Bun Booyens, Tom Dreyer en Michélle van Breda
Drie Maties onder wenners van gesogte SA Akademiepryse
- Erkenning strek oor literatuur, joernalistiek en niefiksie.
- Die Hertzogprys is een van die vernaamste prestigepryse in die Afrikaanse letterkunde.
- Sterk verteenwoordiging van alumni onder finaliste en wenners.
Drie alumni van die Universiteit Stellenbosch (US) tel onder die wenners van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Akademiepryse vir 2026.
Die Hertzogprys vir Poësie is toegeken aan die bekroonde skrywer Tom Dreyer vir sy digbundel Nou in infrarooi.
Die Hertzogprys is een van die vernaamste prestigepryse in die Afrikaanse letterkunde en word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, toegeken. Die prys word op aanbeveling van die SA Akademie se Letterkundekommissie toegeken.
Ander Maties op die kortlys vir dié prys was Joan Hambidge, bekende digter, akademikus en literêre kritikus, vir Asindeton; Bibi Slippers, digter en joernalis, vir Soekenjin; en Herman Wasserman, professor en voorsitter van die US se Departement Joernalistiek en direkteur van die Sentrum vir Inligtingsintegriteit in Afrika, vir Waterman.
Die Markus Viljoenmedalje vir Joernalistiek is toegeken aan Michélle van Breda, redakteur van SARIE. Dié prys word driejaarliks toegeken vir langdurige, hoogstaande werk in Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante, tydskrifte, televisie of radio.
Michélle, reeds ’n kwarteeu lank redakteur van SARIE, het die ikoniese tydskrif tot ’n dinamiese, multidimensionele handelsmerk ontwikkel en as kulturele anker vir Afrikaanse vroue gevestig. As gesoute joernalis met ’n loopbaan wat in 1981 by Die Burger begin het, het sy deurgaans erkenning verwerf vir haar vernuf, visie en leierskap.
Die derde Matie aan wie ’n prys toegeken is, is die veteraanjoernalis Bun Booyens.
Hy ontvang die LW Hiemstraprys vir Niefiksie vir Troep: die dinge wat hulle saamdra.
Die toekenning van hierdie prys word sedert 2001 driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksiewerk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie. Boeke wat in die vorige drie kalenderjare gepubliseer is, kom in aanmerking vir die prys.
Die pryse word op 2 Oktober 2026 tydens ’n bekroningsplegtigheid in Pretoria aan die wenners oorhandig.