Skip to main content
A photo of Siyavuya Ngemntu
Image by: Stefan Els

Siyavuya Ngemntu 

Impak Institusionele nuus

Siyavuya Ngemntu ondersteun studentereise oor grense heen

Korporatiewe Kommunikasie
05 Mei 2026
  • #DagInDieLewe-veldtog
  • As 'n toonaangewende hoëronderwys- en navorsingsinstelling in Suid-Afrika is ons trots op ons diverse en talentvolle span voltydse personeel – akademici, navorsers en professionele administratiewe steundienste-personeel – wat saamwerk om 'n omgewing te skep waar navorsing, kreatiwiteit en transformasie floreer. Met ons jaarlikse #DagInDieLewe-veldtog in Mei deel ons die stories van personeel aan die Universiteit Stellenbosh (SU) wat 'n deurslaggewende rol speel in die impak van die instelling.

In die Registrateur se afdeling speel Siyavuya Ngemntu ʼn sleutelrol waar sy studente met internasionale kwalifikasies met presisie en sorg deur ʼn komplekse toelatingsproses lei. Sy kombineer tegniese kundigheid met empatie vir take wat wissel van die navigasie van globale onderwysstelsels tot die bemoediging van studente in ʼn uitdagende lewensfase – en ʼn onverwagte passie vir boerdery onthul die waardes wat haar benadering tot groei in die grond én in studente se toekoms rig. 

Wat behels jou rol by die US? 

Ek werk as ʼn aansoekbeampte vir internasionale skole in die Registrateur se afdeling, waar ek voorgraadse én nagraadse aansoekers oor verskeie fakulteite heen ondersteun. My fokus is op voorgraadse Suid-Afrikaanse studente wat internasionale kurrikulums voltooi het, wat beteken ek bestee heelwat tyd aan die evaluering van kwalifikasies en om seker te maak dat dit aan die toelatingsvereistes voldoen.

My rol is nogal gespesialiseerd, omdat dit verder as die aansoekfase strek. Ek help ook studente ná registrasie met hulle matrikulasievrystelling en maak seker dat elke toegelate student aan die nodige vereistes voldoen. Dit behels skakeling met eksterne liggame soos Universiteite Suid-Afrika, Cambridge Assessment International Education en Pearson om akkurate belyning en voldoening te verseker.

Ek werk nou saam met interne departemente en eksterne vennote om te seker te maak dat aansoeke billik en konsekwent beoordeel word. ʼn Groot deel van my rol behels om gedurende ʼn komplekse en soms oorweldigende proses duidelikheid en gerusstelling aan voornemende studente en hulle gesinne te bied. Dis ʼn rol wat tegniese presisie met ʼn sterk fokus op mense kombineer.

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag? 

Elke dag lyk anders, iets wat ek baie geniet. Die meeste dae behels die hersiening van aansoeke, verifiëring van dokumente en beantwoording van navrae van studente, ouers en kollegas. Sommige navrae is eenvoudig en ander verg omvattender ondersoeke, veral wanneer met internasionale kwalifikasies gewerk word.

Ek werk ook saam met verskillende spanne reg oor die Universiteit om te verseker dat die toelatingsproses glad verloop. Gedurende spitstye kan die tempo vinnig wees, maar dis lonend om te weet dat elke verwerkte aansoek ʼn stap nader is aan studente wat hulle reis by die US begin. Om deel te wees van daardie reis, selfs agter die skerms, maak die werk betekenisvol.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei? 

Ek het ʼn baccalaureusgraad in bedryfs- en organisasiesielkunde en sosiologie verwerf, wat ʼn stewige grondslag bied om mense, asook stelsels en hoe organisasies funksioneer, te verstaan. Gedurende my universiteitsjare het ek baie in opleiding en ontwikkeling begin belangstel, veral om ander in hulle groeiproses te ondersteun en te lei. 

