Skip to main content
A photo of Thembalethu Seyisi
Image by: supplied
Menings en artikels

Nuwe visie van demokrasie verrys van voetsoolvlak deur 'ons die mense'

Corporate Communications
29 April 2026
  • Suid-Afrika vier elke jaar op 27 April Vryheidsdag ter herdenking van die land se eerste demokratiese verkiesings in 1994 – 'n bepalende oomblik wat steeds sy grondwetlike orde vorm. Denkleiers verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) wie se werk met vrae oor bestuur, regte en aanspreeklikheid omgaan, besin teen hierdie agtergrond oor die stand van demokrasie.

Thembalethu Seyisi is die Hoof van Regshervorming, Voorspraak en Institusionele Vennootskappe by die US. Hy is besig met 'n meestersgraad wat die rol van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in die bevordering van maatskaplike geregtigheid ondersoek. Seyisi is onlangs as een van BPM Global 100 se voorste swart professionele persone vir 2025 aangewys.

Wat sien jy as die grootste bedreigings vir demokrasie vandag? 

Die diepliggendste en mees ondergewaardeerde bedreiging vir demokrasie vandag is die Globale Suide se strukturele afhanklikheid van die Globale Noorde vir finansiële oorlewing. Hierdie afhanklikheid word deur die leningsargitektuur van instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank geskep en in stand gehou. Hulle skuldvoorwaardes heg vereistes soos besparings, privatisering en deregulering aan elke lening, wat sistematies die beleidsruimte van lande wat geld leen, beperk. Die gevolg is dat regerings in die Globale Suide, hoe demokraties hulle ook al verkies is, effektief nie in staat is om in die belang van hulle eie mense te regeer nie. Soewereiniteit word sodoende seremonieel.

Dit skep vir Suid-Afrika veral 'n besonder kommerwekkende spanning. Ons is nie bloot 'n demokrasie nie, ons is 'n grondwetlike demokrasie, gebind deur een van die mees progressiewe grondwette in die wêreld. Ons grondwet beskerm nie net politieke regte nie. Dit lê sosio-ekonomiese regte vas – toegang tot gesondheidsorg, behuising, kos, water, onderwys en maatskaplike sekerheid. Dit is beregbare regte, wat beteken burgers kan die staat voor die hof daag om dit af te dwing. Dit is 'n merkwaardige demokratiese grondslag. Tog dwing die IMF se strukturele aanpassingslogika, en die wyer finansiële argitektuur wat Suid-Afrika aan skuldmarkte en beleggersentiment vasgebind hou, gereeld fiskale beleidskeuses af wat die verwesenliking van daardie grondwetlike regte direk ondermyn. Een voorbeeld is die noodlenigingstoelae (SRD) wat die Tesourie nie in 'n basiese inkomste-toelae omskep het nie. Jy kan nie 'n florerende grondwetlike demokrasie en terselfdertyd 'n struktureel verarmde burgerskap hê nie. Die twee is in permanente konflik.

Die Globale Suide, insluitende Suid-Afrika, is in 'n siklus van sistematies vervaardigde armoede vasgevang – nie deur die mislukking van demokrasie self nie, maar deur 'n internasionale ekonomiese orde wat demokratiese regerings straf omdat hulle hul mense bo hulle skuldeisers stel. Totdat daardie argitektuur uitgedaag en getransformeer word, sal demokrasie in die Globale Suide aspirerend eerder as geleef bly.

Wat gebeur wanneer vertroue in demokrasie afneem, en hoe kan dit in gepolariseerde en ongelyke samelewings herbou word? 

Vertroue neem nie in 'n vakuum of na aanleiding van een enkele geval af nie. Dit neem mettertyd af namate instellings nie hulle mandaat en beloftes nakom nie. In die Suid-Afrikaanse konteks is daardie belofte grondwetlik: die belofte van maatskaplike geregtigheid – wat regverdigheid vir almal beteken deur die gelyke genieting van regte deur alle mense.

Die kwynende vertroue wat ons in die regering en politieke partye sien, is geregverdig. Dit is die reaksie van 'n burgerskap wat baie belowe is en aan wie baie min gelewer is. Wanneer miljoene Suid-Afrikaners daagliks sonder skoon water, voldoende behuising, gehalte-onderwys of veiligheid wakker word, ervaar hulle nie 'n politieke ongerief nie. Hulle ervaar demokratiese verraad. 

