ʼn Geploegde land.
Pan-Afrika-parlement keur vasteland se eerste modelwet oor volhoubare grondbestuur goed
- Belangrike stap vorentoe vir volhoubare landboubestuur in Afrika.
- Kan lande help om hulle grond te beskerm en veerkragtigheid teen klimaatsverandering te versterk.
- Omvat alle dimensies van grondbestuur.
Afrika het 'n geskiedkundige stap vorentoe vir volhoubare ontwikkeling, voedselsekerheid en omgewingsbeskerming geneem toe die Pan-Afrika-parlement (PAP) op 6 November 2025 die vasteland se eerste modelwet oor volhoubare grondbestuur by die sesde gewone sitting van sy sesde wetgewer met 'n oorweldigende meerderheid aanvaar het.
Dit staan amptelik as die Modelwet oor Volhoubare Grondbestuur in Afrika bekend en bied aan lande 'n wetlike raamwerkmodel om hulle grond te beskerm en veerkragtigheid teen klimaatsverandering te versterk. Dit is 'n belangrike mylpaal as daar in ag geneem word dat Afrika oor ongeveer 65% van die wêreld se oorblywende onbewerkte bewerkbare grond beskik.
'n Span kundiges van Afrika – onder wie prof Oliver Ruppel van die Ontwikkelings- en Oppergesag van die Reg-program (Development and Rule of Law Programme – DROP), wat by die Fakulteit Regsgeleerdheid én die Skool vir Klimaatstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) geaffilieer is – het die Modelreg met die ondersteuning van die PAP-komitee oor landelike ekonomie, landbou, omgewing en natuurlike hulpbronne en verskeie internasionale vennote ontwikkel. Dit sluit die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie, die VN-omgewingsprogram, die Afrika-ministeriële konferensie oor die omgewing, die Afrika-grondvennootskap, die Navorsingsentrum vir Klimaatreg aan die Universiteit van Graz in Oostenryk, die Duitse Omgewingsagentskap en die Duitse Ministerie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling in.
Die Modelwet is op elf landstudies van regoor die vasteland gegrond wat bestaande grondwetgewing en bestuurstelsels ondersoek het. Dit lei die lidlande van die Afrika-unie in die ontwikkeling of versterking van nasionale wetgewing en beleide om die volhoubare gebruik, beskerming en herstel van grond regoor die vasteland te verseker.
Dit omvat alle dimensies van grondbestuur, insluitende volhoubare landbou en voedselsekerheid, klimaatversagting en -aanpassing, regulering en beplanning van grondgebruik, databestuur, digitalisering en innovasie, asook openbare deelname, inheemse kennis en geslagsgelykheid. Daarbenewens spreek dit ook rehabilitasie-, afdwingings- en geskilbeslegtingsmeganismes aan.
Ruppel het in reaksie op die aanvaarding van die Modelwet gesê dit is 'n belangrike stap vorentoe vir volhoubare landboubestuur op die vasteland.
Hy beskryf dit as "'n moderne, vooruitskouende raamwerk wat help om Afrika se grond te dekoloniseer" deur lande te bemagtig om hulle natuurlike hulpbronne aan die hand van Afrika-geleide, wetenskapgebaseerde benaderings te bestuur.
"Dit is 'n wet wat deur Afrikane vir Afrika geskryf is en is in die wetenskap gewortel en deur geregtigheid gelei. Dit sal veerkragtigheid teen klimaatsverandering versterk, lewensbestaan verbeter en die verantwoordelike gebruik van een van ons belangrikste natuurlike bates bevorder.
"Afrika neem met hierdie wet 'n beslissende stap om te verseker dat die vasteland se grond, sy mees fundamentele natuurlike hulpbron, vir geslagte wat kom lewendig, produktief en beskermd bly."
Ruppel wys daarop dat dit 'n omvattende raamwerk vir Afrika-lande bied wat hulle by hulle plaaslike kontekste kan aanpas en kan toepas, terwyl dit ook as 'n platform vir samewerking, navorsing en innovasie regoor die vasteland dien.
As sodanig kan die Modelwet ook as 'n riglyn vir ander streke dien en beginsels, definisies, institusionele ontwerpe en implementeringspaaie bied wat by uiteenlopende regstelsels aangepas kan word. Sinergieë is veral belowend met Europa se ontwikkelende grondraamwerk (insluitende die EU-grondmoniterings- en veerkragtigheidsriglyn), waar kennisuitruiling oor monitering, databestuur en wetenskap-beleidskoppelvlakke vordering op albei vastelande deur gedeelde navorsing, versoenbare datastelle en gekoördineerde kapasiteitsbou kan bespoedig.
Die Modelwet is onder meer deur die Grondinisiatief vir Afrika (Soil Initiative for Africa – 2020), die Afrika-kunsmis- en grondgesondheidsaksieplan (Africa Fertiliser and Soil Health Action Plan – 2023–2033), en die Nairobi-verklaring oor Afrika-kunsmis en grondgesondheid (Nairobi Declaration on Africa Fertiliser and Soil Health – 2024) – belangrike beleidsraamwerke vir grondgesondheid, voedselstelselveerkragtigheid en omgewingsvolhoubaarheid – geïnspireer.