
Die nuut ingehuldigde Rektor en Visekanselier, prof. Deresh Ramjugernath, het deelgeneem aan 'n optog deur die dorp om die prestige-geleentheid te vier.
'n Vreugdevolle viering gevul met seëninge vir US se 13de Rektor en Visekanselier
- Die informele viering van die inhuldiging van die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, het op 'n feestelike noot afgeskop met 'n uitbundige optog deur die dorp onder leiding van die VGK Cloetesville-brigade.
- vriende, familie, akademiese eweknieë in hulle formele akademiese drag, studente en weldoeners – met talle wat Matie-maroenvlaggies geswaai het – in pas met die man gestap het wat oomblikke tevore sy visie gedeel het dat die US Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit in diens van die samelewing sal word.
- Daar was 'n wye verskeidenheid musiek- en dansvertonings om by die feestelikheid van die geleentheid te pas.
Die informele viering van die inhuldiging van die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, het op 'n feestelike noot afgeskop met 'n uitbundige optog deur die dorp onder leiding van die VGK Cloetesville-brigade.
Selfs die dreigende lentereën kon nie die gees demp nie terwyl vriende, familie, akademiese eweknieë in hulle formele akademiese drag, studente en weldoeners – met talle wat Matie-maroenvlaggies geswaai het – in pas met die man gestap het wat oomblikke tevore sy visie gedeel het dat die US Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit in diens van die samelewing sal word.
Hoewel die sluise van die hemel oopgegaan het kort na die gaste se aankoms by die Coetzenburg-stadion, het dit nie die jubelende gehoor afgeskrik nie. Daar was 'n wye verskeidenheid musiek- en dansvertonings om by die feestelikheid van die geleentheid te pas. Twee jeuggroepe, Jamestown Sounds Choir en Dance for All, het “When You Believe” deur Mariah Carey en Whitney Houston opgevoer. Hulle het ook met 'n Miriam Makeba-keurspel bekoor. Later het US Acapella – 'n musikale medewerking tussen Huis ten Bosch, Aurora en Simoncapella van die Simonsberg-manskoshuis – gaste met hulle lewendige vertolkings vermaak.
Die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Sibusiso Moyo, het in haar verwelkoming die reën 'n "seën" op die dag genoem. "Hierdie viering gaan oor ons almal," het sy bygevoeg met verwysing na die Rektor se vroeëre toespraak waarin hy sy verbintenis tot personeel, studente en alumni uitgespreek het.
Jeremy Fasser, die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, het Ramjugernath se inhuldiging as 'n "betekenisvolle en simboliese oomblik in die lewe van hierdie groot instelling, en inderdaad in die lewe van ons dorp" beskryf. Hy het die dorp-en-toga-vennootskap geprys en opgemerk dat "wanneer ons saamwerk, ons nie net uitdagings oplos nie, maar ook geleenthede skep om lewens te verander".
'n Paar woorde deur dr Rudi Kimmie, 'n goeie vriend van Ramjugernath, het vir 'n persoonlike oomblik in die program gesorg. Roceshia Februarie, die 2025-voorsitter van die Studenteraad, het na Ramjugernath as 'n "diep menslike" en toeganklike leier verwys wat "ons ontmoet waar ons is" wanneer hy by studenteverwante kwessies betrokke raak. "Nou kan ons sê dat ons u ook sien. Dankie dat u opgedaag het, selfs nog voordat u ons Rektor en Visekanselier geword het."
Nadine Moosa, ondervoorsitter van die US Raad, het 'n geraamde legkaart wat voor die inhuldiging deur gaste gebou is, aan Ramjugernath oorhandig. Dit bevat beelde van die Universiteit, dorp, navorsing, studentelewe en selfs die Rektor se geliefde gesinshond, Pal. “Dit is 'n geskenk wat die gees van 'Bou saam aan môre' beliggaam en herinner ons daaraan dat u visie nie net u s’n is nie, maar een is wat ons almal deel en saam bou."
Sy het bygevoeg die beelde sluit die nommer 13 – toevallig Ramjugernath se gunstelingnommer – in as 'n "huldeblyk aan u plek in ons geskiedenis en u geloof in die krag van transformasie".
Met die formaliteite agter die rug, het Ramjugernath ontspanne gelyk en vertel die optog na die Coetzenburg-stadion het hom aan die Droomoptog aan die begin van elke akademiese jaar herinner. Hy het gesê hy beplan ook om die voorbeeld van die studente wat hulle drome teen die bome langs Victoriastraat vaspen, te volg deur 'n nota oor sy planne vir die US by te voeg. Ramjugernath het sy visie herhaal dat die US as 'n instelling tot uitnemendheid verbind is wat 'n impak in diens van die samelewing het en gesê: "Ons wil hê die US moet die wêreld verander."
Die feesvieringe is met musiek deur die Maties Jazz Society, 'n versameling huidige en voormalige jazz-studente van die US se Departement Musiek, afgesluit. 'n Spesiale gas, die Suid-Afrikaanse jazzlegende Leslie Kleinsmith, het by hulle aangesluit.
Laatmiddag, terwyl gaste nog gesellig saamgekuier en 'n paar sonstrale deur die grys wolke gebreek het, het die US se nuwe Rektor en Visekanselier vertrek terwyl hy diep in gesprek was sy vrou, Prathieka, wat, soos hy vroeër opgemerk het, "my nederig hou, my voete op die grond en dankbaar hou vir die seëninge in my lewe".