te gaan, is die Universiteit Stellenbosch (US) goed op dreef om sy visie te verwesenlik om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word.
Volgens die QS WRU: Afrika suid van die Sahara wat Donderdag 12 Februarie 2026 vrygestel is, is US-akademici die produktiefste op die vasteland wat navorsingsuitsette (artikels en referate gepubliseer) betref, veral in die vakgebiede Lewenswetenskappe en Geneeskunde, Ingenieurswese en Tegnologie, en Sosiale Wetenskappe en Bestuur. Op grond van data wat in Januarie 2025 uit die Scopus-databasis van hoëgehalte eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte onttrek is, het hulle tussen 2019 en 2023 17 000 artikels opgelewer. Dit kom neer op ongeveer 3 400 artikels per jaar of byna 283 publikasies elke maand.
Benewens die produktiefste akademici in Afrika, het die US die tweede hoogste aantal akademiese personeellede met PhD's in Suid-Afrika (derde in Afrika). Die instelling is ook plaaslik en op die vasteland in die derde plek vir akademiese reputasie en webimpak.
Algeheel beklee die US die vierde plek in Afrika en Suid-Afrika uit 69 instellings (14 universiteite in Suid-Afrika) wat geëvalueer is.
Hierdie instellings is oor die volgende nege aanwysers beoordeel: akademiese reputasie (wêreldwye akademici se siening van 'n instelling se akademiese uitnemendheid), werkgewerreputasie (wêreldwye werkgewers se siening van watter universiteite die werksgereedste gegradueerdes oplewer), aanhalings per fakulteit (gemiddelde aantal aanhalings per publikasie), artikels en referate per fakulteit (gemiddelde aantal publikasies deur akademici), fakulteit-studente-verhouding (die verhouding tussen die aantal akademiese personeel en die aantal studente), personeel met 'n PhD (persentasie akademiese personeel wat die hoogste kwalifikasievlak in hulle kundigheidsgebied bereik het), internasionale navorsingsnetwerk (die rykdom van internasionale navorsingsvennote), webimpak (die doeltreffende gebruik van nuwe tegnologieë), en volhoubaarheid (die sosiale en omgewingsimpak van universiteite).
Dit is belangrik om daarop te let dat die US nie aktief aan die QS-ranglys deelneem nie en nie data verskaf nie. Veertig persent van die QS WRU: Afrika suid van die Sahara is op opnames (werkgewersreputasie 20% en akademiese reputasie 20%) gegrond.
Die Universiteit was vroeër vanjaar onder die topuniversiteite wêreldwyd op die Times Higher Education (THE) se wêreldranglys vir universiteite volgens vak en die TIME-tydskrif en Statista R se eerste ranglys van die wêreld se beste universiteite vir 2026. Oor die afgelope paar jaar verskyn die US konsekwent onder die beste tersiêre instellings ter wêreld op belangrike internasionale ranglyste vir universiteite.