Skip to main content
University at sunrise
Image by: Stefan Els

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het 'n nuwe vennootskap geformaliseer wat daarop gemik is om die volgende geslag navorsers deur 'n postdoktorale beursprogram te ontwikkel wat gesamentlik aangebied sal word.

Institusionele nuus

US en TUT snoer kragte saam om SA se toekomstige navorsingsleiers te ontwikkel

Anél Lewis
Senior journalist
17 Junie 2026
  • Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het 'n nuwe vennootskap geformaliseer wat daarop gemik is om die volgende geslag navorsers te ontwikkel.
  • Die samewerkingsooreenkoms, wat deur die twee instellings se navorsingsleierskapspanne onderteken is, is 'n belangrike stap in die versterking van navorsingskapasiteit.
  • Die universiteite het hulle daartoe verbind om die eerste oproep om aansoeke binne drie maande ná die ondertekening van die ooreenkoms te uit te stuur.

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het 'n nuwe vennootskap geformaliseer wat daarop gemik is om die volgende geslag navorsers deur 'n postdoktorale beursprogram te ontwikkel wat gesamentlik aangebied sal word.

Die samewerkingsooreenkoms, wat deur die twee instellings se navorsingsleierskapspanne onderteken is, is 'n belangrike stap in die versterking van navorsingskapasiteit, die bevordering van kennisuitruiling en die verhoging van navorsingsproduktiwiteit regoor Suid-Afrika se hoëronderwyssektor.

Hoewel akademiese vennootskappe algemeen is, bevat hierdie ooreenkoms verskeie spesifieke vaste verbintenisse wat dit verder neem as 'n tipiese aspirerende samewerkingsooreenkoms, verduidelik prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisering.

Die ooreenkoms bied 'n raamwerk vir samewerking in akademiese en navorsingsaktiwiteite tussen die US en TUT, met 'n spesifieke fokus op die gesamentlike ondersteuning van postdoktorale navorsingsgenote. Danksy hierdie die inisiatief sal genote een jaar by elke instelling deurbring om by die kundigheid, fasiliteite en navorsingsnetwerke van albei universiteite baat te vind.

Volgens die ooreenkoms is die program ontwerp om bestaande navorsingsinisiatiewe uit te brei, nuwe navorsingsrigtings te ontsluit en geleenthede vir groter samewerking tussen navorsers, akademici en studente te skep. Dit poog ook om die loopbane van opkomende navorsers te versnel terwyl dit tot die navorsingsmissies van albei instellings bydra. 

Moyo sê die vennootskap weerspieël die Universiteit se verbintenis tot die bou van betekenisvolle samewerking wat kennisproduksie bevorder en die ontwikkeling van toekomstige navorsingsleiers ondersteun.

"Samewerking is noodsaaklik om ingewikkelde maatskaplike uitdagings aan te spreek en Suid-Afrika se navorsingsekostelsel te versterk. Ons het as 'n reël 'n beduidende wêreldwye voetspoor van vennootskappe in vergelyking met dít wat ons op ons vasteland het. Deur met instellings binne Suid-Afrika en binne die Afrika-konteks saam te werk, kan ons ryker geleenthede vir vroeë-loopbaan navorsers skep terwyl ons navorsingsuitnemendheid en innovasie bevorder."

Die program sal oop wees vir kandidate in enige studierigting, met voorkeur aan vakgebiede van wedersydse akademiese sterkte en belangstelling by albei instellings. Genote sal verwag word om navorsingsuitsette te lewer wat die affiliasie van die US én TUT dra om tot die sigbaarheid en impak van navorsing wat deur die vennootskap onderneem word, by te dra.

Ingevolge die ooreenkoms moet genote oor 'n doktorale kwalifikasie beskik wat binne die afgelope vyf jaar behaal is en sal hulle vir 'n tydperk van tot twee jaar aangestel word. Burgerskap is nie beperk nie en die universiteite sal gesamentlik die genote deur 'n gestruktureerde program ondersteun wat mentorskap, toegang tot navorsingsinfrastruktuur en geleenthede vir akademiese ontwikkeling insluit.

Dr Vathiswa Papu-Zamxaka, TUT se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Betrokkenheid, het beklemtoon dat die ooreenkoms 'n geleentheid is om samewerking tussen twee toonaangewende Suid-Afrikaanse instellings te verdiep.

"Hierdie vennootskap toon die waarde van interinstitusionele samewerking in die bou van navorsingsuitnemendheid. Deur kundigheid en hulpbronne te deel, kan ons 'n bemagtigende omgewing skep waar postdoktorale navorsers kan floreer en betekenisvolle bydraes tot die skep van kennis kan lewer."

Die universiteite het hulle daartoe verbind om die eerste oproep om aansoeke binne drie maande ná die ondertekening van die ooreenkoms te uit te stuur. 

Afgesien van die beursprogram skep die breër samewerkingsooreenkoms 'n raamwerk vir toekomstige akademiese en navorsingsvennootskappe tussen die US en TUT.

Verwante stories