Maretha Joyce
Maretha Joyce die stille krag agter die US se leierskap
- #DagInDieLewe
- As 'n toonaangewende hoëronderwys- en navorsingsinstelling in Suid-Afrika is ons trots op ons diverse en talentvolle span van meer as 4 000 voltydse personeel – akademici, navorsers en professionele administratiewe steundienste-personeel – wat saamwerk om 'n omgewing te skep waar navorsing, kreatiwiteit en transformasie floreer. Met ons jaarlikse #DagInDieLewe-veldtog in Mei deel ons die stories van personeel aan die Universiteit Stellenbosh (SU) wat 'n deurslaggewende rol speel in die impak van die instelling.
Maretha Joyce is as Uitvoerende Assistent vir die Rektor en Visekanselier die bestendige hand agter een van die Universiteit se mees dinamiese kantore, en bied struktuur, diskresie en versiendheid aan 'n rol wat deur konstante beweging gedefinieer word. Met meer as twee dekades se ondervinding by die US en 'n persoonlike groeikurwe – sy het onder meer haar graad verwerf terwyl sy voltyds gewerk het – bied sy 'n kykie in die presisie, veerkragtigheid en doelgerigtheid wat die instelling se leierskap seepglad laat verloop.
Wat behels jou rol by die US?
As Uitvoerende Assistent vir die Rektor en Visekanselier beskryf ek my rol dikwels as die bestendige hand agter ’n baie dinamiese kantoor. My werk gaan daaroor om struktuur te gee in ’n omgewing waar dinge voortdurend verander Daar is ’n ingewikkelde skedule om te bestuur, geleenthede wat gekoördineer moet word en ek moet seker maak dat kommunikasie vlot verloop. Ek ondersteun die Rektor sodat hy op die groter prentjie kan fokus, terwyl ek na die detail agter die skerms omsien. Die rol vereis vertroue, diskresie en die vermoë om vooruit te dink.
Hoe lyk ’n tipiese dag by die werk?
My dag begin gewoonlik deur die Rektor se program te hersien en seker te maak alles is gereed vir wat voorlê. Van daar af ontvou die dag dikwels op onvoorspelbare maniere. Een oomblik koördineer ek ’n belangrike vergadering, en die volgende hanteer ek dringende versoeke of veranderings wat op die nippertjie gedoen moet word. Daar is ’n konstante vloei van e-posse, oproepe en interaksie met kollegas binne en buite die Universiteit. Wat ek oor tyd leer waardeer het, is die ritme van die dag. Dit is besig en soms veeleisend, maar altyd doelgerig. Aan die einde van die dag is daar ’n gevoel van tevredenheid wanneer alles afgeloop het soos dit moes.
Hoe het jou akademiese opleiding of vorige ervaring jou vir hierdie werk voorberei?
My pad by die Universiteit Stellenbosch het in 2002 begin, en oor die jare het ek die geleentheid gehad om in verskillende rolle te groei. Elke pos het my begrip uitgebrei van hoe die Universiteit funksioneer en hoe om doeltreffend met mense saam te werk. Ek het later in my loopbaan om verder te studeer en in 2021 ’n BA-honneursgraad voltooi. Dit was nie altyd maklik om my werk en studie te balanseer nie, maar dit het my kommunikasievaardighede, dissipline en aandag aan detail verder uitgebrei. Vaardighede wat noodsaaklik is in my huidige rol. Ek het ’n kronkelpad tot hier gestap, maar dit het my die waarde van deursettingsvermoë en lewenslange leer geleer.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Wat ek die meeste geniet, is om deel te wees van iets groter as myself. Ek sien vanuit my posisie hoe besluite gevorm word en hoe dit uiteindelik ’n impak op studente, personeel en die breër gemeenskap het. Ek waardeer ook die verhoudings wat ek oor die jare opgebou het. Om saam met mense te werk wat passievol is oor hulle werk en ’n verskil wil maak, is vir my baie motiverend en inspirerend.
Vertel ons iets ongewoons oor jouself wat min mense sou verwag.
Baie mense is verbaas om te hoor dat ek eers later in my lewe my graad voltooi het. Om my BA-honneursgraad in Vertaling te behaal terwyl ek voltyds gewerk het, was uitdagend maar ongelooflik lonend. My gradeplegtigheid in April 2022 was ’n besonderse en trotse mylpaal. Dit het my oortuiging versterk dat dit nooit te laat is om in jouself te belê en nuwe uitdagings aan te pak nie. ’n Ingesteldheid wat ek nog steeds toepas.