Skip to main content
A photo of Maggie Walters
Image by: Stefan Els

Maggie Walters

Impak Institusionele nuus

Maggie Walters help ontwerp ruimtes waar akademiese uitmuntendheid kan floreer

Korporatiewe Kommunikasie
07 Mei 2026
  • #DagInDieLewe-veldtog
  • As 'n toonaangewende hoëronderwys- en navorsingsinstelling in Suid-Afrika is ons trots op ons diverse en talentvolle span voltydse personeel – akademici, navorsers en professionele administratiewe steundienste-personeel – wat saamwerk om 'n omgewing te skep waar navorsing, kreatiwiteit en transformasie floreer. Met ons jaarlikse #DagInDieLewe-veldtog in Mei deel ons die stories van personeel aan die Universiteit Stellenbosh (SU) wat 'n deurslaggewende rol speel in die impak van die instelling.

Maggie Walters help om op die kruispunt van strategie, ontwerp en daaglikse kampuslewe die ruimtes te vorm waar leer en navorsing plaasvind. Van die bestuur van komplekse ruimtelike uitdagings tot die waarneming van die subtiele maniere waarop mense deur geboue beweeg, toon haar werk hoe deurdagte ontwerp verbintenis, aanpasbaarheid en 'n gevoel van tuishoort oor die US se immerontwikkelende kampus moontlik kan maak.

Wat behels jou rol by die US?

My rol as Bestuurder: Ontwikkelingsbestuur en Ontwerp by die US se Kampusontwikkeling, Infrastruktuur en Dienste (KOID) gaan daaroor om te help om die ruimtes waar die akademiese lewe plaasvind, te vorm. Ek werk waar strategie, ontwerp en lewering mekaar ontmoet, en sit die Universiteit se visie en akademiese doelwitte om in fisiese omgewings wat leer, onderrig, navorsing en die alledaagse kampuslewe ondersteun.

Probleemoplossing, dikwels in komplekse en beperkte kontekste, maak 'n groot deel van die rol uit. Dit kan beteken om 'n balans tussen teenstrydige behoeftes te vind, binne bestaande geboue te werk, of om kreatiewe maniere te vind om met beperkte hulpbronne te werk terwyl jy steeds langtermyndoelwitte bereik. Ek is by nuwe projekte én die deurlopende evolusie van bestaande ruimtes betrokke, en vra voortdurend hoe geboue gebruik word, hoe daardie behoeftes verander, en hoe ons bedagsaam en prakties daarop kan reageer. Ek en my span poog ons om beplanningsbesluite te neem wat realisties, aanpasbaar is en met wyer Universiteitsprioriteite soos volhoubaarheid, erfenis, toeganklikheid en langtermyn-rentmeesterskap strook. Op die ou einde gaan dit daaroor om te verseker dat die geboude omgewing stilweg die werk wat die Universiteit moet doen, ondersteun.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk? 

Daar is nie eintlik so iets soos 'n tipiese dag nie, en ek geniet regtig van daardie verskeidenheid. 'n Dag kan met 'n terreinbesoek begin waar jy deur 'n gebou stap en waarneem waar ruimtes goed werk en waar daar uitdagings is. Van daar af kan dit die hersiening van tekeninge, data, opdragte of haalbaarheidstudies insluit, en dan oorskakel na hoërvlakbesprekings oor die toekomstige ontwikkeling van die kampus en hoe ruimtelike besluite institusionele doelwitte kan bevorder.

Daar is nie regtig so iets soos 'n tipiese dag nie, en daardie verskeidenheid is iets waarvan ek regtig hou. 'n Dag kan begin met 'n terreinbesoek, waar jy deur 'n gebou stap en waarneem waar ruimtes goed werk en waar uitdagings na vore kom. Van daar af kan dit behels dat tekeninge, data, opdragte of haalbaarheidsstudies bestudeer en hersien word, en dan oorgeskakel word na hoërvlakbesprekings oor die toekomstige ontwikkeling van die kampus en hoe ruimtelike besluite institusionele doelwitte kan bevorder.

