Die stokvel is gekonseptualiseer deur Phodisho Kgwale, ’n dosent in akademiese en professionele geletterdheid by die US se Taalsentrum, en haar vriend Reginald Kgwedi, ’n dosent in die Departement Logistiek.
Twee US-dosente kombineer akademiese aanspreeklikheid en finansiële vryheid in unieke stokvel
- ’n Stokvel wat onderwys finansier, uitstelgedrag beveg en in gemeenskapsopheffing belê, het aan twee dosente van die Universiteit Stellenbosch (US) die hoogste eerbewyse by die 2025 Absa Stokvel-toekennings besorg.
- Dit is gekonseptualiseer deur Phodisho Kgwale, ’n dosent in akademiese en professionele geletterdheid by die US se Taalsentrum, en haar vriend Reginald Kgwedi, ’n dosent in die Departement Logistiek.
- Die Absa Stokvel-toekennings vier en erken stokvelle regoor Suid-Afrika, insluitende dié wat sterk finansiële dissipline, gemeenskapsimpak, innovasie, of volhoubare groepspaargewoontes demonstreer.
’n Stokvel wat onderwys finansier, uitstelgedrag beveg en in gemeenskapsopheffing belê, het aan twee dosente van die Universiteit Stellenbosch (US) die hoogste eerbewyse by die 2025 Absa Stokvel-toekennings besorg.
Die bekroonde model, gekonseptualiseer deur Phodisho Kgwale, ’n dosent in akademiese en professionele geletterdheid by die US se Taalsentrum, en haar vriend Reginald Kgwedi, ’n dosent in die Departement Logistiek, bewys dat kollektiewe spaar meer kan doen as om geld te laat groei. Dit kan navorsing versnel, aanspreeklikheid versterk en blywende maatskaplike impak skep.
Die Absa Stokvel-toekennings vier en erken stokvelle regoor Suid-Afrika, insluitende dié wat sterk finansiële dissipline, gemeenskapsimpak, innovasie, of volhoubare groepspaargewoontes demonstreer. Die toekennings beoog om die breër maatskaplike waarde van stokvelle as instellings van kollektiewe bemagtiging bo en behalwe blote spaarmeganismes uit te lig.
Van isolasie na samewerking
Die tweetal het gedurende hulle studie besef dat om in isolasie met soortgelyke doelwitte te werk, nie tot een van hulle se voordeel gestrek het nie. “Soos baie nagraadse navorsers, het ons gevind ons sukkel met uitstellery en ander persoonlike eise wat dikwels vordering vertraag,” sê Kgwale. “Ons het dus besluit om ’n samewerkende struktuur te vorm wat kollektiewe finansiële bydraes met portuuraanspreeklikheid gekombineer het en daarop gemik was om ’n omgewing te skep wat verbintenis, motivering en volgehoue fokus op ons navorsingsdoelwitte sou verbeter.”
Hoewel lidmaatskap tot geregistreerde PhD-kandidate beperk was, sal dit hierdie jaar uitgebrei word om meestersgraadkandidate in te sluit. Lede maak maandelikse finansiële bydraes tot ’n beleggingsklubrekening wat formeel bestuur word, met geld wat vir navorsingsverwante uitgawes geoormerk word. “Dit sluit registrasiegeld vir konferensies, reis en akkommodasie vir data-insameling, jaarlikse universiteitregistrasiegeld en ander kostes in wat direk aan akademiese navorsingsaktiwiteite gekoppel is,” verduidelik Kgwale.
Akademiese aanspreeklikheid
Afgesien van’n finansiële oplossing bied die stokvel ook gestruktureerde akademiese ondersteuning. Lede vergader tweeweekliks vir “aanspreeklikheidssessies” waar hulle navorsingsvordering deel en voordeel trek uit “streng maar konstruktiewe betrokkenheid”. Hulle word ook aangemoedig om hulle beplande take en doelwitte uiteen te sit om by die volgende vergadering aan te bied.
“Ons het die stokvel doelbewus as ʼn werktuig vir gemeenskapsbetrokkenheid en maatskaplike verantwoordelikheid geposisioneer. Ons het met Kayamandi Empowerment, ’n plaaslike nieregeringsorganisasie (NRO), ’n vennootskap gesluit en verskaf ondersteuning deur basiese maar kritieke gereedskap wat hulle in staat stel om hulle organisasie doeltreffender te bestuur.”
Gemeenskapsontwikkeling
Benewens materiële ondersteuning, deel die stokvel waardevolle strategiese insigte en hulpbronne, en help dit met toelae-aansoekprosesse en loopbaanleiding aan leerders wat aan die NRO se onderrig- en mentorskapprogramme deelneem.
Die stokvel beoog om ’n langduriger impak te maak. Wanneer die duo hulle doktorale studie voltooi, beplan hulle om hul finansiële bydraes voort te sit sodat hierdie geld gebruik kan word om ’n beurs te vestig.
“Hierdie beursfonds sal op akademies verdienstelike maar finansieel benadeelde studente gemik wees. Sodoende sal dit verseker dat die stokvel se impak volhoubaar bly en aan volgende generasies oorgedra word,” sê Kgwale. “Planne sluit ’n vennootskap met die Kayamandi Empowerment-sentrum in om sy ontwikkelingsinisiatiewe, insluitende opleidings- en mentorskapprogramme, asook hulle sopkombuis, te ondersteun" voeg Kgwedi by.
Stokvelle as veilige ruimtes
Hulle raad aan aspirant-stokvellede is om dit nie as bloot finansiële reëlings te beskou nie, maar as holistiese ondersteuningstelsels. Stokvelle moet duidelike reëls volg, terwyl deursigtigheid en gedeelde waardes van kardinale belang is. Deur ’n veilige ruimte vir samewerking en kollektiewe verantwoordelikheid te skep, kan hierdie stokvelle help om wat dikwels ’n isolerende akademiese reis is, in ’n gedeelde en bemagtigende ervaring te omskep, sê Kgwale.
“Ons moedig stokvelle aan om verby tydelike, korttermyndoelwitte te beweeg en doelbewus volhoubare langtermyndoelwitte met lewenslange impak na te streef, veral beleggings in onderwys, wat die krag het om nie net individuele lewens nie, maar gemeenskappe te transformeer.”