Skip to main content
Vineyards in Stellenbosch with mountains in the background.
Image by: Adobe Stock
Persverklaring

Nuwe studie toon wysiging van wingerdstokke se DNS kan weerstand teen siektes, droogte verhoog

Alec Basson
20 April 2026
  • Navorsers het ʼn geen wat wingerdstokplante se reaksie op siektes beïnvloed “afgeskakel”.
  • Plante minder kwesbaar vir donsskimmel; waterhouvermoë verbeter.
  • Eerste keer dat DNS van stokkerige gewas in Afrika suksesvol aangepas is.

ʼn Span navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Landbounavorsingsraad het die eerste keer die DNS van ʼn stokkerige gewas in Afrika suksesvol aangepas deur presiese wysigings aan die genetiese materiaal aan te bring. Dit is ʼn belangrike mylpaal vir plantbiotegnologie op die vasteland.

Die navorsers het deur CRISPR-tegnologie – ʼn instrument wat wetenskaplikes in staat stel om DNS op baie spesifieke punte te knip en aan te pas – te gebruik, ʼn enkele geen (VvDMR6.1) in wingerdstokplante “afgeskakel”. Dié geen hou verband met die wyse waarop hierdie plante op siektes reageer. Volgens die navorsers het hierdie wysiging die plante minder kwesbaar gemaak vir donsskimmel, ʼn ernstige siekte wat wingerde wêreldwyd aantas.

Die bevindings van hulle studie het onlangs in Plant Stress verskyn.

Volgens die navorsers toon hulle studie hoe ʼn enkele geteikende genetiese wysiging verskeie stresresponse in plante kan beïnvloed.

“Ons kon deur die wysiging van ʼn geen wat wingerdstokke meer kwesbaar vir siektes maak, hierdie kwesbaarheid verminder en tegelyk die plante se reaksie op watertekorte beïnvloed. Ons navorsing toon hoe moderne geen- of genoomwysigingstegnologie gebruik kan word om wingerdstokke meer bestand teen siektes en droogtes te maak,” sê die hoofnavorser, dr Manuela Campa van die Departement Genetika aan die US.

“Dit verteenwoordig ʼn stap vorentoe in die integrasie van moderne genoomwysigingsbenaderings in verbeteringsprogramme vir Afrika-gewasse, veral vir hoëwaarde-tuinbougewasse soos wingerde.”

Campa wys daarop dat wetenskaplikes die afgelope paar jaar al hoe meer genoomwysigingstegnieke soos CRISPR-tegnologie gebruik om sekere gene te wysig en plante meer siektebestand te maak.

Sy sê ʼn onverwagte bevinding van hulle studie was die reaksie van die geneties gewysigde plante op watertekorte. “Die plante het beter op droë toestande gereageer. Hulle waterhouvermoë het verbeter, wat daarop dui dat hulle dalk beter geskik is vir die ál droër toestande wat weens klimaatsverandering verwag word.

“Dit is ʼn opwindende stap vorentoe, want dit dui daarop dat ons presiese wysigings aan plante kan aanbring wat meer as een belangrike eienskap gelyktydig verbeter.”

Omdat wingerdstokke weens siektes en veranderende omgewingstoestande al hoe meer onder druk verkeer en dié druk na verwagting weens klimaatsverandering sal verskerp, kon hulle studie nie op ʼn beter tyd kon gekom het nie, meen Campa.

“Wingerdbou (die plant, bestuur en oes van druiwe) word deur beduidende uitdagings in die gesig gestaar omdat siekte-uitbrekings ná tydperke van omgewingstres toeneem.

“Omdat wingerdstokke wêreldwyd ʼn hoëwaarde-gewas is en veral vir Suid-Afrika se landbousektor belangrik is, moet ons variëteite ontwikkel wat verskeie stresfaktore gelyktydig die hoof kan bied. Dit kan ons help om druiwe volhoubaar te produseer soos wat toestande meer uitdagend raak.

Volgens Campa dui hulle bevindings op die potensiaal van genoomwysiging as ʼn kragtige instrument om gewasse in Afrika te verbeter.

“Hoewel genoomwysiging wyd op modelplante en verskeie gewasse wêreldwyd toegepas is, het die gebruik daarvan in stokkerige meerjarige spesies beperk gebly weens hule komplekse regenerasiestelsels en lang kweeksiklus.

“Hierdie werk toon dat gevorderde genoomwysigingstegnologieë suksesvol op meerjarige gewasse in Afrika toegepas kan word. Dit open die deur vir nuwe navorsing wat ten doel het om meer volhoubare en klimaatsveerkragtige gewasse te ontwikkel.”

Campa benadruk dat verdere studies nodig sal wees om die geneties gewysigde plante in werklike toestande te evalueer.

  • Bron: Holm CC, Havenga M, Burger JT, Lashbrooke JG, Campa, M (2026). CRISPR/Cas9-genome editing identifies the dual role of VvDMR6.1 in downy mildew resistance and response to water limitation in grapevine. Plant Stress. doi:10.1016/j.stress.2026.101306

Verwante stories