'n Groot deel van my dag fokus op probleemoplossing deur gesprekke. Dit sluit in om behoeftes te bepaal en te identifiseer, beperkings te bestuur, opsies te toets en saam te werk om doeltreffende kort- én langtermynoplossings te vind. Sommige dae moet ek baie op detail fokus en kwessies soos uitleg, toegang of koördinering hanteer. Ander is meer strategies en is ek by breër ontwikkelingsraamwerke en institusionele prioriteite betrokke. Ongeag die skaal, bly die werk mensegefokus en geanker in hoe ruimtes werklik gebruik en ervaar word.

Hoe het jou opleiding of vorige ondervinding jou vir hierdie werk voorberei? 

My agtergrond in argitektuur en ontwerp het 'n blywende invloed gehad op hoe ek dink, lei en komplekse uitdagings benader. Opleiding in ontwerp leer jou om stelsels eerder as geïsoleerde dele te sien. Dit help jou om te verstaan hoe individuele besluite die groter prentjie beïnvloed en hoe langtermyn-uitkomste deur baie onderling verweefde keuses gevorm word. Dit maak jou ook gemaklik met onsekerheid en verandering, moedig nuuskierigheid aan, toets idees en help jou om jou koers aan te pas namate jy leer, eerder as om vinnige of te netjiese oplossings na te jaag. Wat net so belangrik is, is dat dit die begrip verdiep dat die omgewings wat ons skep, aktief bepaal hoe mense optree, ervaar en betrokke raak.

Ek het deur die loop van my loopbaan in omgewings gewerk waar verskeie perspektiewe bymekaar uitgebring moes word – dikwels met mededingende prioriteite en onvolledige inligting. Daardie ervarings het my gehelp om 'n leierskapstyl te ontwikkel wat samewerkend maar beslis is, asook om sorgvuldig te luister, die vrae te vra en spanne na oplossings te lei wat prakties én oorwoë was. In 'n universiteitskonteks, waar akademiese waardes, bedryfsrealiteite en langtermynbeplanning daagliks kruis, is daardie vaardighede noodsaaklik om verandering te navigeer en betekenisvolle, volhoubare ontwikkeling te ondersteun.

Wat geniet jy die meeste aan jou rol en werk by SU? 

Ek geniet die gevoel van doelgerigtheid wat deel is van werk in 'n universiteitsomgewing. Universiteite is plekke van weetgierigheid, groei en moontlikhede, en dit is betekenisvol om by die vorming van ruimtes betrokke te wees wat daardie waardes ondersteun. 'n Groot deel van ons werk fokus daarop om leiding te bied en saam met ander te werk om ruimtelike uitdagings te deurdink. Al word ons leiding nie altyd op die ou einde gevolg nie, benader ons die werk in 'n samewerkende gees en poog ons om waar moontlik waarde tot besluite toe te voeg. Dikwels strek die impak van hierdie insette veel verder as net 'n enkele projek, en bepaal dit hoe studente en personeel die kampus ervaar en oor tyd verbintenisse met mekaar vorm.

Die US bied 'n besonder ryk en dinamiese konteks. Die kampus het 'n sterk identiteit en geskiedenis, maar terselfdertyd is daar die voortdurende behoefte om by nuwe maniere van onderrig, leer en werk aan te pas. Ek waardeer regtig die samewerkende kultuur by die US, asook die gedeelde begrip dat konstruktiewe betrokkenheid rondom ruimte, selfs wanneer sienings verskil, 'n sleutelrol in die akademiese lewe, welstand en die kweek van 'n gevoel van tuishoort speel.

Vertel vir ons iets oor jouself wat min mense sou verwag. 

Ek altyd stilweg besig om op te let hoe mense ruimtes gebruik, waar beweging moeiteloos voel, en waar daar klein oomblikke van frustrasie na vore kom. Ek let op die dinge wat die meeste mense instinktief navigeer, hoe 'n gang mense se pas stadiger maak, waar gesprekke natuurlik plaasvind, of waar 'n ruimte eenvoudig net nie mense uitnooi om tyd daar te verwyl nie.

Daardie waarnemingsgewoonte het deel geword van hoe ek die wêreld verstaan. Dit bepaal hoe ek oor beplanning dink – nie as 'n abstrakte oefening nie, maar as iets wat in geleefde ervaring geanker is. Dit herinner my daaraan dat die doeltreffendste omgewings dikwels dié is wat stilweg in die agtergrond werk deur mense te ondersteun en die komplekse, alledaagse lewe van 'n universiteit maklik te laat ontvou.

Merkers

Personeel

Verwante stories