Om vertroue te herbou gaan dus nie net 'n kwessie van 'beter' leierskap in gepolariseerde lande wees nie. Dit vereis kollektiewe leierskap waar verkose leiers ‘mag met’ met eerder as ‘mag oor’ uitoefen. 

In 'n diep ongelyke samelewing soos ons s'n beteken dit demokratiese instellings en hulle leierskap sal die vertroue van die mense herwin sodra die mense se lewens verbeter en die gaping tussen diegene wat al die regte geniet en diegene wat effektief daarvan uitgesluit word, verklein. Die (her)skepping van 'n regverdige samelewing is dus van kardinale belang.

Jongmense word dikwels as onbetrokke by formele politiek, maar tog aktief in sosiale bewegings beskryf. Hoe interpreteer jy dit? 

Dit is neerhalend én analities verkeerd om die jeug as "onbetrokke" te beskryf. Jongmense is nie onbetrokke by demokrasie nie — hulle het hulle van die spesifieke institusionele vorms onttrek wat hulle deurlopend in die steek gelaat het. Wanneer die formele politieke stelsel ongelykheid reproduseer, openbare hulpbronne kaap en homself van aanspreeklikheid isoleer, soek jongmense meer responsiewe voertuie vir verandering.

Sosiale bewegings is nie 'n afwyking van demokrasie nie – dit is demokrasie in sy direkste uitdrukking. Bewegings soos #FeesMustFall, #MeToo, #JusticeFor ... (afhangend van wie op daardie tydstip verontreg of doodgemaak is) en diensleweringsbetogings is nie simptome van demokratiese mislukking nie. Hulle is meganismes van demokratiese druk. Hulle werp lig op die dringendste kwessies van ons tyd – ongelykheid, uitsluiting en die gaping tussen grondwetlike beloftes en die geleefde werklikheid – op maniere wat formele politieke prosesse te stadig, te gekaap of te bang is om te doen.

Wat dit vir ons oor die toekoms van demokratiese deelname sê, is dat deelname self herbedink moet word. Demokrasie kan nie verskraal word tot 'n stemming wat elke vyf jaar uitgebring word nie. Dit moet 'n lewende, deurlopende praktyk word wat in gemeenskappe, werksplekke, skole en openbare ruimtes ingebed is. Jongmense bou aan daardie praktyk. Die vraag is of formele instellings sal aanpas om om hulle tegemoet te kom of gaan hulle aanhou wonder waarom die jeug "vertroue verloor" het?

Wat gee jou hoop vir die toekoms van demokrasie? 

My hoop is gevestig op die groeiende wêreldwye beweging in die rigting van 'n welstandsekonomie – 'n alternatiewe ekonomiese raamwerk wat menswaardigheid, ekologiese volhoubaarheid en ware lewensgehalte, eerder as BBP-groei of die diens van skuld, sentraal in beleid plaas.

In Suid-Afrika, en veral hier by die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid, skiet hierdie werk op betekenisvolle maniere wortel. Nadat ons die Impakassesseringsmatriks vir Maatskaplike Geregtigheid (SIAM) ontwikkel het, onderwerp ons beleide, insluitende fiskale beleide, aan 'n instrument wat die toekoms simuleer. Die doel hiervan is om dit uit te lig of om beleidmakers in te lig oor of die beleid onbedoelde gevolge sal hê en dus ongelykheid, armoede, werkloosheid en honger sal vererger. Dit is nie 'n abstrakte akademiese oefening nie. Dit is werk wat ons grondwetlike verbintenisse en ons geskiedenis van uitsluiting ernstig opneem.

Die ‘Globus People's Meet’-vennootskap met Denemarke is net so inspirerend en daar word gehoop om 'n ‘People's Meet’ in Suid-Afrika aan te bied – 'n groeiende platform vir stemme om strategieë te deel en solidariteit oor grense heen te bou.

Demokrasie is nie besig om uit te sterf nie. Dit word van die voetsoolvlak af deur "ons, die mense" herbedink, soos dit nog altyd bedoel was. 

* Hierdie artikel is deel van 'n reeks wat akademiese perspektiewe op demokrasie uitlig. Die menings wat uitgespreek word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig dié van Universiteit Stellenbosch nie. Die Universiteit is verbind tot akademiese vryheid en die uitruil van idees in die ope.

Verwante stories