
Prof John Babafemi van die Departement Siviele Ingenieurswese lewer sy intreerede.
Prof John Babafemi baan die weg vir volhoubare beton
- Prof John Babafemi van die Departement Siviele Ingenieurswese het Dinsdag 14 Oktober 2025 sy intreerede gelewer.
- Sy navorsing fokus op die ontwikkeling en toetsing van volhoubare beton.
- Hy bevorder materiaaldoeltreffendheid en omgewingsvolhoubaarheid in die sement- en betonsektor.
Prof John Babafemi van die Departement Siviele Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het Dinsdag 14 Oktober 2025 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Volhoubare beton: ʼn verkenning van die breedte, lengte, diepte en hoogte daarvan”.
Babafemi het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe hy materiaaldoeltreffendheid en omgewingsvolhoubaarheid in die konstruksiebedryf, veral in die sement- en betonsektor, help bevorder.
Vertel ons meer oor jou navorsing en waar jou belangstelling in hierdie spesifieke veld vandaan kom.
Ek is passievol oor die ontwikkeling en toetsing van volhoubare beton wat laekoolstof-bindmiddels (materiale wat gebruik word om die bestanddele van beton saam te bind) en alternatiewe of nie-konvensionele aggregate (materiale wat in plaas van die gewone sand en klip in beton gebruik word) insluit.
Die jaarlikse wêreldwye betonverbruik oorskry 40 miljard ton en die verkleining van die koolstofvoetspoor daarvan is dus van kardinale belang. My navorsing het ten doel om sirkulêre ekonomiepraktyke (maniere om afval te verminder deur hergebruik, herwinning en die ontwerp van produkte om langer te hou) in betonproduksie, materiaaldoeltreffendheid en omgewingsvolhoubaarheid te bevorder om die konstruksiebedryf te help om die globale teiken van netto nul-uitlatings teen 2050 te bereik.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Die konstruksiebedryf, veral die sement- en betonsektor, is verantwoordelik vir ongeveer 8% van mensgemaakte CO2-uitlatings wêreldwyd, met die gepaardgaande impak van aardverwarming. My navorsing is relevant omdat dit die dringende behoefte vir die vermindering van uitlatings aanpak deur die vervanging van konvensionele materiale met meer omgewingsvriendelike materiale en afvalbenutting (om afval in iets nuttigs te omskep, soos om dit as nuwe produkte te herwin, te hergebruik of in energie om te skakel). Dus word die beginsels van ʼn sirkulêre ekonomie bevorder, hulpbrondoeltreffendheid verbeter, tot die bereiking van die globale netto nul-teikens bygedra en volhoubare infrastruktuurontwikkeling vir toekomstige geslagte verseker.
Kan jy voorbeelde gee van hoe jou navorsing in werklike kontekste toegepas word?
Laekoolstof-bindmiddels en alternatiewe aggregate het werklike toepassings in verskeie betonprodukte. Ek werk saam met die bedryf, waar alternatiewe vir konvensionele laekoolstof-bindmiddels reeds gebruik word, byvoorbeeld metaalskuim (ʼn oorskietmateriaal van staalproduksie), stofas (ʼn fyn poeier wat oorbly wanneer steenkool in kragsentrales verbrand word), silikadamp (ʼn uiters fyn poeier wat tydens die produksie van silikon of staalmetale geskep word), asook gekalsineerde klei (klei wat tot ʼn hoë temperatuur verhit is sodat dit in plaas van sommige sementsoorte in beton gebruik kan word), as ʼn gedeeltelike plaasvervanger vir Portlandsement – die mees algemene tipe sement wat as ʼn sleutelbestanddeel in beton gebruik word.
Daarbenewens word eko-aggregaat wat van herwinde plastiekafval gemaak word onder meer in plaveistene, hol betonblokke, randstene en betonversperrings gebruik.
Wat beteken dit as ons van volhoubare beton praat?
Volhoubare beton word ontwerp en vervaardig om ingebedde koolstof te verminder, natuurlike hulpbronne te bewaar, werksverrigting te bevorder en energie- en waterdoeltreffendheid dwarsdeur die lewensiklus daarvan te verbeter. Dit bevorder ook sirkelvormigheid en voldoen aan breër sosiale en ekonomiese volhoubaarheidsdoelwitte.
Watter stappe kan die konstruksiebedryf doen om volhoubare beton ʼn werklikheid te maak?
Hoewel die konstruksiebedryf reeds konvensionele laekoolstof-bindmiddels gebruik, moet die aandag nou verskuif na kalksteen-gekalsineerde kleisement en ander nie-konvensionele bindmiddels. Daarbenewens moet alternatiewe aggregate en energiebronne, asook doeltreffende ontwerp, konstruksie en materiaalgebruik, meer aktief nagestreef word.
Watter ontwikkelings in jou veld sien jy in jou kristalbal?
Die gebruik van alternatiewe soorte beton vir konstruksie, soos geo-polimeerbeton (nie-Portlandsement) en driedimensionele beton.
Die hoëronderwysomgewing kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Passie en ʼn liefde vir wat ek doen – om te onderrig, navorsing te doen en administratief te dien.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Hoewel ek deur ʼn streng militêre man grootgemaak is, is ek sagmoedig en deernisvol.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek rus en luister na die nuus en aanlyn preke.