Skip to main content
A picture of a posterior view of the lungs against a blue background.
Image by: Adobe Stock
Menings en artikels

Pulmonale hipertensie: 'n Wêreldwye gesondheidskrisis wat ons moet aanspreek

Gerald Maarman
06 Mei 2026
  • Wêreld-Pulmonale Hipertensiedag is op 5 Mei gevier.
  • ʼn Kenner by die US, prof Gerald Maarman, het 'n meningsartikel geskryf.
  • Hy fokus op maniere om die diagnose en behandeling van pulmonale hipertensie te verbeter.

Pulmonale hipertensie is ʼn ernstige siekte wat deur hoë bloeddruk in die longe gekenmerk word. Dit raak miljoene mense  wêreldwyd. Prof Gerald Maarman van die Afdeling Mediese Fisiologie het ter viering van Wêreld-Pulmonale Hipertensiedag op 5 Mei 'n meningsartikel vir die Weekend Argus geskryf. In die artikel beklemtoon hy die belangrikheid van beter siftingsinstrumente, befondsing, nuwe terapeutiese middels of geneesmiddelteikens, geakkrediteerde opleidingsgeleenthede met aansporings vir klinici, en bewusmakingsveldtogte om die siekte te bekamp.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Gerald Maarman*

Wêreld-Pulmonale Hipertensiedag word elke jaar op 5 Mei gedenk om bewustheid te verhoog van pulmonale hipertensie (PH), ʼn ernstige siekte wat deur hoë bloeddruk in die longe gekenmerk word. Sonder kliniese ingryping veroorsaak hierdie volgehoue druk ernstige skade aan die bloedvate, wat dit moeilik maak vir die hart om bloed na die longe te pomp. Hou in gedagte dat die regterkant van die hart normaalweg bloed na die longe pomp sodat die suurstof wat ons inasem geabsorbeer en na die res van die liggaam gesirkuleer kan word.

As PH nie behandel word nie, plaas die hoë bloeddruk in die longe bykomende druk op die hart, wat regterhartversaking veroorsaak. ʼn Pasiënt met PH kan binne maande hartversaking ontwikkel, wat as akute regterhartversaking bekend is, óf oor ʼn langer tydperk (binne jare).

Pulmonale hipertensie word geassosieer met verskeie toestande soos MIV, linkerhartsiekte (wanneer die linkerkant van die hart sukkel om bloed doeltreffend te pomp), skistosomiase (ʼn siekte wat veroorsaak word deur parasitiese wurms wat in besmette varswater voorkom), aangebore hartdefekte, chroniese lewer- en niersiektes, bindweefselsiektes soos skleroderma (verharding en stywer word van die vel en ander liggaamsdele) of lupus eritematose (die immuunstelsel val gesonde weefsel in die hele liggaam aan), chroniese obstruktiewe longsiekte (ʼn chroniese longtoestand wat lugvloei beperk en asemhalingsprobleme veroorsaak), asook post-tuberkulose-longsiekte. As pasiënte enige van hierdie toestande het, het hulle ʼn hoër risiko om PH te ontwikkel.

Sowat 75 miljoen mense wêreldwyd ly aan PH en daar word gemeen bykans 80% van hulle woon in ontwikkelende lande, insluitend Suid-Afrika. Die voorkoms van die siekte in Suid-Afrika is nie goed opgeteken nie, maar vorige studies dui op koerse van ongeveer 14%-19% vir mense met MIV en TB. Gegrond op hierdie logika en as agt miljoen mense in die land byvoorbeeld hierdie toestande onder lede het, sou ʼn PH-voorkoms van ongeveer 20% daarop dui dat ongeveer 1,6 miljoen mense in Suid-Afrika PH kan hê.

Dit beteken dat PH ʼn verskriklike siekte is, veral omdat daar geen genesing is nie en die potensiële las daarvan op die gesondheidsorgstelsel derhalwe ʼn groot bron van kommer is. Gespesialiseerde medikasies is vir die behandeling van pasiënte met PH beskikbaar en die kombinasie hiervan kan lewens met tot 15 jaar verleng. Pasiënte wat nie behandeling ontvang nie, sal moontlik slegs drie tot vyf jaar leef nadat hulle gediagnoseer is.

Ongelukkig is PH-medikasie duur en nie in alle lande beskikbaar nie. Die redes vir dié gebrek aan toegang sluit in buitensporige koste, beperkte befondsing, intellektuele eiendomsregte, beperkte koopkrag en infrastruktuurtekorte. Sommige lande beskik dalk oor ʼn deel van die medikasies, terwyl ander dalk alles of niks het nie. Dit ontlok ʼn belangrike etiese vraag: As pasiënte aan PH ly en weens die koste daarvan nie toegang tot medikasie kry nie, is ons werklik gemaklik daarmee dat mense sterf al weet ons baie goed dat iets daaraan gedoen kon word?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie, die Europese Vereniging van Kardiologie en die Europese Respiratoriese Vereniging beskou regterhartkateterisasie (ʼn prosedure waar ʼn dun buis gebruik word om druk in die regterkant van die hart en longe te meet) as die goudstandaard vir die diagnose van PH. Maar in baie ontwikkelende lande kan hierdie riglyn nie gebruik word om pasiënte te diagnoseer nie, omdat daar ʼn tekort aan ervare kardioloë in landelike gebiede is, pasiënte selde toegang tot gespesialiseerde kardiologiesentrums het waar regterhartkateterisasie uitgevoer kan word, en die toerusting nie altyd beskikbaar is nie. Dit beteken baie mense ly moontlik aan PH, maar word nooit gediagnoseer nie en bring hul lewe weens onvoldoende kliniese bestuur in frustrasie en lyding deur.

As ʼn uitvoerende komiteelid van die Infeksies in Pulmonale Vaskulêre Siekte-konsortium en ʼn medevoorsitter van ʼn wêreldwye navorsingskonsortium in opdrag van die Amerikaanse Torakale Vereniging, werk ek saam met kollegas reg oor die wêreld om pogings te versterk om PH te diagnoseer en behandel. Daar is oor die afgelope vyf jaar baie werk gedoen om die uitdagings rakende PH-diagnose en -behandeling te bowe te kom.

My eie werk het tot verskeie aanbevelings gelei om uitdagings te help temper, insluitend die ontwikkeling van beter siftingsinstrumente, om private befondsers te betrek, om nuwe terapeutiese middels of geneesmiddelteikens te ondersoek, die inwerkingstelling van geakkrediteerde opleidingsgeleenthede met aansporings vir klinici, asook bewusmakingsveldtogte. Ander aanbevelings sluit in groter voorspraak om openbare en private befondsers aan te moedig om navorsing te ondersteun wat klinici, natuur- en sosiale wetenskaplikes en en implementeringswetenskaplikes byeenbring.

Maar ons moet een stap verder gaan in ons stryd teen PH. Ons moet die vaardighede, sosiale netwerke en ervaring van organisasies sonder winsbejag benut om verskillende belanghebbendes by die bestryding van die siekte te betrek. Ons moet voorts klinieke vir pasiënte met kortasem in landelike gebiede in werking stel en navorsing doen oor of genetiese veranderinge of unieke genetiese handtekeninge as siektemerkers gebruik kan word.

*Prof Gerald Maarman is ʼn medeprofessor in die Afdeling Mediese Fisiologie in die Departement Biomediese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Hy spesialiseer in kardiovaskulêre en pulmonale fisiologie, met ʼn spesifieke fokus op mitochondriale bio-energetika en metabolisme in kardiopulmonale siektes.

 

Verwante stories