Regter Rammaka Steven Mathopo van die Konstitusionele Hof het die 20ste Jaarlikse Menseregtelesing by die Universiteit Stellenbosch gelewer.
Regter van hoogste hof lewer ‘mylpaal’-menseregtelesing
- Regter Rammaka Steven Mathopo het 'n oproep om ’n hernude fokus op ruimtelike geregtigheid en behuisingsregte in Suid-Afrika gedoen.
- Hy was die spreker by die 20ste Jaarlikse Menseregtelesing.
- Die lesing is deur die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte-reg aangebied.
Regter Rammaka Steven Mathopo van die Konstitusionele Hof het op 16 April 2026 die 20ste Jaarlikse Menseregtelesing by die Universiteit Stellenbosch (US) gelewer en ’n hernude fokus op ruimtelike geregtigheid en behuisingsregte in Suid-Afrika bepleit.
Die geleentheid is deur die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg in die Universiteit se Fakulteit Regsgeleerdheid aangebied, wat “lankal ’n belangrike ruimte vir regswetenskap en grondwetlike besinning is”, het hy gesê.
“Dit is daarom ’n besondere eer om die geleentheid te hê om met hierdie gemeenskap te skakel oor vraagstukke wat op die kruispunt van menseregte, stedelike ontwikkeling en die geleefde werklikhede van baie gemeenskappe lê.”
Geleefde werklikheid
Mathopo se lesing, getiteld A Right to Remain: Spatial Justice and a Transformative Approach to Housing Rights, het die blywende ruimtelike ongelykhede van apartheid en die implikasies daarvan vir grondwetlike regte ondersoek.
Hy het die lesing op persoonlike ervaring gegrond. “Ek het in ’n Suid-Afrika grootgeword wat diep gesegregeerd was, en ek het ons oorgang na ’n demokratiese bedeling met kernwaardes in menseregte beleef. Ek sien nie ruimtelike geregtigheid as ’n abstraksie nie,” het hy gesê.
Mathapo is in Soweto gebore en het in landelike Limpopo grootgeword, waar hy midde-in die ruimtelike verdeeldheid geleef het wat hy nou teëkom as ’n regter wat die Grondwet moet handhaaf. Hy was vir 17 jaar ’n regspraktisyn voordat hy in 2006 by die regbank aangesluit het. Hy het later in die Hooggeregshof en die Appèlhof gedien voor sy aanstelling by die Konstitusionele Hof in 2022.
Onvervulde belofte
Ruimtelike ongeregtigheid was ’n bepalende kenmerk van apartheid, het Mathopo verduidelik. “Wette soos die Groepsgebiedewet en die Wet op die Voorkoming van Onwettige Plakkery het nie bloot grondgebruik gereguleer nie; hulle het afstand gemanipuleer – afstand tussen swart liggame en ekonomiese geleenthede, afstand tussen gemeenskappe en sosiale opsies, en afstand tussen individualiteit en menswaardigheid.”
Dit was volgens hom hierdie nalatenskap wat die 1996-Grondwet, wat kort ná Suid-Afrika se oorgang na demokrasie aanvaar is, beoog het om reg te stel. Dit het “ ’n samelewing waar menswaardigheid, gelykheid en vryheid geleefde werklikhede sou wees” beloof.
Tog bly daardie belofte onvervuld – die ruimtelike verdeeldheid van die verlede is steeds diep verskans. Mathopo het gewys op gemeenskappe wat sonder toegang tot basiese dienste leef, asook diegene wat in die naam van ontwikkeling ontheem is en ver van ekonomiese geleenthede hervestig is.
Ontwikkeling sonder ontworteling
’n Sentrale tema van die lesing was die behoefte om ontwikkeling te heroorweeg op ’n wyse wat mense se verbintenisse met plek, gemeenskap en lewensbestaan beskerm.
“Huise is nie bloot strukture van baksteen en sement nie,” het Mathopo gesê. “Dit is plekke waar mense lewens bou, ’n lewensbestaan verseker en die sosiale bande vorm wat betekenis aan die alledaagse bestaan gee.”
Hy het aangevoer dat ’n transformerende grondwetlike benadering vereis dat ruimtelike ongelykheid nie slegs as ’n historiese nalatenskap nie aangespreek word, maar as ’n voortdurende grondwetlike uitdaging.
Terwyl hy die druk erken het wat munisipaliteite in die gesig gestaar namate stedelike bevolkings groei, het hy beklemtoon dat menswaardigheid sentraal moet bly.
“Diegene wat haweloos is, behoort steeds êrens,” het hy gesê. “Dit is daardie reg om te behoort wat alle ander regte onderlê. Jy mag dalk nie ’n huis hê nie, maar jy noem Suid-Afrika steeds jou tuiste.”
Reg, beperkings en verantwoordelikheid
Mathopo het hierdie uitdagings binne Suid-Afrika se grondwetlike raamwerk geplaas.
Artikel 25 van die Grondwet beskerm eiendomsregte terwyl dit grondhervorming moontlik maak, terwyl Artikel 26 toegang tot voldoende behuising waarborg en beskerming teen uitsetting sonder ’n hofbevel bied.
Deur jare se regspraak, het hy opgemerk, het die howe bepaal dat uitsettings regverdig en billik moet wees, dat munisipaliteite betekenisvol met geaffekteerde gemeenskappe moet skakel, en dat niemand sonder behoorlike oorweging dakloos gelaat mag word nie.
Die howe word egter deur institusionele beperkings gekniehalter. “Ons kan nie behuisingsbeleid skryf nie, en ons kan ook nie begrotings toewys nie,” het Mathopo erken.
Maar hy het die gehoor met ’n belangrike vraag gelaat: “Gebruik ons die kragtige meganismes wat bestaan tot hulle volle potensiaal?”
In ’n vertrek in die Ou Hoofgebou vol regspraktisyns, regsgeleerdes en studente, asook verskeie regters wat die geleentheid persoonlik en aanlyn bygewoon het, het hy afgesluit met ’n uitdaging: “Ons kan, en moet, daarop aandring dat grondwetlike verpligtinge nagekom word.”
‘Stof tot nadenke’
Die lesing was terselfdertyd die 20ste herdenking van die reeks.
Prof Richard Stevens, die waarnemende Viserektor: Leer en Onderrig het namens die Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, gepraat en die geleentheid as ’n “mylpaal wat nie net van ’n lang lewe nie spreek, maar van volgehoue intellektuele en morele toewyding” beskryf.
Hy het bygevoeg: “Ons is deeglik bewus daarvan dat ons geskiedenis ’n besondere verantwoordelikheid op ons plaas. Ons kan nie op ’n abstrakte manier oor regte praat nie. Ons moet dit in konteks beskou.”
Graham Viljoen, Besturende Direkteur van Webber Wentzel, die regsfirma wat die reeks borg, het gesê die firma is “werklik geëerd” om van die begin af betrokke te kon wees.
“Hierdie soort volgehoue bevraagtekening maak saak – nie net as ’n intellektuele oefening nie, maar as ’n burgerlike een,” het hy gesê.
Die bekleër van die leerstoel, prof Sandra Liebenberg, het Mathopo bedank vir wat sy as ’n “diepsinnige en prikkelende lesing” beskryf het.
“Nie net u nougesetheid as regsgeleerde nie, maar ook u menswees, empatie en deernis vir diegene wat deur armoede uitgesluit word, het duidelik na vore gekom,” het sy gesê.
* Desmond Thompson is ’n vryskutjoernalis.