Baroness Valerie Amos
Oxford-leier en internasionale filantroop lewer 7de Jaarlikse Lesing oor Sosiale Geregtigheid
- Die Hoogedele Barones Valerie Amos LG CH PC praat Vrydag 20 Februarie by die sewende Jaarlikse Lesing oor Sosiale Geregtigheid, aangebied deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid.
- Lesing se tema: Illusies van Stabiliteit - Lewering van sosiale geregtigheid in 'n tyd van polarisasie en globale onstabiliteit
- Dit is die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid se eerste openbare geleentheid nadat die sentrum by die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se Globale Koalisie vir Sosiale Geregtigheid aangesluit het.
Die Universiteit Stellenbosch (US) sal eerskomende Vrydag, 20 Februarie, in vennootskap met die Baxter-teatersentrum, die gasheer wees vir een van die Verenigde Koninkryk se mees gesiene staatsamptenare en wêreldwye humanitêre leiers, die Hoogedele Barones Valerie Amos LG CH PC, wanneer sy die sewende Jaarlikse Lesing oor Sosiale Geregtigheid aanbied.
Die lesing, wat ook regstreeks op SAfm uitgesaai sal word, sal om 17:00 in die Baxter-teatersentrum in Rondebosch begin en val saam met die Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid. Die tema is ‘Illusies van Stabiliteit: Lewering van sosiale geregtigheid in 'n tyd van polarisasie en globale onstabiliteit’.
Die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, sal die openingsrede lewer en prof Thuli Madonsela, Direkteur: Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) in die Fakulteit Regsgeleerdheid, sal in gesprek wees met barones Amos waarna sy 'n vraag-en-antwoord-sessie sal fasiliteer.
'n Lewe van leierskap gewortel in gelykheid en diens
Barones Amos dien tans as hoof van die University College, Oxford, 'n pos wat sy sedert September 2020 beklee. Sy is die eerste swart persoon om 'n Oxford-kollege in sy 900-jarige bestaan te lei. Haar aanstelling is deel van 'n uitmuntende loopbaan wat oor plaaslike en nasionale regering in die Verenigde Koninkryk, asook wêreldwye leierskap by die Verenigde Nasies strek.
Barones Amos is in 1997 as 'n lewenslange lid van die Britse Hoërhuis benoem en het tussen 2003 en 2007 as minister van internasionale ontwikkeling en leier van die Hoërhuis, asook leier van die Raad gedien. Sy was die eerste swart vrou om in die Britse Kabinet te dien. Haar termyn by die Verenigde Nasies as Ondersekretaris-generaal vir Humanitêre Aangeleenthede het haar aan die voorpunt van wêreldwye reaksies op krisisse in streke soos Wes-Afrika en die Midde-Ooste geplaas.
Sy het regdeur haar loopbaan konstant 'n verbondenheid tot gelykheid en maatskaplike geregtigheid gehandhaaf, met 'n besondere belangstelling in onderwys as 'n krag vir sosiale verandering. Sy het in 2008 saam met haar suster Colleen Amos die Amos-beurs op die been gebring ter ondersteuning van talentvolle jongmense van Afrika- en Karibiese afkoms om hulle aspirasies in hoër onderwys en indiensneming te verwesenlik.
Betrokkenheid by jongmense
Barones Amos sê sy sien uit na haar besoek aan Suid-Afrika. "Suid-Afrika is 'n plek van aktivisme en idees. Ek sien daarna uit om met jongmense te skakel en te hoor wat hulle van huidige geopolitieke gebeure dink."
Sy voeg by dat sy die CSJ en Madonsela se prioritisering van waardigheid, aanspreeklikheid en die herstel van vertroue in die openbare lewe as sleutelelemente van die sosialegeregtigheidsagenda ondersteun. "Ons moet in die konteks van huidige wêreldgebeure ook kyk na die uitoefening van mag namate politieke alliansies en belange verskuif," sê Amos.
Sy het al dikwels gepraat oor die keer toe sy Suid-Afrika se voormalige president, wyle Nelson Mandela, ontmoet het en hy vir haar gesê het: "Jy behoort in die kabinet te wees" – raad wat profeties geblyk het. Sy sê sy is steeds geïnspireer deur Mandela se voorbeeld en het verskeie lesse uit sy leierskapstyl geleer: "'n Duidelike visie. Weet waarna jy soek of streef. Verstaan die ander kant. Gryp geleenthede aan. Bou en gebruik alliansies. Wees buigsaam en pas jou taktiek aan as dit jou nader aan jou doel sal bring, sonder om jou waardes en beginsels prys te gee. Bly oop vir idees. Lei met nederigheid. Luister."
Barones Amos se loopbaan is deur 'n reeks geskiedkundige "eerstes" gekenmerk wat ruimtes geopen het wat lank vir vroue en mense van kleur gesluit was. Om eerste te wees dra 'n las van verantwoordelikheid teenoor diegene wat ná jou kom, erken sy. "Dit gaan daaroor om deure en geleenthede vir ander te open. Om verandering in mense en organisasies te beïnvloed, vir verandering te pleit en die verantwoordelikheid te aanvaar om as 'n rolmodel gesien te word."
Barones Amos beklemtoon ook die belangrikheid beklemtoon om vroue by onderhandelinge en vredesprosesse te betrek, en merk op dat oplossings misluk wanneer vroue nie "by die tafel" aansit nie. Daar is in huidige konflikte en humanitêre krisisse steeds hindernisse vir vroue se betekenisvolle deelname, beklemtoon sy. "In baie konfliksituasies word die onderdrukking en verkragting van vroue as 'n ‘oorlogstaktiek’ gebruik – 'n manier om oorwinning oor jou vyande te behaal. Daar word nie na vroue geluister nie of hulle word nie gehoor nie. Hulle moet veg vir 'n plek by die vredestafel. Misoginie het nie verdwyn nie."
