US help fasiliteer entrepreneuriese innovasie met hoë-impakwerkswinkel
- US en KSUT bied saam ’n hoëvlakwerkswinkel oor die bou van entrepreneuriese universiteite in die SAOG-streek aan.
- Die vierdaagse Erasmus+-inisiatief verenig die akademiese wêreld, nywerheid en regering om saam innovasiegedrewe kurrikulums te skep.
- US-leiers beklemtoon entrepreneurskap as sleutel tot die aanpak van jeugwerkloosheid en die dryfkrag vir Afrika se transformasie.
By ’n byeenkoms van hoëronderwysleiers van regoor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), het die Universiteit Stellenbosch (US) sy verbintenis bevestig om die hoëronderwyslandskap te transformeer deur entrepreneurskap en innovasie.
Die opleidingswerkswinkel wat hierdie week by die Lanzerac-wynlandgoed gehou is en aangebied is saam met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) as deel van die projek University-Industry Co-Creation (UNIICo-create), vorm deel van ’n Erasmus+-inisiatief van die Europese Unie. Dit het ten doel om vennootskappe tussen die akademiese wêreld, nywerheid en regering te versterk om ’n nuwe generasie entrepreneuriese universiteite in die streek te bevorder.
In haar verwelkoming van afgevaardigdes by die openingsessie het Prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, gesê universiteite moet die leiding neem om Afrika se toekoms deur innovasie te vorm. “Die UNIICo-create projek daag elkeen van ons uit om anders te dink oor die doel van hoër onderwys,” het sy gesê. “Oor die wêreld heen word daar van universiteite verwag om nie net akademiese uitnemendheid te demonstreer nie, maar ook maatskaplike en ekonomiese relevansie.”
Moyo het opgemerk dat die dringendheid van hierdie transformasie gedryf word deur Suid-Afrika se hoë jeugwerkloosheidsyfer, wat op meer as 60% onder 15-24-jariges staan. “Ons kontinent is ryk aan kreatiwiteit en idees, tog sukkel baie van ons gegradueerdes om werk te kry, nie omdat hulle nie talent het nie, maar omdat ons ekonomieë nie genoeg geleenthede skep nie,” het sy gesê. “Die oplossing lê nie net in werkskepping nie, maar in die koestering van ’n generasie werkskeppers.”
Entrepreneurskap in die DNS van universiteite ingebed
Die werkswinkel bring verteenwoordigers van universiteite, regeringsdepartemente en nywerheid vanoor die SAOG-streek heen byeen om saam kurrikulums te ontwerp wat entrepreneurskap en innovasie in onderrig en institusionele kultuur integreer. Oor die bestek van vier dae sal deelnemers onderwerpe verken insluitend entrepreneuriese ekosisteme in Afrika, onderrig vir die toekoms, strategieë vir die inbed van entrepreneurskap en innovasie en ondersteuning vir opvoeders.
Die program sluit ook sessies in oor die ontwikkeling van entrepreneuriese leeruitkomste, die benutting van digitale tegnologieë vir innovasie, en skepping van kurrikulums saam met nywerhede. Studiebesoeke aan die Universiteit Stellenbosch se LaunchLab, ’n toonaangewende broeikas vir beginbesighede (startups), en KSUT se Suid-Afrikaanse Hernubarekrag-tegnologiesentrum (Saretec), sal wys hoe vennootskappe tussen universiteite en die bedryf navorsing omsit na impak in die regte wêreld.
“Entrepreneursdenke is nie beperk tot sakeskole of broeikaste vir beginnerbesighede nie,” het Moyo opgemerk. “ ’n Historikus, ’n onderwyser, ’n wetenskaplike of ’n kunstenaar kan almal entrepreneurs wees in hoe hulle uitdagings benader, idees verbind en kennis in impak omskep.” Sy het die rol van die US se Fakulteit Landbouwetenskappe as ’n model geprys vir die inbed van entrepreneurskap in sy onderrig, wat studente verbind met innovasie binne die landbouwaardeketting.
Moyo het ook die belangrikheid van vennootskappe beklemtoon. “Samewerking met die bedryf verseker dat wat ons onderrig, in lyn is met wat die wêreld nodig het, terwyl regeringsbetrokkenheid help om suksesvolle modelle oor die stelsel heen op te skaal. Geen universiteit kan dit alleen doen nie,” het sy gesê.