Voor ek by die US aangesluit het, het ek ʼn paar student-gefokusde rolle vervul by 2U, ʼn Amerikaanse opvoedkundige tegnologiemaatskappy. Ek was ʼn toelatingsberader en het voornemende studente van reg oor die wêreld ondersteun in die aansoekproses vir graadprogramme wat in vennootskap met instellings soos die Universiteit van Londen en die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap aangebied word. Hierdie rol het behels om toelatingsonderhoude te voer, internasionale kwalifikasies te beoordeel en aansoekers deur komplekse vereistes te lei.

Ek het voorts as ʼn studentesukses-adviseur en -afrigter gewerk, wat die ondersteuning van ingeskrewe meestersgraadstudente aan die Universiteit van Surrey behels het. In hierdie rolle het ek gefokus op studentebetrokkenheid, akademiese ondersteuning, vorderingsmonitering en die fasilitering van beradingsessies om studente te help om akademiese én persoonlike uitdagings aan te pak.

Hierdie ervarings het my aan diverse onderwysstelsels en studentebehoeftes blootgestel, wat my vermoë versterk het om gestruktureerde leiding te bied terwyl ek empaties en studentgesentreerd bly.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? 

Om deel van so ʼn belangrike fase van ʼn student se reis te wees. Om by ʼn universiteit aansoek te doen kan oorweldigend voel, veral wanneer daar bykomende kompliserende faktore soos internasionale kwalifikasies is. Dis ongelooflik lonend om duidelikheid en ondersteuning gedurende daardie proses te kan bied.

Ek waardeer ook die samewerkende omgewing by die US. Daar is ʼn gedeelde verbintenis oor spanne heen om studente te ondersteun en diens van ʼn hoë standaard te lewer. Om deel te wees van ʼn instelling wat akademiese uitnemendheid én die studente-ervaring prioritiseer, verleen ʼn gevoel van doelgerigtheid aan die werk.

Vertel ons iets oor jouself wat min mense sou verwag. 

Ek besit en bestuur ʼn klein varkplaas en is ook ʼn ywerige tuinier. Hierdie passie is diep in my opvoeding gewortel. Ek het in my grootwordjare naweke by my ouers se plattelandse huis deurgebring, waar ons vee, insluitend varke, aangehou het. Daardie ervaring het my dissipline, geduld en die waarde van die produksie van jou eie kos geleer. Dit het ook ʼn gevoel van konsekwentheid ingeskerp – ʼn begrip dat groei volgehoue sorg en verantwoordelikheid oor tyd heen verg.

My oorlede ma het ʼn diepgaande respek vir die natuur gehad. Sy het altyd die reën gevier en dit nie net as weer beskou nie, maar as lewe, groei en hoop. Daardie perspektief rig steeds my benadering tot die lewe én werk.

Reise deur die Oos-Kaap het my blootgestel aan landelike gemeenskappe waar bestaansboerdery, harde werk en wedersydse ondersteuning die daaglikse lewe definieer. Hierdie ervarings het ʼn blywende indruk gelaat en my waardering vir volhoubaarheid en gemeenskap versterk.

Ek het dit na my eie lewe oorgedra en ek kweek groente soos spinasie, kool en aartappels. Boerdery is in baie opsigte ʼn weerspieëling van my professionele rol. Dit verg struktuur, aandag aan besonderhede en noukeurige monitering – baie soortgelyk aan die bestuur van aansoeke en die ondersteuning van studente se vordering.

Ek fokus in my werk by die US op akkuraatheid, om ontwikkeling te koester en om groei te ondersteun – hetsy dit gedurende die verifiëring van kwalifikasies is of om studente deur die matrikulasievrystellingsvereistes te lei. Die balansering van landelike waardes met ʼn gestruktureerde professionele omgewing het my benadering gerig en dit anker my steeds in my doelwitte en in die praktyk.

Merkers

Personeel

Verwante stories