Die Blackenberg-tweeling se reis saam met die Universiteit Stellenbosch (US) het reeds op hoërskool begin – en vandeesweek het hulle saam van dieselfde fakulteit gegradueer.
Tweelingtriomf: Atlantis-broers gradueer aan US
- Die tweeling Divano en Diego Blankenberg het in 'n gebied in Atlantis grootgeword waar bendes en misdaad algemeen is.
- Om by dieselfde universiteit en in dieselfde fakulteit te wees, het hulle gehelp om uitdagings te oorkom en na sukses te streef.
- Hulle gee hulle ouers, veral hulle ma wat hulle alleen grootgemaak het nadat hulle pa oorlede is, die eer vir hulle prestasies.
Die Blackenberg-tweeling se reis saam met die Universiteit Stellenbosch (US) het reeds op hoërskool begin – en vandeesweek het hulle saam van dieselfde fakulteit gegradueer.
Divano en Diego is in Atlantis gebore en het in Dura Flats grootgeword. Hulle was van graad sewe tot graad tien deel van die Universiteit se Sentrum vir Pedagogie (SUNCEP) se program. In hulle laaste twee jaar op hoërskool het hulle ook aan die Universiteit se Talentontwikkelingsprogram deelgeneem.
Albei het onderskeidings in hulle finale matriekeksamen behaal.
"Om in 'n gebied groot te word wat erg onder bendes en misdaad gebuk gaan, het hoër onderwys dikwels buite bereik laat voel. Ondanks die uitdagings het ons egter gefokus op ons droom gebly om by die US te studeer," sê Diego.
Die twee is as 'n identiese tweeling "baie geheg aan mekaar", deel Divano. "Vir die eerste 15 jaar van ons lewe was ons ons ma se enigste kinders, wat ons band versterk het." Diego stem saam en voeg by: "Ons het in ons grootwordjare alles gedeel, soms selfs 'n enkele lekker. Ons ma het ons altyd geleer om na mekaar om te sien, en daardie ingesteldheid het ons altyd bygebly. Ek het nog nooit goed as 'myne' beskou nie; dit was nog altyd 'ons s'n'."
Die sukses wat hulle vandeesweek vier, was nie sonder uitdagings nie. Die tweeling was net ses jaar oud toe hulle pa aan lewerversaking oorlede is, en in hulle derde jaar op universiteit is hulle ma met kanker gediagnoseer. "Dít het ons as studente én as haar kinders diep geraak. Deur die Here se genade het sy dit oorkom, wat ons gradeplegtigheid selfs nog meer betekenisvol gemaak het," sê Divano.
Albei broers het gedurende hulle studiejare van studierigting verander. Divano het aanvanklik elektriese ingenieurswese gestudeer voordat hy in sy tweede jaar na meganiese ingenieurswese oorgeskakel het. "Ek het besef hoeveel ek die praktiese aspekte, probleemoplossing en ontwerp geniet. Ek is glad nie spyt nie – dit was die regte besluit." Diego het van chemiese ingenieurswese na megatroniese ingenieurswese oorgeskakel. "Namate ek meer oor die verskillende ingenieursrigtings geleer het, het ek gefassineer geraak deur megatronika, veral gebiede wat oor hommeltuie en geïntegreerde stelsels handel."
Om universiteit saam te kan ervaar, het hulle deur moeilike tye gehelp. "Om altyd iemand te hê om op te steun was 'n groot pluspunt. Die oorgang na universiteit is moeilik, maar om my broer daar te hê het dit makliker gemaak. Ons het mekaar deur moeilike tye ondersteun en die goeie oomblikke saam gevier," sê Divano.
Om saam te studeer het hulle ook gemotiveer. "Ons het mekaar gedruk om ons beste te lewer sonder om teen mekaar te mee te ding." Diego stem saam en voeg by: "Wanneer die akademiese las of persoonlike uitdagings swaar gevoel het, kon ons mekaar ondersteun. Om saam te studeer het die hele ervaring minder oorweldigend en baie meer betekenisvol gemaak."
Hulle ma wa vir albei gegradueerdes hulle grootste inspirasie. "Haar opofferings, krag en geloof in die Here het ons gelei. Sy het ons deursettingsvermoë, harde werk en veerkragtigheid geleer – waardes wat ons deur ons studies gedra het," sê Divano. Om die eerste in hulle familie te wees wat aan die US studeer, het sy eie verantwoordelikheidsgevoel en uitdagings meegebring, maar dit het hulle gemotiveer om na sukses te streef, voeg Diego by.
Divano raai voornemende studente uit soortgelyke omstandighede aan om nooit op te hou droom nie. "Selfs al lyk jou doelwitte buite bereik, moenie opgee nie. Glo in jouself, vertrou op die Here en werk deurlopend hard. Jou agtergrond bepaal nie jou toekoms nie. Hou aan vorentoe beur – dinge sal in plek val."