Omskep kennis in impak
In sy openingsede het Prof Deresh Ramjugernath, die US se Rektor en Visekanselier, die instelling se visie uitgelig om ’n waarlik entrepreneuriese en navorsingsintensiewe universiteit te word. Gegrond op sy eie agtergrond as ’n entrepreneur en akademiese innoveerder, het hy gesê universiteite moet verder gaan as kennisproduksie om ’n tasbare maatskaplike en ekonomiese impak te maak.
“Ons werk strek wyer as die opleiding van studente en die generering van kennis,” het hy gesê. “Dit gaan oor hoe ons daardie uitsette neem en dit vertaal in uitkomste wat ongelykheid, armoede en werkloosheid die hoof bied. Dit is waaroor hierdie werkswinkel en inisiatief gaan.”
Hy het universiteite aangespoor om ’n entrepreneuriese ingesteldheid onder studente sowel as personeel te kweek. “Nie alle gegradueerdes sal maatskappye begin nie, maar hulle moet almal leer om kreatief te dink, beslissend op te tree en hul vaardighede te gebruik om waarde toe te voeg. Dit is die soort ingesteldheid wat ons in ons instellings moet vaslê,” het hy gesê.
Ramjugernath het die US se verbintenis tot akademiese vernuwing uitgelig – die opdatering van kurrikulums nie net wat inhoud betref nie, maar ook in benadering. “Ons moet wegbeweeg van onderrig oor entrepreneurskap na onderrig daardeur,” het hy gesê. “Dit beteken die herontwerp van kurrikulums, herbedink van assesserings, en die bou van ekosisteme wat leer aan uitdagings in die regte wêreld koppel.”
Hy het verwys na die US se stewige rekord met innovasie, insluitend een van die grootste aantal patentregistrasies en newemaatskappye. “Oor die afgelope dekade het ons 44 newemaatskappye die lig laat sien. Ons doel nou is om 300 studente-beginbesighede elke jaar te sien, veral van voorgraadse studente. Dit is hoe ons idees in impak omskep.”
Ramjugernath het beklemtoon dat medeskepping die sleutel tot hierdie transformasie is. “Dit gaan oor gedeelde eienaarskap van idees en uitkomste onder universiteite, nywerheid, regering en gemeenskappe. Wanneer universiteite innoverende denkers en probleemoplossers koester, versterk hulle die samelewing as ’n geheel.”
Bou die universiteite van die toekoms
Soos die werkswinkel deur die week voortduur, sal deelnemers besin oor beste praktyke en uitvoerbare strategieë ontwikkel om entrepreneurskapsonderrig regdeur die SAOG-streek te dryf.
Dr Erna Blancquaert, hoofondersoeker van die UNIICo-create-projek aan die US, het gesê die inisiatief bied kragtige ruimtes vir nuwe vennootskappe wat tot werklike impak kan lei. “Ons wil hê deelnemers moet weggaan geïnspireer met vars perspektiewe, praktiese gereedskap en ’n hernude sin van hoe om saam kurrikulums oor entrepreneurskap en innovasies in die SAOG-streek te skep,” het Blancquaert bygevoeg.
Afgevaardigdes het beklemtoon dat entrepreneurskapsonderrig selfs meer kritiek geword het in die era van kunsmatige intelligensie (KI). Universiteite moet gegradueerdes toerus met die kreatiwiteit, aanpasbaarheid en probleemoplossingsvaardighede wat nodig is om te floreer in ’n vinnig veranderende werkswêreld.
Ramjugernath het afgesluit deur te sê hy hoop die werkswinkel sal nuwe maniere van dink inspireer oor hoe ons instellings Afrika se transformasie kan lei deur gegradueerdes te kweek wat nie net indiensneembaar is nie, maar wat sal help om die ekonomieë van môre vir Afrika te vorm. “Akademiese uitnemendheid is ’n gegewe,” het hy verklaar. “Die werklike vraag is hoe ons daardie uitnemendheid vertaal in diens van die samelewing.”
- Meer inligting hier: https://uniico-create.org/