Die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke het onlangs die EU–Afrika Trajek 1.5-dialoog oor kuberdiplomasie aangebied wat leiers uit die regering, nywerheid en handel, akademie en burgerlike samelewing byeengebring het om dringende uitdagings in kuberveiligheid aan te pak.
SU bied rigtinggewende EU–Afrika-dialoog oor kuberdiplomasie aan
- Die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke het onlangs die EU–Afrika Trajek 1.5-dialoog oor kuberdiplomasie aangebied.
- Die diplomatieke korps in Suid-Afrika, gelei deur die ambassadeurs van Oostenryk en Italië, het ook deelgeneem.
- Die Trajek 1.5-kuberdiplomasiedialoog het 'n geskiedkundige platform vir toekomstige kuberveiligheidssamewerking tussen die EU en Afrika gevestig.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke het onlangs die EU–Afrika Trajek 1.5-dialoog oor kuberdiplomasie aangebied wat leiers uit die regering, nywerheid en handel, akademie en burgerlike samelewing byeengebring het om dringende uitdagings in kuberveiligheid aan te pak.
Die dialoog, wat op 3 en 4 Februarie gehou is, het verteenwoordigers van die Europese Unie, Afrika-unie, EU Cyber Direct, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en lande soos Suid-Afrika, Ghana en Mauritius byeengebring. Die diplomatieke korps in Suid-Afrika, gelei deur die ambassadeurs van Oostenryk en Italië, het ook deelgeneem. Trajek 1.5-dialoë is ontwerp om oop besprekings oor sektore en grense heen te bevorder deur amptelike perspektiewe met kundige insigte te kombineer.
Prof Kanshu Rajaratnam en Noëlle van der Waag-Cowling van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke het die afgevaardigdes op die eerste dag verwelkom en die toon aangegee vir 'n dinamiese uitruiling van idees. Besprekings oor die twee dae het op digitale transformasie, verantwoordelike staatsgedrag in die kuberruimte en geleenthede vir gesamentlike kapasiteitsbou gefokus.
Manon le Blanc, Koördineerder vir Kuberkwessies by die EU Eksterne Aksiediens, het die geleentheid as "'n mylpaal-oomblik vir kubersamewerking tussen die EU en Afrika" beskryf. Afgevaardigdes het openhartige gesprekke oor kuberbeleid, beste praktyke en samewerking gedurende sistemiese kubergebeurtenisse gevoer en het oor gedeelde uitdagings en die belangrikheid van geografiese en strategiese nabyheid tussen die vastelande besin.
Die tweede dag het 'n kuberveiligheidsreaksie-scenario-oefening ingesluit wat oor die verskillende vastelande gestrek het, ingesluit. Hierdie oefening het waardevolle insigte in krisisreaksie-argitekture gebied en het potensiële gebiede vir toekomstige bekwaamheidsontwikkeling uitgelig. Die Dialoog is afgesluit met 'n besoek aan 'n ondersee-kabellandingsstasie aan die Weskus, waar afgevaardigdes ingelig is oor die infrastruktuur en tegnologieë wat wêreldwye marienekabelnetwerke ondersteun – 'n noodsaaklike komponent van internasionale verbinding.
Die Trajek 1.5-kuberdiplomasiedialoog het 'n geskiedkundige platform vir toekomstige kuberveiligheidssamewerking tussen die EU en Afrika gevestig, het Van der Waag-Cowling opgemerk. "Dit bied aan Afrikalande 'n unieke geleentheid om inisiatiewe soos die EU se “Global Gateway”-projek as hefboom te benut om kuberveiligheidsvermoëns te midde van die vinnige digitalisering op die vasteland te versterk."

