Sandra Mbatha
#Move4Maties: Beweeg saam en help studente na sukses
- Vele Maties sukkel om basiese dinge soos klasgeld, maaltye en verblyf te bekostig.
- ’n Gedeelde doelwit.
- ‘n Kultuur van gee in die US-gemeenskap.
Sandra Mbatha, koördineerder in die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB), meen draf, fietsry, of selfs ’n gewone staptog omvat meer as blote beweging – dit is ’n manier om studente se lewe te verander. Sy hou die leisels by #Move4Maties, waar elke tree ’n geleentheid vir studente in nood beteken.
#Move4Maties is ’n fondsinsamelings- en betrokkenheidsinisiatief wat alumni, personeel, studente en vriende van die US uitnooi om verdienstelike sake gemik op studente deur sport- en welstandsaktiwiteite te steun. Skenkers dra by vir voedselsekerheid, studenteskuldverligting, beurse en maandstondearmoede – en bied talentvolle studente die hulpbronne om sukses te kan behaal.
Ondersteuners kan heeljaar aan verskeie geleenthede deelneem, van ikoniese byeenkomste soos die Kaapstad-fietstoer, die Comrades-marathon, die Kaapstad-marathon en RideJoburg, tot staptogte, voetslaanroetes, of swem. "Nie almal kan aan groot geleenthede deelneem nie, en daarom kyk ons na virtuele uitdagings en gemeenskapsgebaseerde aktiwiteite wat mense kan betrek waar hulle hul ook al bevind. Ons wil almal ’n manier bied om te kan bydra," sê Sandra.
In 2025 alleen het Team #Move4Maties meer as R300 000 ingesamel vir die veldtog teen voedselonsekerheid en steun aan studente uit die "verlore middel-groep" wat in befondsingsgapings val. In die VK neem Maties jaarliks aan die Londen-na-Brighton-fietsrit deel sodat studente hul studie sonder finansiële hindernisse kan voortsit.
"Vele Maties sukkel om basiese dinge soos klasgeld, maaltye en verblyf te bekostig. Of iemand nou draf, fietsry, stap, of voetslaanpaaie aandurf, hulle doen iets positiefs vir hulself terwyl hulle tot iets veel groters bydra," voeg sy by.
Sandra, wat vroeër vanjaar as leier by die Ontwikkelingsbeampte, Alwin Mabuza, in die OAB oorgeneem het, glo haar toetrede tot die pos het dieper betekenis, aangesien #Move4Maties meer as net ’n veldtog is – dit is ’n gemeenskap.
"Dit verteenwoordig Maties wat saamkom rondom ’n gedeelde doelwit: om studentebehoeftes te steun terwyl beweging, welwees, en verbintenis gevier word. Daardie kombinasie van persoonlike toewyding en kollektiewe impak maak #Move4Maties juis so belangrik. Dis ’n voorreg om voort te bou op die stewige fondasie wat reeds bestaan."
Sandra het ’n persoonlike konneksie met die inisiatief. "Dis belangrik, want dit was ook my storie. Ek was een van die studente wat bevoordeel is deur die optrede van ander wat genoeg omgegee het om ’n verskil te maak. Dit beteken baie om deel te wees van ’n hulpplatform waar studente nou op dieselfde manier gehelp word."
In die toekoms wil sy #Move4Maties laat groei tot ’n ware globale gemeenskap wat aktiewe Maties en ondersteuners deur beweging en ’n onderlinge doel verenig. "Ons geniet reeds ongelooflike steun, maar daar is potensiaal vir uitbreiding oor ons streke heen, meer betrokke alumni-netwerke, en vennootskappe met organisasies wat studente-sukses vooropstel. Ideaal gesien moet #Move4Maties deel wees van elke Matie se lewe – of hulle nou draf, fietsry, stap, voetslaanroetes aandurf, of op ’n afstand ondersteun."
Sy sluit af: "Die ruimhartigheid en entoesiasme van elke skenker en deelnemer maak #Move4Maties moontlik. Elke bydrae, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, help om geleenthede vir studente te skep en die kultuur van gee in die US-gemeenskap te versterk."
- Is jy reg om jou drafskoene aan te trek, op ’n fiets te spring, of aan ’n staptog, voetslaanroete of virtuele uitdaging deel te neem en studente te ondersteun? Tree dan gerus in verbinding met Sandra Mbatha by [email protected].