Die doeltreffendheid van herhaling voor matriek is steeds onduidelik.
Nuwe studie bevraagteken waarde van graadherhaling voor matriek
- Positiewe verband tussen herhalingsyfers in graad 11 en matriekslaagsyfer in Wes-Kaap (2018–2021).
- Verband word egter kleiner én minder betekenisvol toe herhalingsyfers einde 2020 daal.
- Hoë herhalingsyfers moontlik nie geregverdig nie.
Noudat die stof oor die matriekuitslae-vieringe gaan lê het en die skooljaar in volle swang is, moet ons met groter dringendheid ondersoek of hoë herhalingsyfers in graad 10 en graad 11 geregverdig is en of ons te veel klem op matriekuitslae lê.
Dít is die kernboodskap aan beleidmakers van dr Rebecca Selkirk, wat onlangs haar doktorsgraad in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Sy het graadherhaling en matriekuitslae vir haar PhD ondersoek.
Selkirk wys daarop dat sowat 1,5 miljoen leerders elke jaar van graad 1 tot en met graad 12 voor die Covid 19-pandemie herhaal het (sowat 12% van die ingeskrewe leerlinge), met sowat een derde van alle herhalings wat in die aanloop tot matriek (graad 10 en graad 11) voorgekom het.
Sowat ʼn derde (31%) van graad 10-leerders en byna ʼn kwart (24%) van graad 11-leerders het aan die einde van 2019 hulle grade herhaal.
“Ons bestee baie geld daaraan om leerders in graad 10 en graad 11 te behou, waar die doeltreffendheid van herhaling onduidelik en die gepaardgaande uitvalrisiko die hoogste is. Desondanks het herhaling in hierdie grade min navorsings- of beleidsaandag gekry,” sê Selkirk.
As deel van haar doktorale studie het Selkirk die verband tussen herhalingsyfers in graad 11 en die matriekslaagsyfer in Wes-Kaapse skole vóór en gedurende die Covid 19-pandemie (2018–2021) ondersoek. Sy het ʼn positiewe verband gevind tussen hoë graad 11-herhalingskoerse en beter matriekuitslae, wat volgens haar kan aandui dat “skole (danksy hoër matriekslaagsyfers) by ‘hekwag’-toegang tot matriek kan baat – en/of dat die herhaling van graad 11 leerders help om in te haal en hulle kanse verbeter om matriek te slaag”.
“Toe herhalingsyfers in die Wes-Kaap einde 2020 egter danksy pandemieverwante toegeeflikheid aansienlik gedaal het (van 12% tot 6%), het dié positiewe verband interessant genoeg kleiner én minder betekenisvol geword,” merk sy op.
Selkirk het voorts geraam hoe die Wes-Kaap se matriekuitslae in 2020 en 2021 in die afwesigheid van die pandemie sou gelyk het, met die aanname dat die 2018- en 2019-uitkomste op die baie laer graad 11-herhalingsvlakke van toepassing was.
“Ramings het getoon dat skole se prestasie in 2021 baie beter was as wat in die lig van die laer herhalingsyfers verwag is. Dit was veral die geval in skole met minder hulpbronne (Kwintiel 1 tot 4), waar die veranderinge in herhalingspatrone die duidelikste was en leerders na verwagting meer aan die nadelige impak van die pandemie blootgestel sou wees.”
Volgens Selkirk het dít vrae laat ontstaan oor of laer herhalingsyfers die 2021-matriekuitslae onbedoeld kon opgeblaas het deur die puntstandaardiseringsproses te beïnvloed. “As graadinflasie nie die oorsaak was nie, ontlok dit ook ʼn ander vraag: Moet toegelaat word dat graad 11-herhalingsyfers na vlakke voor die pandemie terugkeer as skole se ‘winste’ danksy die handhawing van hoë herhalingsyfers kunsmatig en slegs van toepassing was in ʼn stelsel waar herhaling wyd voorgekom het?”