Versterk internasionale vennootskappe vir maatskaplike geregtigheid
Vanjaar se Lesing oor Sosiale Geregtigheid is ook 'n belangrike mylpaal vir die Universiteit en die CSJ. Die US is onlangs formeel as 'n vennoot in die Internasionale Arbeidsorganisasie se Globale Koalisie vir Maatskaplike Geregtigheid aanvaar. Dit is 'n multi-belanghebbende platform wat regerings, internasionale organisasies, sosiale vennote en akademici bymekaar bring om konkrete aksie ten opsigte van maatskaplike geregtigheid en die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkelings te versnel.
Die Koalisie fokus onder die leierskap van Sana de Courcelles, Direkteur van die Sekretariaat van die Globale Koalisie vir Maatskaplike Geregtigheid, op die aanspreek van ongelykheid en uitsluiting, die bevordering van mense- en arbeidsregte, die versterking van sosiale dialoog, die bevordering van inklusiewe en volhoubare ontwikkeling en die versterking van instellings van maatskaplike geregtigheid wêreldwyd.
Die CSJ sal as die US se institusionele fokuspunt vir betrokkenheid by die Koalisie dien, en sal navorsing, beleidsbetrokkenheid en openbare dialoog bydra wat met sy tematiese prioriteite ooreenstem. Die vennootskap versterk die US se wêreldwye akademiese netwerke, asook sy maatskaplike impak-agenda.
'n Samevloeiing van globale en plaaslike leierskap
Madonsela het barones Amos én De Courcelles verwelkom en vanjaar se Lesing oor Sosiale Geregtigheid as 'n samevloeiing van internasionale en plaaslike leierskap in maatskaplike geregtigheid beskryf.
"Dit is 'n groot eer om barones Amos by die Universiteit Stellenbosch te verwelkom – 'n ou vriendin wat gehelp het om Suid-Afrika se Wet op Diensbillikheid te vorm," sê Madonsela. "Haar werk weerspieël 'n vasberade toewyding aan die bevordering van gelykheid as 'n dimensie van maatskaplike geregtigheid en 'n belegging in volhoubare ontwikkeling en maatskaplike stabiliteit. Die lesing vind plaas terwyl die wêreld weer deur uiterste polarisasie geskud word, waarvan die kernbekommernisse oor en uiteenlopende sienings van geregtigheid is. Daarom is barones Amos se stem as 'n voorstander van gelyke geregtigheid tydig. Haar lesing val ook saam met die Universiteit Stellenbosch se formele aansluiting by die Globale Koalisie vir Maatskaplike Geregtigheid en dra dus tot die samevloeiing van internasionale en maatskaplikegeregtigheidsleierskap by. Dit sal ongetwyfeld tot die ontluikende wêreldwye herlewing van navorsing oor en voorspraak vir maatskaplike geregtigheid onder leiding van die ILO bydra, wie se bestaansrede die bevordering en beskerming van maatskaplike geregtigheid is."
Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisasie aan die US, het die CSJ gelukgewens met die reël van barones Amos se betrokkenheid as deel van sy strategie om internasionale maatskaplike geregtigheid na die voorgrond te bring in 'n tyd van geopolitieke verskuiwings en polarisasie. "Universiteite het 'n rol om te speel in die fasilitering van betrokkenhede, debatte en besprekings oor huidige kwessies wat ons globale samelewings in die gesig staar," het Moyo opgemerk. "Een van ons aksies as die Universiteit Stellenbosch was om by die Internasionale Arbeidsorganisasie se Globale Koalisie vir Maatskaplike Geregtigheid aan te sluit. Dit verseker dat ons plaaslik en op internasionale vlak betrokke bly om die impak te hê wat ons verlang."
De Courcelles se teenwoordigheid by die sewende Jaarlikse Lesing oor Sosiale Geregtigheid, waar sy ook 'n video vir die Globale Koalisie vir Maatskaplike Geregtigheid gaan opneem, beklemtoon die betekenis van die US se nuwe rol binne die Koalisie. Sedert die Koalisie bekend gestel is, het dit vennote deur seminare, tematiese webinare en sy eerste Forum in Genève byeengebring, wat 'n gedeelde begrip van prioriteite vorm en samewerkende intervensies oor 14 sleutelgebiede kataliseer. Die CSJ se Musaplan vir Sosiale Geregtigheid sal met hierdie wêreldwye platform belyn word om die interdissiplinêre samewerking en betrokkenheid oor US-fakulteite heen te versterk.
Die sewende Jaarlikse Lesing oor Sosiale Geregtigheid is die eerste geleentheid wat die CSJ sal aanbied ná die US se toelating tot die Koalisie, wat 'n nuwe hoofstuk in die Universiteit se bydrae tot internasionale diskoers oor maatskaplike geregtigheid inlui.
GELEENTHEIDSBESONDERHEDE:
- Registrasie: https://shorturl.at/FXD6v
- Regstreekse stroomuitsending: https://www.su.ac.za/en/live-web-streaming
- Bywoning: Gratis, registrasie is nodig
Deelnemers wat vir die Lesing oor Sosiale Geregtigheid registreer, sal 'n spesiale aanbod van R180 ontvang om Gregory Maqoma se GENESIS: The Beginning and End of Time(promosiekode: Justice26) te sien.
NAVRAE:
Thembalethu Seyisi
Tel: 072 785 3218
E-pos: [email protected]