Skip to main content
A photo of Rulanzen Martin
Image by: Stefan Els

Rulanzen Martin

Impak Institusionele nuus

Rulanzen Martin bring hart, humor en tegniese vaardigheid na US se webspan

Korporatiewe Kommunikasie
20 Mei 2026
  • #DagInDieLewe
  • As ’n toonaangewende hoëronderwys- en navorsingsinstelling in Suid-Afrika is ons trots op ons diverse en talentvolle gemeenskap van meer as 4 000 voltydse personeellede – akademici, navorsers en professionele administratiewe steundienstepersoneel – wat saamwerk om ’n omgewing te skep waar ontdekking, kreatiwiteit en transformasie floreer. Met ons jaarlikse #DagInDieLewe-veldtog in Mei deel ons die stories van personeel aan die Universiteit Stellenbosh (SU) wat ’n deurslaggewende rol speel in die impak van die instelling.

Van sy aandeel in die bou en instandhouding van een van die US se belangrikste digitale platforms tot die vervolmaking van sy Kaaps-Maleise kerries ná ure, Rulanzen Martin bring ’n gelyke dosis tegniese kundigheid, kreatiwiteit en warmte na sy rol as Koördineerder van Digitale Kanale in die Universiteit se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (CCMD). Martin gesels oor die agt jaar lange projek om die webwerf te herontwikkel, die bevrediging daarvan om kollegas deur digitale uitdagings te help stuur, en presies hoekom uie wat reg gebraai is, belangriker is as wat mense dink.

Wat behels jou rol by die US?

Ek is hoofsaaklik verantwoordelik vir gebruikersondersteuning en om te verseker dat webinhoud belyn is met ons handelsmerk- en ontwerpbeginsels. Ek verskaf tegniese en inhoudondersteuning aan webkoördineerders reg oor die Universiteit. Saam met my kollega Ilze Grobler, ’n webontwerper, maak ons die webspan uit wat na die US-webwerfomgewing omsien.

Hoe lyk ’n tipiese dag by die werk?

Geen dag is dieselfde nie. Ek weet dis ’n cliché, maar om in kommunikasie en bemarking te werk, beteken daar is nooit ’n vervelige oomblik nie. Ons werk hibried sedert opknappings by Admin B in Junie 2025 begin het, maar ’n normale dag van my tuiskantoor af begin met die prioritisering van die belangrikste navrae wat ek ontvang het. Dit kan via MS Teams, e-pos of Jira kom. Ek vergader ook met webkoördineerders en eksterne diensverskaffers, óf virtueel óf persoonlik, om met webwerf-navrae en -kwessies te help.

Om instandhoudingskontroles op bladsye en webwerwe te doen, is ook deel van die roetine. Ek skep ook webbladsye op versoek vir institusionele doeleindes, insluitend hertoelatingsinligting, of wanneer die US-Konvokasie of -Raad nominasieprosesse oop het om vakatures te vul.

Hoe het jou opleiding en vorige ervarings jou vir hierdie pos voorberei?

Op hoërskool in die Noord-Kaap was ek deel van die redaksiespan van ons skoolkoerant, Die Brode Gazette. Daarna het ek BA Kommunikasiewetenskap: Mediastudies en Joernalistiek aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer. My doelwit was om ’n joernalis te word, maar gelukkige omstandighede het my op die pad van korporatiewe kommunikasie geplaas.

In 2016 het ek ’n internskap gekry in die Departement Kommunikasie en Handelsmerkbestuur aan die UV, waar ek hoofsaaklik op korporatiewe skryfwerk en nuusberiggewing gefokus het – so, ’n joernalis, maar nie heeltemal nie. Dit was in dieselfde jaar dat die UV sy webwerf herontwikkel het, en ek is getaak om die “ou” webwerf op datum en aan die gang te hou. Dit was gehuisves op ’n plaaslike (on-prem) pasgemaakte CMS genaamd AppsMedia. Om ’n lang storie kort te maak: ek het uiteindelik ’n permanente pos as webwerfredakteur gekry, waar ek op ’n Progress Sitefinity-gehuisvesde webwerf by die UV gewerk het.

