Skip to main content
A photo of Olivia Adams
Image by: Stefan Els

Olivia Adams

Impak Institusionele nuus

Olivia Adams help toekomstige studente om hul plek by die US te vind

Korporatiewe Kommunikasie
18 Mei 2026
  • #DagInDieLewe
  • As 'n toonaangewende hoëronderwys- en navorsingsinstelling in Suid-Afrika is ons trots op ons diverse en talentvolle span van meer as 4 000 voltydse personeel – akademici, navorsers en professionele administratiewe steundienste-personeel – wat saamwerk om 'n omgewing te skep waar navorsing, kreatiwiteit en transformasie floreer. Met ons jaarlikse #DagInDieLewe-veldtog in Mei deel ons die stories van personeel aan die Universiteit Stellenbosh (SU) wat 'n deurslaggewende rol speel in die impak van die instelling.

Olivia Adams speel ’n sleutelrol in die beplanning en aanbieding van strategiese werwingsgeleenthede binne die Afdeling Studentewerwing by die US. Van grootskaalse inisiatiewe soos die Voorgraadse Opedag tot verpersoonlikte kampuservarings is sy passievol daaroor om betekenisvolle konneksies tussen voornemende studente en die Universiteit te skep.

Wat behels jou rol by die US?
In my rol binne die Afdeling Studentewerwing fokus ek op die beplanning en aanbieding van institusionele gebeure en strategiese skakelgeleenthede wat voornemende studente, hul gesinne, sowel as skoolhoofde en opvoeders met die US verbind. Dit sluit die koördinering van sleutelinisiatiewe in, soos die US se Voorgraadse Opedag, kampusbesoeke, webinare en toekenningsgeleenthede. Die kern van my werk is om ervarings te skep wat verwelkomend, leersaam en waarlik onvergeetlik is, sodat mense ’n opregte gevoel kry van wat dit beteken om deel van die Universiteit te wees.

Hoe lyk ʼn tipiese dag by die werk?
My dag begin gewoonlik met ’n koppie koffie, gevolg deur ’n uiteenlopende en dinamiese skedule – geen twee dae is ooit dieselfde nie. My werk behels ’n balans tussen beplanning, koördinering, normstelling (benchmarking) en skakeling met belanghebbendes. Dit sluit in gesprekvoering met fakulteite, toesig oor die logistiek van geleenthede, kontak met skole en vennote, en die hantering van navrae wat met die Werwingskantoor verband hou. Tydens groot geleenthede word my rol meer prakties en operasioneel om te verseker dat alles vlot verloop en dat elke detail volgens plan saamkom. Dis ’n vinnige pas, maar ongelooflik bevredigend om te sien hoe alles in plek val.

Hoe het jou opleiding en vorige ervarings jou vir hierdie pos voorberei?
My reis by die US het 15 jaar gelede by Studentewerwing begin, waar my passie vir werk met voornemende studente aanvanklik ontwikkel het. Ek was altyd nuuskierig om meer te leer oor skoolbetrokkenheid, wat my gelei het om oueraande by te woon en meer betrokke te raak by werwingsaktiwiteite.
Mettertyd het ek verskillende rolle aanvaar wat my ervaring verbreed het. As Persoonlike Assistent van die Senior Direkteur van Studentewerwing het ek waardevolle insig in strategiese beplanning en belanghebberbetrokkenheid gekry. Ek het later die ISFAP-projek (Ikusasa Student Financial Aid) ondersteun, waar ek betrokke was by administratiewe koördinering en geleentheidsbeplanning vir beursontvangers.
Ek het daarna by die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking aangesluit as deel van die Institusionele Geleenthede-span. Gedurende hierdie tyd moes ons vinnig aanpas by ’n virtuele omgewing weens Covid-19, wat ons uitgedaag het om kreatief te dink en aanlyn geleenthede van hoë gehalte aan te bied. ’n Hoogtepunt van my tyd by hierdie span was die beplanning en uitvoering van die Universiteit se eerste buitelug-gradeplegtigheid – ’n onvergeetlike mylpaal.
Onlangs is die sirkel voltooi en het ek na Studentewerwing teruggekeer as ’n Koördineerder: Werwingsgeleenthede. My akademiese agtergrond, tesame met hierdie uiteenlopende professionele ervaring, het my toegerus met sterk organisatoriese, kommunikasie- en belanghebber-bestuursvaardighede. Dit het my ook voorberei om grootskaalse projekte en geleenthede met selfvertroue, aanpasbaarheid en aandag aan detail te bestuur.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en om by die US te werk?
Ek vind dit veral bevredigend om leerders van diverse agtergronde na die kampus te bring, waar hulle ons akademiese omgewing kan ervaar, fasiliteite soos laboratoriums kan verken en deur kampustoere by die studentelewe betrokke kan raak. Om deel te wees van die oomblik wanneer ’n leerder hul toekoms by die US begin visualiseer, is betekenisvol sowel as motiverend.
Nog ’n gunstelingaspek van my werk is my kollegas. Hulle is altyd daar om my te ondersteun, en wanneer daar kampusgeleenthede is, spring almal in om te help. Ek waardeer ook die sterk gees van samewerking tussen fakulteite en ondersteuningsdienste, en hul gedeelde toewyding daaraan om voornemende studente in hul besluitnemingsproses te lei. Dit is inspirerend om deel te wees van ’n span wat so toegewyd is daaraan om ’n verskil te maak.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag.
Buite my professionele rol geniet ek dit om tyd saam met my gesin deur te bring en betekenisvolle herinneringe saam te skep. Onlangs het ons begin om 4x4-ritte te onderneem, en ek het dit baie geniet om die berge en kuslyn op hierdie manier te verken. Ek het nooit gedink ek sou so dapper wees nie – om teen die berge op of langs die strand te ry! Ek sien ook uit daarna om daardie sin vir avontuur ʼn stappie verder te neem met ʼn paar motorfietstoere in die nabye toekoms.

Merkers

Personeel

Verwante stories