Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ʼn hoëvlak-afvaardiging van die Paryse Streek (Île-de-France) onder leiding van Valérie Pécresse, President van die Paryse Streeksraad, ontvang. Die besoek was ʼn belangrike mylpaal in die versterking van beide akademiese en diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en Frankryk.
Universiteit Stellenbosch versterk bande met die Université Paris-Saclay tydens hoëvlak- Franse besoek
- Universiteit Stellenbosch ontvang hoëvlak- Franse afvaardiging as deel van ʼn breër streeksending.
- US onderteken Memorandum van Verstandhouding om studente-uitruiling en navorsingsamewerking met die Université Paris-Saclay te bevorder.
- Valérie Pécresse, President van die Paryse Streeksraad, verwelkom die versterking van diplomatieke bande met Suid-Afrika.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ʼn hoëvlak-afvaardiging van die Paryse Streek (Île-de-France) onder leiding van Valérie Pécresse, President van die Paryse Streeksraad, ontvang. Dit was deel van ʼn breër streeksending na Suid-Afrika wat besoeke aan Kaapstad, Pretoria en Johannesburg ingesluit het. Die besoek was ʼn belangrike mylpaal in die versterking van beide akademiese en diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en Frankryk.
Die belangrikste deel van die verrigtinge was die ondertekening van ʼn ooreenkoms tussen die US en die Université Paris-Saclay om studente-uitruiling, gesamentlike navorsing en innovasievennootskappe te bevorder wat die samewerking tussen die twee instellings sal verdiep. Die ondertekening, waarvan Pécresse getuie was, beklemtoon die strategiese belang van hierdie samewerking binne die breër hoëronderwysbetrekkinge tussen Frankryk en Suid-Afrika, het Robert Kotzé, Senior Direkteur: US Internasionaal, gesê.
Ná ʼn kort staptoer deur die US-kampus is die afvaardiging deur Prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die US, by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke verwelkom. Hy het uitgewei oor sy visie dat die US Afrika se eerste universiteit moet word wat onder die wêreld se top-100 gereken word en “beter en diverse” vennootskappe as sleutelfaktore vir die bevordering van daardie doelwit uitgelig.
Ramjugernath het die waarde van uitgebreide samewerking met universiteite, regerings en burgerlike samelewingsorganisasies beklemtoon en opgemerk: “Dis ʼn sterk fokus vir ons, want dis deur hierdie soort multi- en transdissiplinêre betrokkenheid dat ons op die lange duur die soort impak maak wat ons as ʼn universiteit nastreef.” Hy het bygevoeg dat sulke vennootskappe nie net akademiese uitnemendheid aan die US versterk nie, maar ook help om die volhoubaarheid van die Universiteit te verseker.
Pécresse het op haar beurt die belangrikheid van die bou van ʼn sterk “brug” tussen Suid-Afrika en Frankryk benadruk. Met verwysing na die US en die Université Paris-Saclay se gedeelde navorsingsprioriteite en -doelwitte, het sy ʼn tweerigting-vennootskap met wedersydse voordele bepleit. Prof Mehran Mostafavi, Visepresident: Navorsing aan die Université Paris-Saclay, het met haar saamgestem en opgemerk dat samewerking – met studente-uitruiling as die beginpunt – die twee instellings sal bemagtig om saam oplossings vir globale uitdagings te ontwikkel. Kotzé het as ʼn aangrypende demonstrasie van die krag van vennootskappe daarop gewys dat die Université Paris-Saclay in hierdie bilaterale ooreenkoms begin belangstel het danksy die uitnodiging aan die US om ʼn vennoot van die EUGLOH-alliansie (Europese-universiteitsalliansie vir Globale Gesondheid) te word.
Die Franse afvaardiging het ook verteenwoordigers ingesluit van ses Parys-gebaseerde maatskappye wat geleenthede vir digitale leer en tegnologiese integrasie wil ondersoek. Voor hul ontmoeting met die US se Hoofdirekteur van Inligtingstegnologie, dr Antoinette van der Merwe, het Pécresse op die potensiaal vir toekomstige samewerking tussen die twee streke in die vinnig groeiende EdTech-sektor gewys.