Skip to main content
A picture of judge’s gavel on a law textbook for criminal and civil laws in a library.
Image by: Adobe Stock
Persverklaring

Stygende nalatigheidseise bedreig gesondheidsorgtoegang, staatsbronne in SA

Alec Basson
15 April 2026
  • 'n Toename in die aantal, asook waardes van mediese nalatigheidseise teen die staat.
  • Regstelsel vir berekening en betaling van toekomstige mediese uitgawes en vergoeding onbevredigend.
  • Twee alternatiewe: Verbintenis om vir toekomstige mediese uitgawes te betaal en 'n plafon vir pyn en lyding.

Die aantal eise vir skadevergoeding teen die staat vir skade wat deur mediese nalatigheid veroorsaak is, asook die waardes van hierdie eise het die afgelope aantal jare aansienlik toegeneem. Dít plaas finansiële druk op Suid-Afrika se openbare gesondheidsorgstelsel en laat kommer ontstaan oor of die staat toeganklike gesondheidsorg aan diegene wat daarvan afhanklik is, sal kan bied.

“Die huidige regstelsel wat die berekening en betaling van toekomstige mediese uitgawes en vergoeding vir pyn en lyding aan slagoffers in sake oor mediese nalatigheid teen die staat reguleer, is onbevredigend. Daar is 'n gebrek aan betekenisvolle politieke en regulatoriese ingrypings om hierdie kwessie aan te spreek,” sê die Kaapse regspraktisyn dr Robyn Conradie. Sy het onlangs haar doktorsgraad in privaatreg aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Conradie het twee alternatiewe metodes geïdentifiseer om vergoeding aan slagoffers van mediese nalatigheid te bereken en te betaal, naamlik die verbintenis om vir toekomstige mediese uitgawes te betaal en 'n plafon vir pyn en lyding. 

Sy sê 'n toename in eise teen die staat beteken die staatskas word gebruik om te litigeer en vergoeding aan suksesvolle eisers te betaal, wat beteken daar is minder geld vir openbare gesondheidsorg beskikbaar. Dit word 'n bose kringloop.

“Omdat openbare gesondheidsorgfasiliteite hierdie vergoeding uit 'n krimpende gesondheidsbegroting betaal, en al het die staat dalk ‘diep sakke’, kan die staat homself in 'n posisie bevind waar hy nie kan aanhou om vergoedingseise vir mediese nalatigheid te betaal én terselfdertyd gesondheidsorg te verskaf nie. Dit kan slagoffers van mediese nalatigheid aan die risiko blootstel dat hulle nie vergoeding vir skade wat hulle gely het, ontvang nie.” 

Conradie wys ter illustrasie van die finansiële las op data van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie wat toon dat byna R2 miljard in skadevergoeding in die finansiële jaar 2020/21 uitbetaal is, met voorwaardelike verpligtinge wat R120 miljard in dieselfde jaar oorskry het.

Volgens haar is die toename in mediese nalatigheid te wyte aan verskeie redes, insluitende pasiënte wat meer van hulle regte bewus word, korrupsie en die wanbestuur van geld en hulpbronne.

Sy sê die verbintenis om toekomstige mediese uitgawes te betaal en 'n plafon vir pyn en lyding kan help om billikheid vir slagoffers met die langtermyn-volhoubaarheid van die openbare gesondheidsorgstelsel te balanseer.

“Eerder as om slagoffers 'n eenmalige enkelbedrag bedrag vir toekomstige mediese uitgawes te betaal, kan die Departement van Gesondheid onderneem om kragtens 'n onderneming-om-te-betaal-sertifikaat enige toekomstige mediese uitgawes te dek sodra en wanneer dit ontstaan. 

“Dít sal die departement se kontantvloeiprobleme oorkom en ook litigasiekoste verminder wanneer toekomstige mediese uitgawes bereken word, omdat die waarde van hierdie uitgawes nie aan die einde van die litigasie bereken hoef te word nie, wat dus die moontlikheid van oor- of ondervergoeding van eisers verminder.”

“Die feit dat daar nie meer eenmalige enkelbedrae betaal hoef te word nie, kan kompenseer vir die toename in koste (om die moontlik verhoogde administratiewe las van die bekendstelling van 'n onderneming-om-te-betaal te dek). Waar geen enkelbedrag betaal word nie, kan die geld belê en vir gesondheidsorgdienste geoormerk word. 

“Dit kan transaksiekoste soos regskoste en die hoë koste om deskundige menings in te win verminder, aangesien hierdie dienste dalk nie meer nodig sal wees nie omdat hierdie toekomstige mediese uitgawes nie meer vooraf bereken hoef te word nie.”

Conradie wys daarop dat dit duur en tydrowend is om toekomstige mediese uitgawes te bereken en dat eisers volgens die huidige wetgewing waarskynlik oor- of onderbetaal sal word.

“Die staat betaal vergoeding aan eisers wat 'n meevaller ontvang, waar die finansiële hulpbronne vir openbare gesondheidsorg gebruik kon word. Aan die ander kant lei onderkompensaie tot onvoldoende vergoeding vir eisers. 

“Die oor- en onderkompensasie van eisers vererger albei die mediese nalatigheidskrisis. Die waardes wat vir toekomstige mediese uitgawes betaal word, is hoog en put die finansiële hulpbronne van die staat uit. Dit veroorsaak ook kontantvloeiprobleme vir die staat.” 

Conradie sê omdat haar alternatiewe benadering die potensiaal vir ondervergoeding verminder, sal 'n eiser nie hulle uitbetaling vir toekomstige mediese uitgawes oorleef nie. Soos dit nou staan, kan die eiser ondergekompenseer word en kan hulle 'n tekort aan geld ondervind indien die toekenning te laag blyk te wees, soos dikwels die geval is.

“Die Departement van Gesondheid hoef nie groot enkelbedrae op een slag aan individuele litigante te betaal nie, wat beteken daar is 'n toename in kontantvloei wat weer in die gesondheidsorgsektor teruggeploeg kan word.

“Dit sou ook redelik wees om die vergoeding vir pyn en lyding te beperk en nie-patrimoniale skadevergoeding op grond die algehele omvang van 'n persoon se gestremdheid te bereken.”

Conradie sê dit sal moontlik wees om die voorgestelde alternatiewe sonder enige groot finansiële implikasies vir die staat te implementeer.

“Ons is nog nie by 'n keerpunt nie en met die regte ingrypings kan ons werklike verbetering in openbare gesondheidsorg sien terwyl ons verseker dat slagoffers van mediese nalatigheid regverdig vergoed word.” 

 

Verwante stories