A Policy Playbook leverages AI to fast-track the fight against GBV in South Africa
Policy Beleidshandleiding gebruik KI om stryd teen GBG te versnel
- Reaksie op 'n nasionale ramp: Beleidshandleiding gebruik KI om stryd teen GBG in Suid-Afrika te versnel.
- Die Suid-Afrikaanse FemAI-laboratorium 'n samewerking is tussen die US se Beleidslaboratorium, Women Political Leaders (WPL) en GIZ.
- Die Suid-Afrikaanse FemAI-laboratorium het politieke leiers, vroue-entrepreneurs, akademici en burgerlike organisasies byeengebring om saam strategieë te skep om GBG deur die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) aan te spreek.
Suid-Afrika staar baie kritieke uitdagings in die gesig, maar min is so wydverspreid en verwoestend soos geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBGV). President Cyril Ramaphosa het in 'n geskiedkundige stap wat die erns van hierdie krisis erken, GBGV tot 'n nasionale ramp verklaar by die afsluiting van die G20-maatskaplike beraad wat op 20 November 2025 in Ekurhuleni gehou is. Hierdie aankondiging is die volgende dag geformaliseer toe die Nasionale Rampbestuursentrum GBGV as 'n nasionale ramp onder die Rampbestuurswet geklassifiseer het.
Die bekendstelling van die FemAI Policy Playbook (oftewel die FemKI-beleidshandleiding) kon nie op 'n meer kritieke tyd gekom het nie, sê dr Itai Makone van die Universiteit Stellenbosch (US) se vir Beleidslaboratorium en hoofskrywer van die Playbook. Sy verduidelik dat die Suid-Afrikaanse FemAI-laboratorium 'n samewerking is tussen die US se Beleidslaboratorium, Women Political Leaders (WPL) en GIZ. "Hierdie inisiatief is deel van 'n wyer reeks in geselekteerde Afrikalande wat ontwerp is om KI-ingeligte beleidmaking te bevorder en vroulike leiers te verhef. KI kan 'n kragtige hulpbron wees om nasionale pogings te bevorder om GBG te beëindig."
Die Suid-Afrikaanse FemAI-laboratorium het in Oktober 2025 politieke leiers, vroue-entrepreneurs, akademici en burgerlike organisasies byeengebring om saam strategieë te skep om GBG deur die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) aan te spreek. Hierdie proses het die gaping tussen beleidsbesprekings en praktiese implementering oorbrug. Die voortspruitende Playbook vang hierdie insigte vas.
Skakeling by die G20-maatskaplike beraad
Die Beleidslaboratorium het vóór die amptelike bekendstelling die Playbook op 18 November aan parlementslede en sektor-belanghebbendes by die G20-maatskaplike beraad by die Birchwood Hotel in Johannesburg voorgelê. Hierdie hoëvlakbetrokkenheid het aan parlementslede 'n ruimte geskep om kritiek op die handleiding te lewer, verfynings voor te stel en oor die implikasies daarvan vir nasionale beleid te besin.
Die handleiding het positiewe terugvoer ontvang en besprekings het op die praktiese hindernisse in implementering gefokus, sê prof Willem Fourie, wat die Beleidslaboratorium lei. "'n Herhalende tema van die beraad was die dringende behoefte om die silo's tussen regeringsdepartemente af te breek om te verseker dat data en hulpbronne doeltreffend gedeel word. Verder het belanghebbendes beklemtoon dat beleid sonder finansiële ondersteuning simbolies bly en die kritieke behoefte aan toegewysde begroting beklemtoon om hierdie tegnologiese intervensies te ondersteun."
Amptelike bekendstelling en sleutelbevindings
Die FemKI-beleidshandleiding is ná die G20-skakeling amptelik op 19 November virtueel aan 'n breë gehoor van regeringsamptenare, akademici, burgerlike organisasies en die privaat sektor bekendgestel. Die bekendstellingsgeleentheid het die sleutelbevindings van die beleidshandleiding en praktiese aanbevelings vir die formulering van inklusiewe KI-beleid in Suid-Afrika aangebied.
Die handleiding beklemtoon verskeie belangrike insigte vir beleidmakers:
- Afbreek van silo’s: 'n Gekoördineerde digitale ekostelsel is noodsaaklik. Die handleiding bied leiding oor die gebruik van KI om datastelsels regoor polisiëring, gesondheidsorg en justisie te integreer sodat 'n oorlewende se saak seepglad oor instellings heen gevolg kan word.
- Data-geloofwaardigheid en insluiting: Dit beklemtoon die noodsaaklikheid om KI-modelle op te lei aan die hand van data wat Suid-Afrika se diversiteit weerspieël – insluitende landelike gemeenskappe en verskeie taalgroepe – ten einde vooroordeel te voorkom en billike uitkomste te verseker.
- Kapasiteitsbou: Doeltreffende implementering vereis dat werkers op die voorpunt, amptenare en belanghebbendes met die vaardighede toegerus word om KI-instrumente verantwoordelik, eties en met selfvertroue te gebruik.
- Begroting vir implementering: Die handleiding koppel KI-innovasie aan departementele begrotingsprosesse en beklemtoon dat digitale oplossings sonder volgehoue, langtermynfinansiering net korttermyn-loodsprojekte met beperkte impak sal bly.
"Terwyl Suid-Afrika die nuut verklaarde nasionale ramp van GBGV in die gesig staar, bied die FemKI-beleidshandleiding 'n tydige, bewysgebaseerde padkaart vir die gebruik van tegnologie, samewerking en gekoördineerde leierskap om betekenisvolle verandering te dryf," sê Makone ter afsluiting.
- Die handleiding kan hier afgelaai word: https://policyinnovationlab.sun.ac.za/wp-content/uploads/2026/01/FemAI_Policy-Playbook.pdf