Top eerstejaar-presteerders skitter by Visekanselier se Uitnemendheidstoekennings
- Sewe-en-dertig uitsonderlike eerstejaarstudente is vir hulle uitstaande graad 12-uitslae en die feit dat hulle die Universiteit Stellenbosch gekies het, vereer.
- Vyftien studente het elkeen ʼn Visekanselierstoekenning ter waarde van R100 000 ontvang, terwyl Prestasietoekennings ter waarde van R75 000 elk aan 22 studente toegeken is.
- Die ontvangers verteenwoordig ses provinsies en 32 hoërskole, wat 'n hoogs mededingende nasionale poel van akademiese talent weerspieël.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het Dinsdagaand 37 van die land se mees uitstaande matriekpresteerders by die Visekanselier se Uitnemendheidstoekennings vir Eerstejaars vereer. Die geleentheid is by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gehou.
Die toekenningsplegtigheid het senior leierskap van die Universiteit, fakulteitsdekane, skoolhoofde, ouers en voogde byeen gebring om studente te erken wie se uitsonderlike graad 12-uitslae hulle onder die beste akademiese presteerders in die land geplaas het.
Dr Katlego Letlonkane, Programbestuurder: Diversiteitskapasiteitsontwikkeling in die Afdeling Menslike Hulpbronne, het die gaste by die gesogte geleentheid verwelkom en beklemtoon dat die prestasies wat gevier word, 'n gesamentlike poging weerspieël. "Hierdie stories is nie gewone stories nie," het sy gesê. "Dit is stories van deursettingsvermoë in die aangesig van uitdagings, van dissipline, opoffering en potensiaal wat deur toewyding verwesenlik is."
Ouers en skoolhoofde is vanjaar vir die eerste keer saam met die pryswenners by die geleentheid verwelkom – 'n erkenning van die rol wat gesinne en opvoeders in die vorming van die akademiese reise gespeel het wat die studente na die US gelei het.
Ter erkenning van akademiese prestasie op die hoogste vlak
Prof Richard Stevens, Waarnemende Viserektor: Leer en Onderrig en voorsitter van die Universiteit se Beurse- en Leningskomitee, het die buitengewone akademiese landskap uiteengesit waaruit die pryswenners kom.
"Ons vier vanaand akademiese uitnemendheid in sy hoogste vorm," het Stevens gesê. Byna 42% van die US se 2026-eerstejaarsinname – meer as 2 600 studente – het aan die einde van graad 12 'n gemiddelde van 80% of hoër behaal. Uit daardie groep het 347 studente 'n gemiddelde van 80% of hoër behaal.
Uit hierdie hoogs mededingende groep is 37 studente vir die Universiteit se hoogste akademiese erkenning vir nuwelingstudente gekies.
Vyftien van hulle het die gesogte Visekanselierstoekenning ter waarde van R100 000 elk ontvang. Hierdie ontvangers het 'n matriekgemiddelde van 95,33% tot 98,17% behaal.
Nog 22 studente het elkeen 'n prestasietoekenning ter waarde van R75 000 ontvang. Hiermee is leerders wat 'n gemiddelde van 90% of hoër behaal het, erken. Die prestasietoekennings erken ook toppresteerders van skole in kwintiel een tot vier, wat die Universiteit se verbintenis tot die uitbreiding van geleenthede en die erkenning van uitnemendheid regoor diverse gemeenskappe heen weerspieël.
Die pryswenners is uit ses provinsies afkomstig en oor vier fakulteite ingeskryf, met sterk verteenwoordiging in Ingenieurswese, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en Natuurwetenskappe.
Uitnemendheid as prestasie – en impak
Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Deresh Ramjugernath, het in die hoofrede die studente gelukgewens en besin oor wat uitnemendheid in 'n universiteitskonteks beteken.
"Daar is 'n storie agter elke syfer – 'n storie van toewyding, deursettingsvermoë, aanmoediging deur gesinne en onderwysers en baie ure se harde werk," het hy gesê.
Ramjugernath het opgemerk dat hoewel akademiese prestasie belangrik is, die Universiteit uitnemendheid in breër terme verstaan. "Uitnemendheid in 'n universiteitskonteks gaan oor baie meer as net punte," het hy gesê. "Uitnemendheid hier gaan oor prestasie én die impak wat ons gegradueerdes op die samelewing gaan hê."
Hy het die studente daaraan herinner dat hoewel baie van hulle verskeie opsies gehad oor waar om te studeer, hulle tog die US gekies het danksy die instelling se akademiese reputasie en die gemeenskap wat dit bied.
