Skip to main content
Stellenbosch University (SU), a founding sponsor of the Toyota Stellenbosch Woordfees, is looking forward to having thousands of festival-goers come and share in what the Eikestad and SU's Stellenbosch campus have to offer again this year.
Image by: Stefan Els

Die Universiteit Stellenbosch (US), ʼn stigtersborg van die Toyota Stellenbosch Woordfees, sien daarna uit dat duisende feesgangers weer vanjaar in dít wat die Eikestad en die US se Stellenbosch-kampus bied, kom deel.  

Gebeure

US ‘deel’ weer in die pret van die Toyota Stellenbosch Woordfees

Corporate Communication
10 Oktober 2025
  • Die US se bemarkingspan bied 'n dinamiese betrokkenheidshub by die Konservatorium-amfiteater aan.
  • Die Ongehoord-reeks, asook die Studentediskoersreeks en die Wetenskapskafee word in hierdie ruimte aangebied.
  • Bywoning vir hierdie gespreksreekse is gratis en alle feesgangers is welkom.

Die Universiteit Stellenbosch (US), ʼn stigtersborg van die Toyota Stellenbosch Woordfees, sien daarna uit dat duisende feesgangers weer vanjaar in dít wat die Eikestad en die US se Stellenbosch-kampus bied, kom deel.  

Of soos Prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier dit stel: "Vanjaar se feestema, 'Deel', nooi jou om saam met ons te kom kuier, leer en te ervaar. Kom beleef die fees, vier die dinge wat ons deel en besin ook met deernis en respek oor dít wat ons verdeel. Hoe jy ook al die Woordfees ervaar, hier is jy deel van iets groters – ’n viering van ons gedeelde menswees, ons stories en ons stemme." 

US-hub 

Een van die belangrike inisiatiewe is die splinternuwe Universiteit Stellenbosch Hub. Die US se bemarkingspan bied hierdie dinamiese betrokkenheidsentrum aan by die Konservatorium-amfiteater – die tuiste van die US se feesprogramme.

Die Ongehoord-reeks word in hierdie ruimte aangebied en sal aktuele gesprekke oor geslag, identiteit en gemeenskap ondersoek. Nog 'n reeks wat hier gehou word, is die Studentediskoersreeks, waar studente uitgenooi word om hul perspektiewe op die universiteitslewe en die toekoms te deel; en die Wetenskapskafee, wat navorsing en innovasie op 'n toeganklike manier aan die publiek bring. Hierdie gespreksreekse is gratis om by te woon en oop vir alle feesgangers.

Saans sal die lokaal met lewendige musiek gevul word met 'n reeks jazz-optredes. Die Maties Jazzvereniging sal elke aand die program open, gevolg deur vooraanstaande Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Schalk Joubert, Sima Mashazi, Ramon Alexander en die Melisizwe Plaatjie-kollektief ter viering van die kreatiwiteit en diversiteit van die US se musiekgemeenskap.

Die hub dien ook as 'n aktiveringsruimte vir die US om met feesgangers en belanghebbendes deur gesprekke, sigbaarheid en gehoorbetrokkenheid te skakel – aangevul deur handelsmerkgeskenke en interaktiewe oomblikke.

Gehoorontwikkelingsprojek 

Nog 'n noemenswaardige item vanjaar is die Gehoorontwikkelingsprojek – 'n strategiese inisiatief wat die studente-ervaring verbeter deur kulturele diversiteit te bevorder en betekenisvolle betrokkenheid by die kunste aan te moedig. 

Die inisiatief, wat gedurende die Woordfees in 2024 bekendgestel is, weerspieël die US se verbintenis tot die lewering van 'n transformerende studente-ervaring. Dit word deur die bemarkingspan binne die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking, in samewerking met die Sentrum vir Studentelewe en -leer, bestuur en geïmplementeer en bied studente met beperkte blootstelling aan die uitvoerende kunste die geleentheid om geselekteerde produksies by te woon en aan besprekings na afloop van die vertonings by Woordfees deel te neem.

Vanjaar sal 317 studente – van wie baie vir die eerste keer 'n formele opvoering sal beleef – 55 teater-, musiek-, dans- en visuele kunsteproduksies in 11 genres, aangebied in vyf taalkategorieë – Afrikaans, Engels, Afrikaans en Engels, meertalig, en Afrikaans, Engels en Xhosa, sal bywoon. 

MEER INLIGTING OOR DIE VERSKILLENDE GELEENTHEDE BY DIE US-HUB


Dinsdag 14 Oktober: 

09:30: Ongehoord: Die prys van teengender-ideologie 

17:15: Studentediskoers: Hoe deel ons ons kampus? 

18:30: Wetenskapskafee: SA-China: Die wetenskaplikes (en die wetenskap) agter Suid-Afrika se eerste kwantumsatellietverbinding met China

 

Woensdag 15 Oktober: 

09:30: Ongehoord: 'n Sin van gemeenskap 

17:15: Studentediskoers: Hoe deel ons in mekaar se vreugdes en stryd

18:30: Wetenskapskafee: Waarom bestudeer ons ruimterotse?  

 

Donderdag 16 Oktober: 

09:30: Ongehoord: Digitale kultuur en Afro-optimisme 

17:15: Studentediskoers: Hoe lyk die lewe ná jou graad?

18:30: Wetenskapskafee: Van die pil tot menopouse: 'n koorddans tussen gesondheid en risiko 

20:30: Jazz: Schalk Joubert Band met Sima Mashazi 

 

Vrydag 17 Oktober: 

09:30: Ongehoord: Ons moet praat oor die gesin 

20:30: Die Melisizwe Plaatjie-kollektief 

 

Saterdag 18 Oktober:  

20:30 Ramon Alexander-kwintet: The Throwback Project 

 

Merkers

Bemarking

Verwante stories