Twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US), Tsundzuka Mnisi (3de jaar BCom Bestuursrekeningkunde) en David Mwangi (4de jaar BEng Data-ingenieurswese) het ’n manier gevind om voedselonsekerheid aan te pak.
Plaaslik, lekker en bekostigbaar – US-studente ontwikkel innoverende kosaflewerings-app
- Twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n manier gevind om voedselonsekerheid aan te pak, plaaslike voedselverkopers te ondersteun en toegang tot bekostigbare maaltye te verbeter deur ’n enkele aflewerings-app.
- Eerder as om bestaande kosafleweringsopsies te kopieer, poog Stellieskos egter om gesonde eetgewoontes teen ’n billike prys te bevorder.
Twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n manier gevind om voedselonsekerheid aan te pak, plaaslike voedselverkopers te ondersteun en toegang tot bekostigbare maaltye te verbeter – alles terwyl hulle Suid-Afrikaanse erfenis vier – deur ’n enkele aflewerings-app.
Tsundzuka Mnisi (3de jaar BCom Bestuursrekeningkunde) en David Mwangi (4de jaar BEng Data-ingenieurswese) het teen die einde van verlede jaar besef dat baie studente sukkel om bekostigbare, tuisgemaakte maaltye te vind wat hulle werklik geniet.
Daarom het die duo besluit om ’n aanlyn aflewerings-app te ontwikkel wat kampus-voedselverkopers met studente verbind. Eerder as om bestaande kosafleweringsopsies te kopieer, poog Stellieskos egter om gesonde eetgewoontes teen ’n billike prys te bevorder. “Ons probeer wegbeweeg van kitskos. Ons wil toegang bied tot behoorlike kos soos studente tuis sou eet. Almal moet toegang hê tot die kos wat hulle ken,” verduidelik Mnisi.
Hy sê eetplekke in die Neelsie Studentesentrum en daar naby in die dorp bied reeds verskillende soorte kos aan waarvan studente hou. Die kuns is nou om dit vir studente, ongeag hul begrotings, makliker te maak om by hierdie verkopers te bestel. “Baie studente kan dit nie bekostig om van bestaande aflewerings-apps te bestel nie.” Daarom is daar geen ingeboude fooie om vir Stellieskos te registreer nie. Die kunsmatige intelligensie (KI)-funksie kry die beste kos teen die mees bekostigbare prys.
Mnisi, wat van Limpopo af kom, sê hy het eerstehands ervaar hoe baie studente sukkel om kos te bekostig. Hy het gesien hoe ’n vriend met voedselonsekerheid sukkel en steeds sy graad kry. “Hy het verskillende stryde gevoer terwyl ons gestudeer het. Baie van ons in die koshuis was gewaarborg van ’n ete, maar hy het nooit geweet wanneer sy volgende een sou kom nie. Niemand behoort daardeur te gaan nie.”
Meer vir minder
Stellieskos sluit dus ’n “Kos for Less”-inisiatief in wat 30% tot 100% afslag op maaltye of onder-R45-opsies teen die einde van die dag bied. Stellieskos het ook onlangs met die US se sosiale-impak-inisiatiewe geskakel en beplan om binnekort te vergader om te ondersoek hoe die app hul werk kan ondersteun om ’n wyer netwerk van studente in nood te bereik.
Benewens die ondersteuning van studente help Stellieskos ook om klein besighede op te hef. ’n Vennootskap met die plaaslike e-fiets-afleweringsdiens Hendrikse Deliveries skep werksgeleenthede terwyl dit vinnige, omgewingsvriendelike voedselaflewering verseker.
Stellieskos maak ’n regmerkie in verskeie boksies: voedselonsekerheid, volhoubaarheid, werkskepping en innovasie, om maar ’n paar te noem. Alhoewel dit nog in die Beta-toetsfase is, is die app geskeduleer om binnekort beskikbaar te wees.
Mnisi sê hulle wil graag medewerkers kry om hul reikwydte te vergroot. “Ons is op soek na borgskappe om voedselkoopbewyse te borg of ons netwerk van verskaffers uit te brei.” Stellieskos maak staat op sosiale media, en hul opvallende gelukbringer wat geleenthede op kampus bywoon, om studente te bereik.
IG: @stellieskos
Webtuiste: https://www.stellieskos.co.za/