Sy sê die nasionale matriekprestasie was voorts op sigwaarde beter as verwag, ondanks selfs groter dalings in herhaling (nasionale graad 11-herhalingsyfers het van 24% tot 11% gedaal). “Ná ʼn aanvanklike daling en stabilisering in 2020 en 2021, het die matriek- en baccalaureus-slaagsyfers teen 2023 en 2024 rekords gebreek. En in absolute syfers was matrieksukses oor die tydperk 2020 tot 2024 verstommend: hierdie vyf jaar het die pre-pandemie-ekwivalent van ses en ʼn half volle jare se matriekslaagsyfers opgelewer, en baccalaureus-slaagsyfers die ekwivalent van meer as agt jaar.”
In die lig van hierdie verrassende uitslae het Selkirk nasionale matriekuitslae ondersoek om te verken of waarneembare eienskappe van leerders – soos ʼn hoër ouderdomsprofiel (wat op herhaling dui), vakkeuse en relatiewe akademiese vermoë – matriekprestasie en die veranderinge daarin tussen 2011, 2019, 2021 en 2023 kan verklaar. Sy het bevind dat ondanks groot verskuiwings in vakkeuses en matriekouderdomsprofiele oor tyd heen, min van die algehele verbetering in uitslae teen 2023 verklaar kon word deur hierdie en ander faktore wat in haar modelle ingesluit is.
In haar interpretasie van hierdie uitslae maan Selkirk dat ofskoon onbedoelde graadinflasie moontlik ʼn rol in hoër as verwagte matriekprestasie kon gespeel het, dit onwaarskynlik is dat dit die enigste oorsaak sou wees – veral om die verbeterings ná 2021 te verduidelik, waar ‘skokke’ van die herhalingskoerse nie so groot was soos dié wat einde 2020 ervaar is nie.
“Dis moontlik dat pandemieverwante ondersteuningsprogramme meer as vergoed het vir enige leerverliese en dat hierdie bykomende ondersteuning meer voordelig as herhaling was vir leerders wat voor die pandemie normaalweg graad 10 en/of graad 11 sou herhaal het.”
Sy verduidelik voorts dat dit ook moontlik is dat laer herhalingsyfers op sigself voordelig was (byvoorbeeld danksy kleiner klasgroottes en die vermyding van ʼn nadelige psigososiale uitwerking soos akademiese onttrekking op moontlike herhalers). “In 2023 was daar die hoogste proporsie matriekkandidate met die regte ouderdom vir hulle graad tot nog toe – ʼn faktor wat gewoonlik positief met prestasie geassosieer word,” verduidelik Selkirk.
Sy wys op onlangse bewyse wat toon dat herhalingsyfers in graad 10 en graad 11 terugkeer na die hoë vlakke wat voor die Covid 19-pandemie waargeneem is, wat daarop dui dat hoë herhalingsyfers sonder beleidsingryping sal voortduur.
“Daar is genoeg bewyse wat daarop dui dat ons hoë graad 10- en graad 11-herhalingsyfers moontlik nie geregverdig is nie en dat alternatiewe vir herhaling ewe of meer voordelig vir sukkelende leerders kan wees. Meer navorsing is dringend op hierdie gebied nodig, want die potensiële kostebesparings kan hulpbronne vir verbeterings elders in die onderwysstelsel beskikbaar stel.”
Selkirk doen ook ʼn beroep vir ʼn kleiner algehele klem op matriekslaagsyfers. “As ons te veel klem op matriekslaagsyfers plaas, loop ons die risiko om skole aan te spoor om besluite te neem soos om hierdie hoë herhalingsyfers te handhaaf, ‘makliker’ vakkeuses aan te moedig en hulpbronne slegs op matriek te fokus. Dit sal ten beste suboptimaal en ten slegste skadelik vir leerders of die onderwysstelsel as geheel wees.”