Spoel vinnig vorentoe na 2023, toe ek by die US as webwerfkoördineerder aangesluit het. Hier het my rol en verantwoordelikhede meer tegnies geword, met ’n sterker fokus op gebruikersondersteuning en inhoud. Toe ek by die US begin het, was ons webwerf nog op SharePoint 2013 gehuisves. Ek het in die middel van die webwerf-herontwikkelingsprojek hier begin – ’n projek waaroor ek baie trots is om deel van te gewees het. Ons webwerf is werklik ’n bewys van harde werk wat oor agt jaar gestrek het.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en om by die Universiteit Stellenbosch (US) te werk?

Ek is ’n spanspeler en iemand wat graag saam met ander werk, en ek glo daarin om ander te bemagtig. By die US het ons ’n gedesentraliseerde model vir webwerfbestuur waar CCMD die proses ondersteun, wat beteken dat die meeste omgewings na hul eie webinhoud omsien.

In sommige gevalle bied ons ondersteuning met inhoud, maar ek help meestal met tegniese en inhoudsnavrae. Om die verligting te hoor wat kollegas ervaar ná ’n Teams-oproep om hulle te help, maak die werk vir my baie betekenisvol. Aan die einde van die dag is ons almal hier om die besigheidskontinuïteit van die instansie te verseker.

Die webwerf is ’n belangrike toegangspoort vir voornemende studente, sowel as ons huidige studente en personeel. Om te kan help verseker dat hierdie belangrike poort toeganklik bly, is dus baie bevredigend.

Een amusante detail is dat mense wat my ken as die persoon agter Teams-oproepe, geselse en e-posse dikwels dink my naam is Martin, maar dit is eintlik my van.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag.

Ek is ’n uitsonderlike goeie kok en bakker. My liefde vir kosmaak kom van my pa af, wat die kok in ons huis was. Ek onthou nog goed hoe hy altyd ’n pasta van knoffel en groenrissie vir sy bredies en kerries gemaak het – ’n unieke kombinasie en reuk. Dit was hierdie mengsel wat my liefde vir knoffel aangewakker het. Vars knoffel! 

Toe my pa oorlede is, het ek min of meer die kosmaak in ons gesin oorgeneem. Ek gebruik ook die knoffel-en-groenrissie-pasta as ’n basis vir my bredies en kerries. Een van my grootste irritasies is wanneer mense nie hul uie behoorlik braai nie.

Kosmaak is vir my ’n uitdrukking van my kreatiwiteit. Ek is lief vir tradisionele kos, en Kaaps-Maleise kerries is ’n groot gunsteling, veral op Sondae. Aangesien ek in Kaapstad woon, voel dit net reg. My kookgewoontes het ’n interessante wending geneem toe ek begin oefen het en op meer voedsame, proteïenryke maaltye begin fokus het – sonder om geur en heilsaamheid af te skeep. Ek kan ’n bobaas-smoortjie maak; een waarop Tietie en Nanna, plaaslike sjefs wie se getekende kookboek ek besit, baie trots sou wees.

Wat bak betref, hou ek daarvan om nuwe resepte te toets. Om my gebak met vriende en kollegas te deel, gee my altyd soveel plesier. My wortelkoek is ’n treffer by die kantoor! TikTok maak dit so maklik om inspirasie en idees te kry, en ek maak of bak dikwels iets wat ek op sosiale media gesien het. Ongelukkig het ek net nie die persoonlikheid om myself te verfilm terwyl ek kosmaak nie.

As ’n introvert wat sommer ’n kwaai geval van spraaksamigheid kry sodra ek mense eers leer ken het, is ek dolgelukkig wanneer ek kook of bak. Ek hou daarvan om in die kombuis te wees.

Merkers

Personeel

Verwante stories