Universiteite, het hy gesê, bestaan om studente voor te berei om komplekse uitdagings aan te pak wat die samelewing in die gesig staar – van gesondheidsorg en klimaatsverandering tot ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike transformasie.
"Die werklike maatstaf van uitnemendheid is nie net hoe goed jy presteer wanneer dinge maklik is nie," het Ramjugernath gesê. "Dit is hoe jy groei wanneer die werk veeleisend raak."
"Die werklike maatstaf van uitnemendheid is nie net hoe goed jy presteer wanneer dinge maklik is nie," het Ramjugernath gesê. "Dit is hoe jy groei wanneer die werk veeleisend raak."
Hy het ook die skoolhoofde, onderwysers, ouers en voogde bedank vir die rol wat hulle in die leerders se voorbereiding vir akademiese sukses gespeel het.
"Ons storie as universiteit begin dikwels in julle klaskamers," het hy aan die skoolleiers wat teenwoordig was, gesê.
'n Nuwe generasie geleerdes
Die nuutste groep toppresteerder-Maties het met 'n mengsel van ongeloof, dankbaarheid en duidelike ambisie oor die erkenning gepraat wat hulle by die geleentheid ontvang het.
Een van die ontvangers, Abigail Kok van Hoërskool York in George, was Suid-Afrika se top nasionale presteerder in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in 2025. Sy studeer nou datawetenskap in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en het die oorgang na die kampuslewe as "opwindend" beskryf. "Die Verwelkomingsprogram was so lekker! Ek is in Sonop-koshuis en ons huiskomitee het 'n groot poging aangewend om allerhande aktiwiteite te reël. Ek geniet Stellenbosch vreeslik baie!" Ek moes aan die begin aan die klasse gewoond raak, het Kok gesê. "Die werkslading is beslis baie meer as op skool, maar dit is lekker om vakke te neem waarvan ek regtig hou en om dosente te hê wat passievol is oor hulle inhoud."
Khaya Mhlongo, wat megatroniese ingenieurswese studeer en van Gauteng afkomstig is, het gesê die Universiteit se reputasie het 'n deurslaggewende rol in sy besluit gespeel om 'n Matie te word. "My navorsing het bewys dat Stellenbosch een van die top- en toonaangewendste universiteite is as dit by ingenieurswese kom. Ek is verseker op die regte plek," het hy met 'n groot glimlag bygevoeg. Mhlongo het gesê hy was "super opgewonde" om Kok te ontmoet. "Ek voel geëerd om in dieselfde vertrek as sy en al die ander topleerders te wees."
Oratile Malewa, wat vir die MBChB-program ingeskryf is, het haar roeping teruggeneem na haar ma se voorbeeld. "Ek wou nog altyd mense help ... Ek wil 'n dokter wees. Ek wil lewens verander en ek wil help om mense te genees," het sy gesê. Sy het 'n strategiese besluit oor die instelling van haar keuse geneem: "Ek het besef die US het die beste geneeskundefakulteit, en ek het geredeneer dat om die beste te wees, jy na die beste moet gaan ... En om die beste te wees, moet jy ook tussen die beste wees."
Die geleentheid het ook die skole gevier wat akademiese uitnemendheid koester. Jacques Nel, Uitvoerende Hoof van Somerset-kollege, het die diepte van talent in die skool se onlangse kohort beklemtoon. "Ons was regtig trots op ons klas van 2025; hulle het besonder goed gevaar," het hy gesê en die nuwe Maties Karla Duvenhage en Nina Benson uitgelig. "Hulle het mekaar die afgelope twee jaar behoorlik die stryd aangesê en 100% in verskeie vakke behaal." Hy het die noue band tussen Somerset-kollege en die US beklemtoon en speels opgemerk: "Sommige ouers verwys na die Universiteit Stellenbosch as 'Somerset-kollege 2.0'. Baie van ons leerder voel uiters tuis by die US."
Vir die toppresteerders verteenwoordig die toekennings nie die hoogtepunt van hulle reis nie, maar die begin van groter dinge wat voorlê. "Wat julle tot dusver bereik het, is net die begin," het Ramjugernath hulle herinner.
Hulle sal in die jare wat voorlê, uitgedaag word om onafhanklik te dink, met nuwe idees om te gaan en tot geleerdes en professionele persone ontwikkel wat in staat is om die toekoms te kan vorm, het hy aan die nuwe Maties gesê wat by STIAS bymekaarkom het.